Kook saam Kaaps ‘n triomf vir die werkersklas

April 24, 2016 in Uncategorized

x by 16 04 a“Kan jy glo wat ons op ons ouderdom nog reggekry het? Dís wat ons vir die kinders in die straat wil wys. Dit maak nie saak hoe jy begin nie, maar liewers hoe jy klaarmaak.” So sê Flori Schrikker, een van die medeskrywers van Kook saam Kaaps.

Tannie Flori Schrikker en Tannie Koelsoem Kamalie is deesdae oral in aanvraag. Ek is bevoorreg om deel van hulle bemarkingspan te wees en elke liewe week is daar verskeie navrae vir onderhoude, uittreksels en artikels.

Die nuutste onderhoud wat verskyn het, is Anika Marais se dubbelblad in die By.

x by 16 04 b

Anika is ’n fyn mens en sy kry dit reg om die konteks van die boek te verduidelik. Bonteheuwel, of dan Bontas soos dit onder die inwoners bekend is, se komvandaan is die gedwonge verskuiwings onder apartheid. Mense is eenvoudig in lorries gelaai en weer op die Kaapse vlakte afgelaai. Die oorlewingstryd van werkersklasmense het van toe af net moeiliker geword.

Ons ken nie meer die Afrikaans van die werkersklas nie, want ons is te bang om met ons gesinsmotors te gaan kuier. Joernaliste soos Anika Marais en Hanli Retief, TV-programme se Kwêla en die talle ander mense wat moeite doen om die twee formidabele vroue van Bontheuwel ’n stem te gee, maak ons almal ’n bietjie ryker. Moenie van Amore en RSG se bydraes vergeet nie.

Professor Farid Esack se Johan Combrink-gedenklesing vertel ook iets van die Bonteheuwel en van Afrikaans.

Suid-Afrika is mos nou lekker in die reënboognasie en almal van ons het ’n paar vriende wat oor die kleurgrens heen saam kan mengeldrankies drink sodat ons Malema van die deur kan weghou. Hoeveel van ons het egter kontak met ware armoede? Ons sit ons huise van 200 vierkantmeter of meer, ry met een van twee gesinsmotors na vriende en is trots op ons kinders wat in een van die slegs drie persent van alle skole is wat op top vlak funksioneer. Dan voel ons middelklas, want ons het ’n privaatstraler nie.

Bevoorregting het ons vermoë om armoede raak te sien, heeltemal verfomfaai.

Die twee tannies het arm grootgeword en woon steeds in die Bonteheuwel. Hulle is reeds meer bevoorreg as van die ander om hulle, en weet dit. Vandaar die kos wat aan diegene uitgedeel word wat nie het nie.

Ek voel altyd klein as ek hoor wat hierdie twee tannies doen vir die gemeenskap. Ek hol marathons sonder skoene, gee geld vir verskeie instansies en doen wat ek dink ’n verskil kan maak. Relatief tot my inkomste gee hulle veel meer.

Alles het vir die tannies begin verander toe tannie Koelsoem se seun, Riaz, vir Amore Bekker gebel het en haar van sy ma se resepte vertel het. Amore het tannie Koelsoem op die lug gesit, daarna ook vir tannie Flori.

Japie Gouws, uitvoerende direkteur van die ATKV-Groep, het besef watter waarde dit sou hê om hulle resepte te bewaar en hy het opdrag gegee dat hulle boek moet verskyn. (Lees hier hoe Gouws dit by geleentheid verwoord het.)

Dit is wonderlik dat Suid-Afrika so positief is oor Kook saam Kaaps. Die boek was al twee keer in die top 10 van Nielsens se lys van niefiksie-verkope landswyd (die tannies ding mee met internasionale skrywers soos Jamie Oliver om op die lys te verskyn). Verlede week het hulle selfs beter verkoop as Tim Noakes.

Vir my is die grootste plus van hierdie boek dat daar skielik stem gegee word aan die Afrikaans en die leefwêreld van die Bonteheuwel.

Afrikaans in die Bontehuewel is anders as die hoitie-toitie taal wat ons praat. Ek was bevoorreg om die ander dag taxi dag te speel vir Hans du Plessis én die twee tannies. Hans, wat ’n taalkundige is, beweer dat Afrikaans se komvandaan uit werkersklas is. (’n Artikel daaroor sal binnekort verskyn.) Die sogenaamde standaard waaraan ons vashou is later deur die elite gekaap om te bewys dat Afrikaners van Nederlandse afkoms is, en die taal moes dus uit Nederlandse monde omvorm word vir hierdie siening om te slaag.

Die ware feite is dat Afrikaans gepraat is deur die werkers, eeue voor die elite dit erken het. Ook is bitter min van ons van ware Nederlandse afkoms. Ons voorouers het nie kleur geken toe hulle die land bevolk het nie.

’n Boek soos Kook saam Kaaps en die Afrikaans van tannies Flori en Koelsoem wys ons skielik weer wat ons verloor het deur agter heinings terug te trek.

9780799375039

Kook saam Kaaps is deur LAPA uitgegee.

* * *

Elsa Joubert se boek, Die Swerfjare van Poppie Nongena, het jare gelede ook probeer stem gee aan die werkersklas wat Afrikaans praat. Dit bly steeds ’n boek wat alle Suid-Afrikaners moet lees en is destyds deur Tafelberg uitgegee. Joubert het dit self vertaal na The long Journey of Poppie Nongena.

My niggie, Marinda van Zyl, se boek Wilhelmina Radebe kom tuis doen iets soortgelyk. Dit is oor en oor die moeite werd. LAPA het dit uitgegee. Einste Marinda het nou verder gedelf in die geskiedenis en het Amraal geskryf. Dit het by Tafelberg verskyn.

* * *

Cass Abrahams en Marike Bekker se fantastiese boek ’n Lewe met kos moet ook op alle Suid-Afrikaners se boekrakke staan.

Cass kon oor die jare heen lansies breek vir swart Suid-Afrikaners in ’n tyd toe die taal en die meesternarratief net gewoon wit was. ’n Lewe met kos is ’n wonderlike boek, maar Cass sê self dat sy nog altyd vanuit ’n posisie van relatiewe bevoorregting kon werk. Dat sy haar posisie gebruik het om haar gemeenskap ter wille te wees is nie altemit nie.

9780799374674

’n Lewe met kos is ’n kleinood en is ook in Engels beskikbaar as A life with food. Beide is deur LAPA uitgegee.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *