Katoog

April 15, 2016 in Uncategorized

16 04 09 katoog0274

Jeanette Stals se Katoog is op Saterdag 9 April by die Protea Boekwinkel op Stellenbosch bekendgestel.

Katoog, uitgegee deur LAPA Uitgewers, is ’n speurverhaal wat afspeel in Stellenbosch. Ek het lanklaas ’n boek gelees wat so fyn kyk na armoede.

*

Roseville is een van Stellenbosch se arm woonbuurte. Luna ry soos kaptein Bruwer beduie het tot sy die twee polisiemotors onder populierbome geparkeer sien.

16 04 09 katoog0275

Hier is die skrywer.

*

Luna huiwer. Met die Plaaslike Kriminelerekordsentrum nog op pad, durf sy nie die misdaadtoneel met voetspore of wat ook al opdons as die forensiese ondersoek nog nie gedoen is nie.

“Dis stroomop, daar’s nie ’n manier wat sy van hier af soontoe gedra is nie,” regverdig Bruwer sy opdrag. “Kyk net vinnig, die posisie van die lyk en ander basics.”

Niemand stry met kaptein Bruwer nie, so waarom sal sy?

16 04 09 katoog0277

Protea se rakke is altyd verleidelik.

*

Toe sien sy ’n wit hand met rooi naels onder die oorhangende bosse. Die vingers dryf dun en weerloos op die water.

16 04 09 katoog0279

Jeanette se kleinseun het vir ouma ’n bos rose gebring.

16 04 09 katoog0284

Haar kleindogter was daar om vir ouma ’n drukkie te gee voor die tyd.

16 04 09 katoog0289

Jeannette se man, Jan, staan links agter. Hier is hulle saam met hulle seun, skoondogter en kleinkinders.

16 04 09 katoog0292

Die skrywer, Martie Muller, was ook by die geleentheid.

*

Luna klouter terug tot by die mans en merk dat Johan se skoene en broek tot by die knieë nat is. “Hoe lank sou dit al hier wees?” vra sy.

“Meer as ’n dag.” Johan kyk af na sy nat skoene, en sy prominente neus is al wat wys. “Nie meer so vars nie,” voeg hy by.

Hy draai sy rug op haar en kyk na waar ’n voertuig van die PKRS aangery kom. Hulle hou stil en die span klim uit.

Heel voor is kaptein Lategan, of Duimpie, soos sy vriende hom noem. ’n Kort mannetjie met ’n bles en ’n permanente glimlag. Hy dra ’n grys plastiekhouer aan die handvatsel, noem dit sy visvangboks. Wanneer hy eers sy boks oopgemaak het, weet die res om hom met rus te laat. Dit bevat alles wat hy vir sy ondersoek kan nodig kry, sowel as ’n blikkie Coke wat hy tussen twee koelblokke vasgepak het. Dis sy “sigaret” wanneer kollegas ’n blaaskans vat om te rook.

Duimpie groet eers die senior range voor hy na Luna draai vir haar beurt. “Dagsê.”

16 04 09 katoog0294

Die Protea Boekwinkel was gepak.

*

16 04 09 katoog0300

Jeanette se navorsing is puik. Ek was veral positief oor die manier waarop sy polisieprosedures kon beskryf. Hoe was dit moontlik, wou ek weet. Sy het met die plaaslike polisie gaan gesels, sê sy. En sowaar, hier daag een van die speurders op en woon die geleentheid by. Nou weet julle waar Jeanette haar haar kort vrouespeurder, Luna, vandaan kry!

*

Nog ’n voertuig trek ’n ent agter Luna onder die bome in en sy herken die twee mans wat uitklim as polisieduikers. Hulle stap na Bruwer toe en gesels ’n rukkie met hom voor hulle teruggaan na hulle voertuig en hulle duikpakke aantrek. Soos ’n tweeling uit die ruimte, fris gebou en ewe groot, kom hulle weer nader. Die oog van ’n onderwaterkamera hang om een se nek.

“Dis speurder-sersant Joubert,” stel kaptein Bruwer Luna aan die twee bekend. “Sy is die ondersoekbeampte in hierdie saak.”

Die twee mans kyk albei verras na Luna se skraal lyf en jong gesig. Knik net vinnig toe sy hulle reguit in die oë kyk.

16 04 09 katoog0301

 

16 04 09 katoog0310

Ná die tyd het Jeanette ’n aantal vriende genooi om saam te gaan eet. Sy het my gevra om te vertel hoekom ek kaalvoet hardloop vir die Durbanville Kinderhuis. Luna is ook ’n kaalpootjie.

*

Luna tree ligvoets van een ronde klip na die ander tot by die plat een. Rubbersole is handig maar kaalvoet sou beter gewees het. Dis waarin sy tuis voel, soos ook in gemaklike langbroeke.

*

Katoog is uitgegee deur LAPA Uitgewers. Die aanhalings kom uit die teks.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *