Die meisie op die dak

February 7, 2016 in Uncategorized

9780799377248Hoe moet jy die ander kinders in die oë kyk as jou pa behoorlik opgefoeter het? Soos in, so erg, die koerante het dit vir almal vertel?

Nou bly jy en jou ma in hierdie goor huis in ’n goor buurt. Jy was gewoond aan die beste. Julle vorige huis het vyf slaapkamers gehad, elkeen met ’n eie badkamer. Hierdie huis het presies een badkamer en die mat in die voorste kamer lyk asof iemand daar selfmoord gepleeg het.

Al die skinderbekke by die skool is aan die praat…

*

Net toe Estelle dink die lewe kan werklik nie erger nie, ontmoet sy vir Aiden. Aiden wys haar die sterre. Hulle sien ’n verskietende ster en Aiden laat haar wens.

Hoe wens ’n meisie, wat so amper gesoen is op ’n dak, net een wens? Aiden se teenwoordigheid maak Estelle se hart woes klop en haar kop is só deurmekaar dat sy sommer drié wense wens.

By die skool gaan dit maar moeilik, maar Aiden is daar, ook daar op die dak…

*

Die meisie op die dak is ’n debuut deur Cecilia Steyn. Dit is ’n baie oulike debuut.

LAPA se hoof van kinder- en jeugboeke was baie positief hieroor, so ek het gisteraand, moeg ná ’n padwedloop, die boek gegryp. Baie lekker.

Volgens LAPA is die boek gemik op kinders van dertien en ouer. Dit is egter ’n boek wat ek vir enige leser sal aanbeveel – veral as jy ’n romantiese hart het. Hou net die teikenmark in gedagte. Hierdie kort roman probeer nie slim wees nie, daarom lees dit so lekker. Nie eers ’n moeë lyf en ’n glas bier kon my aan die slaap maak voor ek nie tot die einde gelees het nie.

*

Iets oor ’n verwante boek: Op die internet het talle mense, veral jongeres, addisionele eindes geskryf vir John Green se The fault in our stars. In die alternatiewe eindes vind ’n slim dokter ’n kuur vir kanker – Hazel en Augustus leef dus voort.

Screen-Shot-2014-05-01-at-1.12.34-AM

Hou dit in gedagte wanneer jy die einde van Die meisie op die dak op die dak lees. Nee, daar is niks kanker in hierdie boek nie. Ek verwys egter na die alternatiewe eindes van Green se boek, juis omdat jong lesers sal aanhou glo dat ’n gelukkige einde moontlik moet wees.

Die meisie op die dak se einde is veel makliker as die Green s’n.

LAPA bemark hierdie boek vir mense van dertien en ouer. Ek is dus nie teikenmark nie – my seun is reeds dertien. Tog het ek dit geniet. My gevoel is wel dat mense wat nader aan 53 is, waarskynlik sal dink die einde kom darem té maklik… Wel. Ja. Maar onthou die teikenmark.

Ek wil egter ook noem: Selfs my skeptiese, ou brein kon geen enkele feitefout kry nie. Ou mense soos ek moet dus ook maar, soos Estelle, glo dat wense kán waar word. Alles is feitelik en regstegnies moontlik, presies soos dit hier staan.

*

Nou vir ’n bietjie skindernuus. LAPA se persverklaring sê die outeur is ’n sussie van Fanie Viljoen. Wil jy nou meer! Nog ’n jeugboekskrywer in die gesin? Genade.

Wel, al is Cecilia familie van Fanie, moet ek sê haar stem is haar eie. Ek het nog nie vir Fanie geskryf nie, maar ek is seker hy is trots op hierdie sib van hom!

*

Die meisie op die dak op die dak word hoog aanbeveel. Volgens die bostelegraaf is Cecilia Steyn binnekort weer op die rakke – NB het haar glo ook ’n aantal kontrakte aangebied.

*

Die meisie op die dak is by goeie boekwinkels te koop. Of dring aan dat jou winkel dit bestel.

Anders kan jy dit direk by LAPA koop. Bel net 012 401 0700 en vra vir die winkel.

*

Hou die naam Cecilia Steyn dop.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *