Offer

January 24, 2016 in Uncategorized

Hierdie blog is Jack Parow se skuld.

Ek het gister ’n baie moeilike wedloop gehardloop en kon daarna tyd met boeke deurbring as deel van die herstelproses. Nou sit vanoggend hier met ’n klomp boeke in my kop en die temas wat deurkom is offer en opoffering.

En, ja. Dis oor Jack Parow met my kop smokkel.

Vlam in die sneeu

Vlam in die sneeu

Die grootste boek van 2015 is waarskynlik die versameling briewe van Ingrid Jonker en André P. Brink, Vlam in die sneeu.

Om tweede en derde plekke toe te ken raak moeiliker, maar Offerlam van Chanette Paul moet baie na aan tweede wees, as dit nie reeds is nie. (Volgens ’n meningspeiling laasjaar op Lekkerleesboekrak was Paul s’n die groot gebeurtenis.)

lekker

En toe kom bespring Jack Parow my. Sy biografie het ook in 2015 verskyn.

Jack Parow deur Theunis Engelbrecht

Jack Parow deur Theunis Engelbrecht

Dankie, Jack Parow

Ek wou eers net oor die kinderhuis skryf, maar toe gryp hierdie sinnetjie van Parow my: “Al het ons nie miljoene gehad nie, het ek as kind die coolste tye van my lewe gehad net omdat ek liefde gehad het van die mense wat vir my omgee.”

Eintlik wou ek tjank. Dis so cool. Dis so reg. En dis so anders as baie ander mense se belewenisse.

 

Op sewentien finaal verwerp

Hier tat behoort aan ’n meisie wat, vandat sy twee jaar oud is, in kinderhuise woon. Eers in Kimberley en toe in die Durbanville Kinderhuis.

 

Haar volle storie volg binnekort

Haar volle storie volg binnekort

Haar ander tats en haar hele storie gaan binnekort verskyn; sy is een van die redes waarom ek met die kinderhuis werk. Hierdie kind is gereeld deur haar ma verwerp. (Ek weet baie van die ma, maar ons het besluit om niks oor haar te publiseer nie.)

Hierdie meisie het alles gedoen om die ma se guns te wen, maar op haar sewentiende verjaarsdag is sy finaal verwerp.

Sien julle die ooreenkomste met Ingrid Jonker en Chanette Paul se Caz Colijn?

Offerlam

Offerlam

Paul se Offerlam was een van die heel beste verkopers verlede jaar, so ’n mens sou hoop dat vele van julle reeds Caz se storie ken. Ek gaan nie spoilers inbou nie, maar dis belangrik dat Caz moet vrede daarmee maak dat sy ook verwerp is. Lees Offerlam. Dit is Paul se beste ooit en in alle opsigte is dit ’n oorrompelende teks.

Maar wat van Jonker?

Dit is bekend dat haar pa haar verwerp het, en tog het sy telkens weer probeer. Op 9 Januarie 1964 skryf sy aan Brink dat sy bitter graag vir haar pa ’n eerste druk van Rook en Oker wou neem, want hy versamel eerste drukke. Haar pa laat weet, per getikte brief, hy is “nie geneë om jou [Ingrid] in ’n kafee of enige ander openbare plek te ontmoet nie.”

Sy was natuurlik plat.

Brink se pa was ook erg stug teenoor hom. Brink se ma het geweet van  Jonker. Sy pa dalk ook, maar het altyd daardie deel van sy seun verwerp.

 

Om te behoort

Die meisie met die tats het ’n ongelooflik eerlike onderhoud aan my toegestaan, en wanneer sy my skryfsels goedgekeur het, sal julle alles kan lees. Daar is foto’s van haar ook. Sy is beeldskoon.

Een van die redes waarom ek probeer help by die Durbanville Kinderhuis, gaan juis oor die feit dat hulle vir kinders geborgenheid gee. Lees asseblief haar storie wanneer dit verskyn. Dit is aangrypend.

bbIMG_3496

Waarom kan alle ouers nie soos cool soos Jack Parrow s’n wees nie?

Maar dan: Ek is self ’n ouer, en dôner, al probeer ek hoe hard, ek weet nie of my seun eendag sulke mooi goed oor my sal sê nie.

 

Verwerping en omgee

Ek is mos maar mal en hardloop deesdae padwedlope sonder skoene, want dit is ’n manier om mense bewus te maak van die Durbanville Kinderhuis.

Die offerande

Die offerande

Ek het gister, al hardlopende, verskeie gesprekke oor die kinderhuis gehad en skielik, net verby die 21km merk, gee ’n onbekende Stellenbosch-atleet vir my ’n R100 noot. Vir die kinderhuis.

Dis die wonder van die mensdom. Net so, al hardlopende wil hy bydra. Soveel mense kry so seer, maar daar is soveel wat omgee.

Jonker en Brink en het heelwat verwerping aanvaar, maar het ook groot mense gehad wat vir hulle omgee. Interessant genoeg was dit NP Van Wyk Louw wat ’n soort mitiese vaderfiguur geword het vir Brink, deels, dalk, omdat Louw, as getroude man, ’n verhouding met die getroude Sheila Cussons gehad het.

“Net ’n bietjie liefde” sing Coenie de Villiers.

 

Snedige resensies

Daar is gereeld verwysings na resensies in Brink en Jonker se briewe. Oor die jare heen het die Afrikaanse letterkunde nie verander nie. Altyd sal daar mindere, onopgeleide lesers wees wat bitter hard probeer om hulle klein mishopies te bevolk. Hulle name word natuurlik krater gemaak deur die geskiedenis, maar hoe hanteer ’n skrywer dit?

Brink skryf, in dieselfde brief waarin hy vertel hoeveel Van Wyk Louw vir hom beteken het, dat daar “snedige resensies oor Orgie” was. Dan vertel hy vir Jonker: “Snaaks, vroeër het so iets my enorm ontstel. Nou niks; glimlag hoogstens. Dis nie uit beterweterigheid nie – net ’n gevoel as ek iets gedoen het wat vir my waaragtig onontbeerlik en eerlik was, dan kan ander nou maar raas soos hulle, ek voel rustig.”

 

Arbeid?

Brink was baie lief vir die N.P. van Wyk Louw bundel Tristia.

Daar is ’n mooi gedig in (sien die foto) wat eindig:

“Ons arbeid maak nie ons harte bly nie;

ons is nog onvoltooide wêreld.”

bbIMG_3514Ons werk dikwels so hard om te probeer behoort. Ons doen dit op verskillende maniere. Ons blog, ons skryf boeke, ons hardloop maratons.

Die meisie met die tat het alles gedoen vir haar ma, maar is verwerp. Sy het vreugde gekry in die Durbanville Kinderhuis.

’n Mens wonder watter vreugde die snedige resensente kry uit hulle gifpenne, veral as die publiek en die kenners se menings so duidelik, eendragtig, anders is.

Die ander vraag is natuurlik maar altyd: Hoekom maak hulle hul name krater met sulke simpel resensies?

Een van die walglikste karakters van 2015 was Caz Colijn se suster – in Offerlam. Lees maar self. Ek wil nie die storie weggee nie, maar as jy die boek lees, sal jy sien dat sy ook bitter hard probeer het om iemand te kry wat haar kon liefhê.

Petrovna Metelerkamp (regs) dink ook Offerlam in Paul se beste.

Petrovna Metelerkamp (regs) dink ook Offerlam is Paul se beste.

Offer

Wat offer ons vir ander?

Wat offer ons van onsself?

En hulle wat ons wil seermaak? Watter erge seer dra hulle in hulle rond? Beide Vlam in die sneeu en Offerlam maak hierdie punt baie duidelik: Mense wat seermaak, het seergekry.

Ek wens alle ouers was soos Jack Parow s’n, maar toe nie. Soms wonder ek of ek tekort skiet in my verhouding met my kinders.

Die R100-noot wat die Stellenbosch atleet gister vir my gegee het, so 5 km voor ons daardie pynlike Red Hill moes uithardloop, het Nelson Mandela se gesig op.

Mandela was nie ’n engel nie, maar uit die jare van opoffering is ’n man gelouter wat kon omgee.

Die kinders by die Durbanville Kinderhuis is nie almal engele nie, maar soveel van hulle keer weer later terug en gee daadwerklik vir ander om.

Kleinlike mense sal seermaak, want hulle soek aanvaarding.

Dis die groot mense wat kan omgee.

Ons is egter almal van ons onvolmaak: “ons is nog onvoltooide wêreld.”

*

Ek vra skaamteloos vir bydraes aan die Kinderhuis. Hier is een manier om, maklik en vinnig, by te dra, klik net die skakel.

bbIMG_3350

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *