Randall Wicomb oorlede

December 27, 2015 in Uncategorized

Randall Wicomb

Randall Wicomb in Oktober vanjaar

Randal Wicomb is klaarblyklik vanoggend, 27 Desember 2015, oorlede. Hierbo is die laaste foto wat ek van hom geneem het, in die ATKV-Boekeoase by Aardklop, in Oktober vanjaar. (Kliek daarop om dit groter te maak.)

Die ATKV het vanoggend ‘n verklaring uitgereik wat ek graag hier deel.

* * *

Die ATKV verneem met leedwese van die afsterwe van Randall Wicomb.

Mnr. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep het gesê: “Sonder Randall Wicomb sou Afrikaans armer gewees het. Randall se werk is deel van die kultuurskat en identiteit van Afrikaans. Hy is ’n ikoon van die Afrikaanse taal en kultuur.”

Randall Wicomb het ongetwyfeld ʼn besondere bydrae tot Afrikaanse taal en kultuur gemaak. Hy het oor die jare ʼn huishoudelike naam geword wat nie net van ons  mees bekende digters se werke getoonset het nie, maar ook diep gedelf het in die volksliedere van vorige geslagte. Sonder hierdie pogings om verskillende fasette van Afrikaans bekend te maak en te behou, sou ons kultuurlandskap veel armer gewees het.

Randall se sangloopbaan het reeds op skool begin, maar dis ná sy blootstelling aan professor Fiasconaro, Gudrun Barella en Philip McLachlan dat hy as tenoor ontwikkel het. Nadat hy vir etlike jare betrokke was by die Stellenbosch Universiteitskoor, stig hy die Rancombs wat die ATKV se Crescendo-toekenning in 1975, 1976 en 1977 ontvang het.

Hierna toonset hy van Adam Small se werke in Hey, smile wit’ me wat gedurende 1979 en 1980 onder andere in die Baxter Teater opgevoer is. Daar moet ook melding gemaak word van sy optrede in Joseph and the amazing technicolour dreamcoat gedurende hierdie tyd. In Oos Wes, Tuis Bes wat beide as CD en as verhoogstuk ongekende sukses bereik het, bring Randall hulde aan Adam Small se besondere bydrae tot ons taal, kultuur en digkuns.

Sy samewerking met professor Pieter Grobbelaar lei daartoe dat meer as 100 episodes van Die volk as digter deur die SAUK uitgesaai word, waartydens bykans 1000 ou Afrikaanse liedjies weer herleef.  Sonder hierdie pogings sou hierdie deel van die Afrikaanse kultuur verlore gegaan het.

Randall het egter nie by slegs ou-Afrikaans betrokke gebly nie. Professor Hans du Plessis se navorsing van die dialekte van die Oranjerivier-Afrikaners  lei tot die merkwaardige versameling (en behoud) van ʼn unieke deel van ons taal. Randall se toonsetting van die Griekwapsalms het verder gehelp om hierdie vorm van die taal nie net aan ʼn breër gehoor bloot te stel nie, maar ook om dit deel te maak van ons identiteit.

Bo en behalwe die toonsetting van gedigte van Leipoldt, Marais en vele ander van ons volksdigters, het Randall se  betrokkenheid met die Afrikaners in Namibië gelei tot etlike optredes in daardie land. Professor Aldo Behrens se verskeie verhoogstukke  (Kalaharikrismis en andere) help om Randall en die Griekwapsalms in ons buurland bekend te maak. ʼn Hoogtepunt was Genadendal, ʼn musiekblyspel gegrond op Ronnie Belcher se digwerk. Die toonsetting en vertolking van hoofrol is natuurlik deur Randall gedoen.

Tydens die bekendstelling van sy biografie, Kleur, op 14 Oktober het die ATKV ’n Oorkonde aan die kunstenaar oorhandig.

Randall Wicomb

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, oorhandig ’n oorkonde aan Randall Wicomb op 14 Oktober 2015. (Foto verskaf deur die ATKV, kliek om te vergroot.)

2 responses to Randall Wicomb oorlede

  1. Ek wil net verneem of die groepie wat Randall gestig het in die 70’s, die Rancombs, ooit plate vrygestel het, kommersieel of transkripsie. Ek self het eers van Randall bewus geword met die uitreiking van Kleur. Edwill van Aarde het dit in die laat 70’s op sy program, Afrikaanse Treffers gespeel. En ja, voorwaar sou ons musiekskatkis ‘n hele paar juwele “missing” gewees het sonder Randall se bydrae. Baie dankie.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *