Immer wes en die leë stoele

November 15, 2015 in Uncategorized

b_MG_2512

Fiksie het ‘n vreemde manier om ‘n mens aan die werklikheid bloot te stel. Op 14 November 2015 is Irma Joubert se Immer wes by die Protea Boekwinkel in Stellenbosch bekendgestel, ure ná die aanvalle op Parys.

Irma se optrede in Stellenbosch is maande voor die tyd beplan en Jan-Jan Joubert, die politieke joernalis, sou die vrae stel. Jan-Jan is Irma se seun.

Jan-Jan werk egter vir die Sunday Times. Gewoonlik is die koerant se hoofberigte kant en klaar teen Vrydagmiddag. Met die aanvalle op Parys moes alles van voor af beplan word vir Sondag se koerant.

Jan-Jan is vroegoggend na Stellenbosch waar hy aanvanklik by die boekwinkel gesit en werk het, maar, soos die gebeure ontvou en die gebrek aan kommunikasie duidelik geword het, moes hy terug kantoor toe voor die praatjie. (Telefoonlyne, internetkabels en SMS-netwerke is erg geaffekteer deur die gebeure.)

*

Intussen het ‘n ander klein drama sigself afgespeel. Naomi Bruwer, LitNet se Senior Inhoudsbestuurder, het enkele ure voor die aanvalle in Parys aangekom.

Natuurlik wou ons weet of sy deur die gebeure geraak is, maar met die gebrek aan kommunikasie, het ons eers ná Saterdagoggend ná 09:00 ‘n boodskap gekry dat sy veilig is, maar graag uit die stad wou wegkom.

Parys natuurlik was steeds onder beleg.

*

So beland ons Saterdagoggend by die boekwinkel. Jan-Jan moes reeds vertrek en Irma het besluit om op haar eie te praat. Sy is immers ‘n onnie en weet hoe om mense uit haar hand te laat eet.

Met Irma se toestemming het ons die leë stoel, Jan-Jan s’n, behou. Ek het langs die stoel gestaan terwyl ek vir Irma voorgestel het.

By PEN Internasionaal is die leë stoel gewoonlik ‘n simbool van ‘n joernalis of skrywer wat in die tronk is weens hulle skryfwerk, lees meer hier.

Feit en fiksie?

Ons kon Jan-Jan, die afwesige joernalis, en Naomi se teenwoordigheid in ‘n stad onder beleg, direk met die boek laat praat. Daar is baie voorbeelde in Immer wes van mense wat uit ‘n stad moet vlug weens ‘n oorlog. Die rol van die media kom ook sterk onder die loep in hierdie roman.

b_MG_2503

Irma het gestaan en praat, die twee leë stoele waar die sprekers altyd sit in die Protea Boekwinkel, agter haar.

*

Daar is die vorige aand ‘n baie vroliker bekendstelling van Immer wes gehou, net voor die bomme ontplof het. Lees meer hier.

Ek het toevallig vroeër die week, lank voor die bomme, ook aangedui hoeveel die boek ‘n mens kan help om die werklikheid te verstaan. Die het te doen gehad met die sluit van vrede op 11 November. Lees meer hier.

0 responses to Immer wes en die leë stoele

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 trackback