REEKS: Ek lees self

November 11, 2015 in Uncategorized

’n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee! Boonop dink ek ’n boek as Kersgeskenk is ’n baie goeie idee. Hierdie reeks is die perfekte wegspringplek vir beginnerlesers. Ek het ’n jong meisie, wat Afrikaans as derde taal praat, gevra om vir my ’n stukkie voor te lees. Luister maar self.

Wendy Maartens is besig om vandag te doen wat Pieter W. Grobbelaar destyds gedoen het. Sy versamel ou stories en herverpak hulle vir die moderne kind. Ouers sal dus die verhale ken. Die jongspan kan ontdek wat gebeur as Skilpad op ’n dag besluit hy wil vlieg, hulle sal lekker lag vir Hasie se slim plan om Olifant en Seekoei te laat toutrek, en ontdek wat gebeur as Wolf op ’n dag skaap-klere aantrek.

Daar is ses boekies in die reeks. Hulle kos R39,99 elk, en is ryklik geïllustreer en uitgegee deur LAPA Uitgewers.

Elke boek bevat ook nuttige wenke wat ouers kan help om die jongklomp se leeslus aan te wakker.

Screen Shot 2015-11-11 at 17.09.47

Ek lees self: skilpad leer vlieg (ISBN: 978 0 7993 7293 9)

Ek lees self: plaasmuis en stadsmuis (ISBN: 978 0 7993 7294 6)

Ek lees self: haas en skilpad hardloop resies (ISBN: 978 0 7993 7385 1)

Ek lees self: wolf dra skaapsklere (ISBN: 978 0 7993 7386 8)

Ek lees self: seekoei en olifant trek tou (ISBN: 978 0 7993 7387 5)

Ek lees self: jakkals en kraai en die stuk kaas (ISBN: 978 0 7993 7388 2)

Oor die skrywer

Wendy Maartens het grootgeword op Worcester, waarna sy op George skoolgegaan en gematrikuleer het. Sy woon tans op Melkbosstrand. Sy put vreugde uit die klein dinge in die lewe en is ontsettend dankbaar vir haar vriende en familie. Sy is die skrywer en samesteller van boeke soos Lena se bottelboom, ’n Ster met strepe, Sprokies en ander gunsteling-stories, Die mooiste dierestories, Eendag op ’n reëndag, My eerste atlas: ’n wêreld-atlas vol asemrowende feite, Vertel vir my’n storie en Siembamba: Immergroen rympies vir kinders.

Oor die illustreerder

Nicolene Louw het grafiese ontwerp aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en later haar meestersgraad in illustrasie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Nicolene woon tans in Pretoria waar sy klasgee en werk as ’n vryskutillustreerder, ontwerper en beeldende kunstenaar. Haar primêre belangstelling is narratiewe illustrasie en die vertel van outentieke stories deur middel van illustrasies en strokiesprente. In 2008 het sy die Scenario-prys by die Internasionale Fumetto-strokiesprentfees in Lucern, Switserland, gewen. Haar werk word gereeld plaaslik en oorsee gepubliseer en uitgestal.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *