Kaptein Seeley, Kimberley se waterwoef

November 11, 2015 in Uncategorized

Skenk ‘n boek vir Kersfees, dit kan ‘n lewenslange liefde vir lees tot gevolg hê.

seeley

Een van die hartsnaarboeke wat my onlangs bereik het, is Kaptein Seeley, Kimberley se waterwoef.

 

Agtergrond

Ongeveer twee jaar gelede het ‘n hond in die Groot Gat by Kimberley geval. Niemand is sekere hoe dit gebeur het, of wanneer dit gebeur het nie, maar kenners meen die hond het moontlik ‘n dassie probeer jag, gegly en afgestort.

Vir dae het die die hond daar geswem en die hele Suid-Afrika het asem opgehou. Uiteindelik het AO John Seeley twee keer geabseil, lank met die hond gesels en toe, uiteindelik, hond en al, die terugtog van meer as 200 m aangepak.

As jy wil weet hoe moeilik hierdie poging was, dink hoe dit sou voel om met toue teen ‘n gebou van vyftig verdiepings af te sak, ‘n hond op te tel en weer 50 verdiepings op te klim.

 

Die boek

Dit was byna onvermydelik dat iemand ‘n boek sou skryf oor die voorval en wie dan nou beter as Wendy Maartens?

Wendy is vir skrywers wat John Seeley is vir abseilers… Die een wat aanhou en aanhou, al is die taak hoe groot.

Sy beskik boonop oor ‘n baie goeie kennis van kinderlektuur.

 

Die storie

Die storie word uit die hond se oogpunt vertel. In plaas van dassies jag (hoe sal ons nou weet), soek die hond in die boek na ‘n diamant in die gat, sien iets blink en … nou ja.

Die hondlike perspektief gee ‘n onmiddellikheid aan die storie.

Daardie oomblik toe Seeley die eerste keer naby kom, is die hond bang en swem weg. Ons beleef die hond se vrees eerstehands.

Puriste sal waarskynlik grom as Kurt Darren in die storie eiehandig ‘n reddingshelikopter loods terwyl hy met ‘n oogklap aan vlieg, maar dit is ‘n manier om die hond toe te laat om ons te vertel dat Darren “Kaptein” sing.

In der waarheid het Kurt en sy vrou Dunay ‘n helikopter geborg wat op ‘n stadium ingespan is tydens die reddingspoging, maar dit is bo ‘n hond se vuurmaakplek om so iets te verduidelik.

Die hond se naam het gou, in die volksmond, Kaptein Seeley geword, juis na aanleiding van Darren se se liedjie.

 

Iets vir die skoolbiblioteek

Die boek bevat ‘n kort oorsig oor die geskiedenis van Kimberley se Groot Gat, ‘n handleiding oor hoe om vir jou troeteldier te sorg en ‘n QR-Kode wat lei na ‘n video van die regte karakters agter die storie. Die illustrasies, deur Colleen Gericke, is in vol kleur.

 

Feite

Kaptein Seeley, Kimberley se waterwoef is deur Naledi uitgegee en kos ‘n voorgestelde R120,00. Die ISBN is 978-1-920654-78-8.

Om die boek te bestel, het Naledi ‘n SMS-lyn. SMS die woord KAPTEIN na 33234 en hulle sal jou kontak.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *