Wêreldonderwysersdag: die mens, nie die kurrikulum nie

October 5, 2015 in Uncategorized

Die 5de Oktober is deur die Verenigde Nasies as Wêreldonderwysersdag uitgeroep en ek wil graag iets vertel oor ’n drie van my onnies – omdat ek onlangs met hulle in aanraking was.

Die eerste is Marié Gräbe. Sy het vir my Afrikaans gegee en was een van die eerste onnies wat my aangemoedig het om aan te hou kreatief skryf. Oor my ontmoeting met haar, dertig jaar ná sy vir my skool gehou het, berig ek hier.

Die tweede onnie wat ek by name wil noem, is Rykie Boeke. Oor my ontmoeting met haar, berig ek hier.

Ek het verskeie ander onnies gehad wat vir my besonder baie beteken het. As ek nou gaan begin opnoem, sal dit te lank wees en ek sal mense vergeet.

Dit is egter nie die kurrikulum wat ek onthou nie, dit was hulle menswees wat my iets van die lewe laat verstaan het.

Eintlik moet ek dit nóg duideliker stel: Die kurrikulum was dikwels van min belang. Dit was daardie goed wat die onnies ekstra ingesit het, wat my vandag nog bybly: of dit nou buitemuurse geleenthede was, of dit nou my geskiedenisonnie was wat my aangemoedig het om nie bloot die voorgeskrewe boek te glo nie… Al daardie goed het blywende indrukke op my gemaak.

Die derde onnie wat ek moet noem, is my ma. Van standerd ses tot matriek was ek in haar Wiskundeklas. Ek was ’n vrot leerling, maar iewers in my dik kop het sekere goed vasgesteek en toe ek eers Excel ontdek, toe verstaan ek algebra! Sy het ons altyd aangemoedig om Wiskunde uit die klaskamer te haal en om dit toe te pas op die ware lewe. Vandag gebruik ek dit steeds, al was ek so ’n sukkelende Wiskundeleerling.

*

Ek is trots om heelwat werk vir en met die ATKV te doen, want hulle verstaan wat ek hierbo sê.

Die ATKV doen geweldig baie vir onderwys.

Ja, hulle doen baie om skole te help met die kurrikulum (kliek hier vir werk in die Wes-Kaap en hier vir werk in Noord-Kaap), maar die goed wat ’n blywende indruk op skoliere gaan maak, sal beslis die buitemuurse aktiwiteite wees.

Lees hier (rol net effens af)  hoekom ’n slim onnie, René Zietsman, geweier het om ’n baie belangrike  sertifikaat van Japie Gouws te ontvang. Sy het, korrek, daarop aangedring dat een van haar leerders, Abongili Deli, die sertifikaat in ontvangs neem.

Of lees ’n bietjie wat Paul Roos se seuns gesing het (rol weer eens af) tydens die ATKV-Applous se finaal. Al het hulle koor nie gewen nie, sal die seuns daardie vertolking van Mr. Cat and the Jackal se lied “Kortstondige raklewe van Ananstasia W.” vir lank onthou. Die lied is aangrypend en kru, dit handel oor die wrede verkragting en moord op ’n jong meisie. Hierdie lied het reeds van daardie seuns beter mense gemaak.

Darren August, die Stigter en CEO van Dazz Consulting en die outeur van A teacher changed my life, skryf onlangs: “Ek droom van die dae dat ons koerante weer vol inspirerende stories sal wees van onderwysers wat as helde vereer word vir dapper dade wat nie van hulle verwag is nie.”

Wel, daar is sulke onderwysers, kliek asseblief op die skakels wat ek hierbo gelys het. Hulle het in my dae, toe apartheidonderwys nog gegeld het, ook bestaan, want hulle was bereid om breër as die kurrikulum te dink.

Ek is opreg dankbaar vir so baie onnies wat so ontsettend baie vir my gedoen het, en ook vir vandag se jongmense.

Dankie!

*

Die ATKV moedig mense aan om op Vrydag 16 Oktober iets spesiaal vir hulle kinders se onderwysers te doen. Doen dit? Goeie onnies is baie spesiaal!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *