Arme Jorrie

July 18, 2016 in Fiksie

n Stukkie fiksie vir vandag.

ARME JORRIE

Die naels is te lank, die hare te blond, die jeans te styf, die hakke te hoog, die borsmaat een maat te groot vergroot, en sy’s gelooi deur die son. Haar naam is Christine. Omdat haar kuitspiere nie daaraan gewoond is nie trek haar voete buitentoe as sy kaalvoet loop – soos n balerina s’n. Nie dat Christene vandag die grasie van n balerina het nie. Nee, die Courtleigh sigaret-skor stem en die wyevoet-hardloopstappie agter die fris kêrel met die ingekleurde arms aan is eerder die venyn van n werfgans vanoggend.
“My ma was reg oor jou! Good for nothing robbish!! Loop!”
Ai, wonder ek, wat het tog nou weer die fontein brak laat borrel? Christene waggel verder agterna tot by die tuinnhekkie.
“Lamsak!”

Die misvormd ge-gymde man met die tatoes op sy arms sprak g’n sprook. Hy swaai sy leerbaadjie in n geoefende beweging wyd oor sy skouers en laat dit afgly oor sy dik gespierde arms. Hy rits die baadjie toe tot by die borsbeen. Sy skouers vertoon nog breër en laat sy ronde boudjies bo-op sy kierie beentjies lyk soos twee Fizzpop suiglekkers van ouds. Die motorfiets knor en poep n keer of twee, kry toe gas en met n moerse lawaai is die man wat vergeet om sy bene ook te gym daar weg.

Ek het geweet dit gaan gebeur, so ek is voorbereid daarop toe daar later n klop aan die voordeur is.
“Kom in, Christene, roep ek vanuit die kombuis waar ek besig is om brood te knie.
“Ek het vir Fifi by my,” roep sy terug. “Is dit oukei?”
“Is sy in haar mandtjie?” vra ek.
“Ja.”
“Nou kom in.”
Nou Fifi, liewe leser, is n mak sambreelstert meerkat wat Christene hans grootgemaak het. Die dingetjie is te ougat; gebruik glad n sandbak soos n kat.
“More,” groet Christene en plak die pak Courtleighs met aansteker bo-op op die hoek van die kombuistafel neer. As dit gebeur weet ek sommer dit gaan n lang kuier wees, so ek sit toe maar dadelik die ketel aan.
“En vir wat was jy so kwaai met Jorrie vanoggend?” vra ek.
“Dis daai steroids”, antwoord sy. “Die goed maak hom dommer as wat hy reeds is.”
Onmoontlik, dink ek maar spreek nie die gedagte uit nie.
“Wat het hy nou weer gedoen, of nie gedoen nie?, vra ek eerder. Ek paai maar altyd die situasies, want al is Christene se pompjoggie dommer as n baksteen is hy jouwaarlik iets vir die oog. So nou en dan doen hy vir my doen-dit-jouself werkies wat ek wragtig nie self regkry, of kan doen nie. Ek het n motief; al kos dit my die brooddeeg se eerste rystyd vanoggend.
“Lyk ek vir jou soos n roos meisie?” vra Christine naderhand.
Nee, swaardlelies eerder, kom die gedagte by my op maar ek spreek ook nie daardie een uit nie.
“Alle vroue hou tog van rose”, sê ek toe maar, met die hedonistiese gedagtes steeds in my agterkop oor wat n skraps geklede Jorrie als met n roos sou kon vermag.
“In n vaas ja, nie in die grond nie. My hele komposhoop is in sy moer in”, kla sy.”Wat eet Fifi nou?”
“Jy gaan moet verduidelik”, bieg ek na n kort stilte.
“Dis pure domastrant”, begin Christene. “Plant vir my roosbome in die tuin; ga! Sê dan het ek altyd blomme, maar spit toe omtrent die hele komposhoop in die grond in. Daar’s nie n enkele kriek oor nie. Waar vang Fifi nou krieke?” sluit sy af met n pruilmond en n afwagtende kyk. Fifi se koer-koer geluidjies kerm saam.
“Vra vir die oom of ons in sy komposhoop kan gaan krap”, koer Christene terug en vryf oor Fifi se koppie.
“Jy’s welkom”, antwoord ek verslae. Dat n kriek tekort nou soveel moleste kan veroorsaak, ne, dink ek en hou vir Fifi en Christene op die komposhoop deur die venster dop terwyl ek die brooddeeg afknie. Met die omdraai vang my oog die kalender op die yskas se deur. Ja-nee, dis presies n maand terug toe arme Jorrie ook moes vlug toe hy kwansuis sou gesê het:
“Maar twaalf pare hoë hakke is mos genoeg, my skat.”

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *