Arme Jorrie

July 18, 2016 in Fiksie

n Stukkie fiksie vir vandag.

ARME JORRIE

Die naels is te lank, die hare te blond, die jeans te styf, die hakke te hoog, die borsmaat een maat te groot vergroot, en sy’s gelooi deur die son. Haar naam is Christine. Omdat haar kuitspiere nie daaraan gewoond is nie trek haar voete buitentoe as sy kaalvoet loop – soos n balerina s’n. Nie dat Christene vandag die grasie van n balerina het nie. Nee, die Courtleigh sigaret-skor stem en die wyevoet-hardloopstappie agter die fris kêrel met die ingekleurde arms aan is eerder die venyn van n werfgans vanoggend.
“My ma was reg oor jou! Good for nothing robbish!! Loop!”
Ai, wonder ek, wat het tog nou weer die fontein brak laat borrel? Christene waggel verder agterna tot by die tuinnhekkie.
“Lamsak!”

Die misvormd ge-gymde man met die tatoes op sy arms sprak g’n sprook. Hy swaai sy leerbaadjie in n geoefende beweging wyd oor sy skouers en laat dit afgly oor sy dik gespierde arms. Hy rits die baadjie toe tot by die borsbeen. Sy skouers vertoon nog breër en laat sy ronde boudjies bo-op sy kierie beentjies lyk soos twee Fizzpop suiglekkers van ouds. Die motorfiets knor en poep n keer of twee, kry toe gas en met n moerse lawaai is die man wat vergeet om sy bene ook te gym daar weg.

Ek het geweet dit gaan gebeur, so ek is voorbereid daarop toe daar later n klop aan die voordeur is.
“Kom in, Christene, roep ek vanuit die kombuis waar ek besig is om brood te knie.
“Ek het vir Fifi by my,” roep sy terug. “Is dit oukei?”
“Is sy in haar mandtjie?” vra ek.
“Ja.”
“Nou kom in.”
Nou Fifi, liewe leser, is n mak sambreelstert meerkat wat Christene hans grootgemaak het. Die dingetjie is te ougat; gebruik glad n sandbak soos n kat.
“More,” groet Christene en plak die pak Courtleighs met aansteker bo-op op die hoek van die kombuistafel neer. As dit gebeur weet ek sommer dit gaan n lang kuier wees, so ek sit toe maar dadelik die ketel aan.
“En vir wat was jy so kwaai met Jorrie vanoggend?” vra ek.
“Dis daai steroids”, antwoord sy. “Die goed maak hom dommer as wat hy reeds is.”
Onmoontlik, dink ek maar spreek nie die gedagte uit nie.
“Wat het hy nou weer gedoen, of nie gedoen nie?, vra ek eerder. Ek paai maar altyd die situasies, want al is Christene se pompjoggie dommer as n baksteen is hy jouwaarlik iets vir die oog. So nou en dan doen hy vir my doen-dit-jouself werkies wat ek wragtig nie self regkry, of kan doen nie. Ek het n motief; al kos dit my die brooddeeg se eerste rystyd vanoggend.
“Lyk ek vir jou soos n roos meisie?” vra Christine naderhand.
Nee, swaardlelies eerder, kom die gedagte by my op maar ek spreek ook nie daardie een uit nie.
“Alle vroue hou tog van rose”, sê ek toe maar, met die hedonistiese gedagtes steeds in my agterkop oor wat n skraps geklede Jorrie als met n roos sou kon vermag.
“In n vaas ja, nie in die grond nie. My hele komposhoop is in sy moer in”, kla sy.”Wat eet Fifi nou?”
“Jy gaan moet verduidelik”, bieg ek na n kort stilte.
“Dis pure domastrant”, begin Christene. “Plant vir my roosbome in die tuin; ga! Sê dan het ek altyd blomme, maar spit toe omtrent die hele komposhoop in die grond in. Daar’s nie n enkele kriek oor nie. Waar vang Fifi nou krieke?” sluit sy af met n pruilmond en n afwagtende kyk. Fifi se koer-koer geluidjies kerm saam.
“Vra vir die oom of ons in sy komposhoop kan gaan krap”, koer Christene terug en vryf oor Fifi se koppie.
“Jy’s welkom”, antwoord ek verslae. Dat n kriek tekort nou soveel moleste kan veroorsaak, ne, dink ek en hou vir Fifi en Christene op die komposhoop deur die venster dop terwyl ek die brooddeeg afknie. Met die omdraai vang my oog die kalender op die yskas se deur. Ja-nee, dis presies n maand terug toe arme Jorrie ook moes vlug toe hy kwansuis sou gesê het:
“Maar twaalf pare hoë hakke is mos genoeg, my skat.”

Die Fokker

July 18, 2016 in Fiksie

DIE FOKKER – n Kortverhaal geinspireer deur ouer word.

Die vloer is nat want die dak lek; dit reën al dae aaneen. Twee jong manne bars deur die skuiling se lendelam deur, strompel, en val oor n ou man wat op die vloer lê. Ernst skud sy linkerhand soos n hond wat in n doring getrap het sy poot skud, en kom regop. Hy staar na die gehawende ou man wat bewegingloos op die vloer bly lê en lek met n lang tong bloed aan die buitekant van sy pinkie af.
“Dink jy hy is dood?” vra hy vir Hannes, wat steeds op die vloer is.
“Ek hoop nie so nie,” antwoord Hannes en skop-skop aan die ou man. Daar is geen reaksie nie.
“Hoe dink jy voel dit om dood te wees, huh?” Vra Ernst saaklik.
“Mens voel boggerôl,” antwoord Hannes kort terwyl hy regop kom en die modderigheid van se te groot denim broek probeer afvee. “Dis als net swart.”
“Vir ewig,” vra Ernst en beklemtoon sy vraag met n kyk.
“Ja.”
“Nee, fok, dis boring. Ons moet nooit doodgaan nie. Kyk of het die ou n pols.”
“Is jy gek?” protesteer Hannes.
“Kyk,” sê Ernst en lek weer aan die bloed aan sy hand.Hannes buk stadig af en steek huiwerig sy hand onder die opgeslaande kraag van verslete, vuil baadjie in. Dan ruk hy weg.
“Hy’s yskoud.”
“Maar is hy dood? wil Ernst weet.
Hannes druk weer sy hand teen die ou man se nek in om te voel vir n pols: hy ril. Die ou man is vuil en hy stink. Sy gesig het jare laas n skeermes gesien en dis n wonder as daar nie luise in die gekoekte, geel-grys bosgasie is nie.

Dan sien Hannes dit; n effense beweging van die ou man se borskas. Vinnig voel-voel hy vir sy selfoon in sy baadjiesak en hou dit skermkant boontoe onder die ou man se neus.
“Nee man, die donner leef,” sê Hannes verlig. “Kyk die wasem op die skerm.”
Sommer vies oor die paar onnodig benoude oomblikke stamp hy die ou man met die knie in die ribbes. Die ou man snak dadelik diep na asem en toe is dit stil; geen beweging in die borskas nie en ook g’n wasem op die skerm meer toe Hannes weer die selfoon onder die ou man se neus hou nie.
“O fok, nou’s hy dood, my ou!”
“Gee mond-tot-mond,” sê Ernst.
“Is jy gek,” protesteer Hannes. “Ek sit g’n my mond daaraan nie.”
Ernst raak benoud. “My oom is n doktor. Hy’t my eenkeer vertel van n skermunkel wat klinies dood was wat hulle teruggebring het uit die dood uit. Dié het glo daarna te vertel gehad dat hy n helder lig gesien het wat hom al sy foute uitgewys het, en hom al die pyn wat hy ander aangedoen het self laat voel het. Vandag is die ou n Prediker en doen allerhande liefdadigheidswerk. Gee mond-tot-mond.”
“Hy’s klaar n engel, my ou,” kap Hannes terug. “Ons twee gaan nie van hom n Prediker maak nie.”
“Probeer! Jy’t noodhulp gedoen, nie ek nie.”

Hannes en Ernst staar vir oomblik na die ou man op die vloer voor Hannes op sy knieë afsak en halfhartig en teensinning met kunsmatige asemhaling begin. Uiteindelik is daar n reaksie; die ou man begin hoes.
“Help my om hom op sy sy te draai,” sê Hannes. Hulle draai die ou man op sy sy in die herstel posisie in.
“Waar is ek? Wie’s jy,” vra die ou man verwilderd toe die hoesbui begin bedaar.
“Jy is in die begraafplaas se Tuin van Herrinnering,” antwoord Hannes.
“Is ek dood? Is U God?
“Nee,” begin Hannes verduideluk, maar Ernst keer en spring voor hom in.
“Wel, soort van. . . hy’t jou jou lewe teruggegee.
Dankie, God, ” sug die ou man.
“Wat het jy gesien, hé,” wil Ernst dadelik weet.
“Wanneer,” vra die ou man.
“Toe jy dood was!”
“Katte.”
Ernst kyk die ou man verdwaas aan. “Katte?”
“Ja, baie katte. Oral,” antwoord die ou man.
“Is jy seker?” vra Ernst. “Geen helder lig of so iets nie?”
“Nee, net katte,” bevestig die ou man.
“Miskien was dit katte wat jy as kind gehad het,” tjip Hannes in.
“Nee, mnr God, ek het nooit katte gehad nie.”
“Ek is nie God nie,” sê Hannes weer. Die keer bietjie harder en met meer drif.
“Hoekom het jy my teruggebring, mnr God,” kla die ou man skielik en klap met sy hande op die vloer langs hom. “Ek probeer goed wees, maar kry dit nie reg in die kak lewe waarin Jy my gegooi het nie. Dis nie my skuld nie, mnr God.” Die ou man beur vorentoe en gryp na Hannes se hande. Hannes deins terug. Ernst sak af op sy knieë en kyk die ou man stip in die oë:
“Mnr God hierso het jou n nuwe lewe gegee. Sodra jy beter voel gaan jy hier opstaan, jy gaan bad en skeer, jy gaan vir jou skoon klere kry en jy gaan oor begin. Reg?”
“Ek belowe, mnr God.”
“Ek is nie . . .” begin Hannes weer verduidelik, maar Ernst keer hom. “Los dit,” fluister hy vir Hannes. Hannes snap uiteindelik wat Ernst probeer doen.
“Het jy iemand wie ons kan bel,” gaan Ernst aan. Daar is n omgee in sy stem wat Hannes nog nie van tevore teëgekom het nie. Die ligsinnigheid van vroeër is weg: sy eie ook. Die oomblik voel skielik vreemd: heilig.
“Niemand nie,” antwoord die ou man sag.
“Kan jy opstaan,” vra Ernst en hou sy hande uit om die ou man op te help. Dit vat twee probeerslae voor die ou man op sy voete is.
“My pa se klere sal hom pas,” sê Hannes. “Kom.”

Met een elk weerskant het Hannes en Ernst die ou man daar uit die nat skuiling uit. Gebad en geskeer en met skoon klere aan lyk die man toe ook sommer heelwat jonger. Met n pakkie ekstra eetgoedjies in n winkelsak en n vyftig rand in die sak sien Hannes en Ernst die man later die middag by die tuinhekkie af.
“Jy gaan oor begin, né,” sê-vra Ernst. Die man skud net sy kop. Hulle hou hom dop soos hy regs draai by die tuinhekkie uit en straat af stap. Skaars n honderd meter straat af steek die man vas, haal n bottel onder sy nuwe baadjie uit, drink die inhoud in een slag leeg en gooi die bottel teen n tuinmuur stukkend. Hannes hardloop die huis in en kom omtrent dadelik weer uit. “Die fokker,” sê hy afgemete. “Dit was my pa se whiskey!”

“Dis oraait, my kind,” sê Hannes se pa toe Hannes later die aand probeer verduidelik. Hy sit sy arm om Hannes se skouers en trek hom nader. “Julle het goed bedoel, my kind. Julle het n les geleer vandag. Wysheid kom eers met die grysheid. Naief wees is deel van jonk wees.

Canta Libre

July 18, 2016 in Fiksie

CANTA LIBRE

Rukwinde pluk aan die gordyne. Bokant die slaapkamer het die appelkoosboomtakke se gekrap op die dak heel nag lank slaap iets gemaak waarna Mona net kon uitsien; soos Moses na die beloofde land, of die miljoene wat Leon beloof het hul gaan maak- eendag. Was dit n egalige wind, eerder as die rukwinde wat die tipiana boom aan die oorkant van die straat se sade soos hael op die sinkdank laat neer reën het, was Mona moontlik in n beter bui.

In die sitkamer lyk dit of n orkaan dit oornag getref het. Die mat lê besaai droë blare en peulsade wat deur n oop venster ingewaai het. Die groot, geraamde foto van Leon wat jare lank al op die TV-kabinet staan, lê stukkend op die vloer.
Vandag gaan een van daai dae wees. Mona buk en tel die foto op. Die fyn glasskerwe op die mat glinster in n enkele oggend sonstraal waardeur stoffies haastig skarrel op soek na n rusplekkie.
“Plaas bring die verdomde wind reën, ” skel Mona. “Maar nee, dis net stof. Ek vrek nie met n verestoffeer in die hand nie!” Mona sit die stukkende foto onderstebo op die TV kabinet neer en stap moeisaam deur kombuis toe.

Soos sy, sukkel die buislig teen die kombuis se vergeelde plafon om aan die gang te kom. Dit brom teensinnig en stotterflikker eers n paar keer voor dit van die buitekante af in begin gloei. Gaby, Mona se oorgewig spanjoel; dié het n vreeslike koddige stappie, kom binne en spring teen Mona op.
“Ai, parratjie,” sê Mona sag en vryf oor die hond se kop. “Va’môre gaan jy moet wag vir jou kos.” En asof die hond weet wat aangaan gaan lê sy kop op die pote voor die stoof; sy wag. Sy wag tot lank na die ketel al gekook het, gisteraand se skottelgoed in die opwasbak gesit is, die wegneem-ete kardoesse in die asblik gegooi is, en tot later, toe al die mense deur die huis uiteindelik weg is. Dis eers nadat Mona met die foto van Leon, en n skoppie vol glasstukke terug kom in die kombuis in en die skerwe klingelind in die asblik laat val, dat die hond kos kry.
“Hierso, aapstert,” sê Mona, en sit die bak hondeblokkies met n warm bief sousie bo-oor vir Gaby neer. Sy haal die foto versigtig agter wat van die raam oorgebly het uit en druk dit onder n magneet teen die yskas se deur vas.
“Ons gaan moet gewoond raak daaraan om alleen te eet,” sê Mona saaklik en syg neer in n stoel by die kombuistafel. Sy hou haar blik op die foto. “Miljoene, het hy gesê gaan ons maak, parratjie. Miljoene. Ga! Leef op hoop en vrek op stront.

En toe raak dit stil in die kombuis; vir lank, vir baie lank.

Dit was n verrassing dat Leon vroeg weg is. Maar Mona weet dis beter hy’s vroeër vort . Dis nie asof sy skielik afgesê is nie. Hulle het altwee eenvoudig groot geword. Leon miskien bietjie meer so as Mona. Vir hom het die besef gekom hy kan kitaar speel, maar hy is nie n kitaarspeler nie; daar is n verskil. Mona is n rock-chick; haar droom is helderder as ooit. Elke keer as Mona sing is dit vir haar n herdoop. Leon het afvallig geword. Vir hom het vastigheid belangrik begin word; vir haar, die verhoë waarop sy nog nie was nie. Hulle het mekaar ontgroei, en saam besluit om eie ding te doen. Natuurlik het hulle, soos enige paartjie meningsverskille gehad, en dis juis dit, besef Mona in die sit by die kombuistafel: meningsverskille, nooit hewige, dramaties hartstogtelike argumente nie, is wat haar so versmoor het. Haar hand klem om die koffiebeker wat al koud geword het. Hulle het nooit eers op mekaar geskree nie, wat nog van skop en skel en vloek en raas, en goed stukkend gooi. Stadig begin n stoute glimlag om Mona se mond trek; sy kyk waar is die hond, en toe trek die koppie. Dit spat in skerwe teen die oorkantste muur. Mona lag hardop.
“Selfs ons einde is boring, parratjie,” sê Mona vir Gaby, wie dit net n snoet om die kant van die yskas waag. “Ek’s n rock-chick, dammit!

“Guitarist benodig,” sê Mona daardie middag vir die operateur wie haar snuffelgids advertensie afneem. “Hoofletters, in vet druk, en onderstreep.”
“Goed,” sê die operateur. “Dis die opskrif. En dan?”
“Canta Libre”
“Goed, en dan?”
“Nee, net dit. Sit net ‘Canta Libre’ en dan my selfoon nommer. Die regte persoon sal weet waarna ek soek.”
“Nou wag ons net,” sê Mona vir die spanjoel toe sy die foon neersit.
Gaby gaan lê weer met haar kop op haar pote soos sy maar maak as sy moedeloos is.
“Ag toe,” berispe Mona haar. “Ek gaan n guitarist kry, jy gaan sien.” Sy tel vir Gaby op en tol uitbundig met haar in die rondte. “Ek gaan n fantastiese guitarist kry; ons gaan oorsee gaan; ek gaan groot shows doen; ons koop vir jou n bling halsband, en ons skryf dit in al my kontrakte in dat jy oral saamgaan. Ja-a,” sing Mona voort: “Ook as ek my Grammy gaan haal. Kry perspektief parratjie! Vir die lewendige krewe aan boord was dit n wonderwerk toe die Titannic sink. Dit kan met ons ook gebeur! Canta libré, parratjie, canta libré!”

Daar is n klop aan die deur. “Koewee,” roep suster Bekker en stap ewe kordaat binne. “En as tannie alweer so voor die foto sit?”
“Het ek jou al die storie van die foto vertel?” vra Mona vir suster Bekker
“Ja, tannie het al,” antwoord sy geduldig. “Aan’t skerwe geval die nag toe die oom dood is”
Suster Bekker merk gisteraand se aandete nog onaangeraak op die tafel.
“Hier staan gisteraand se kos dan nog net so. Hoekom eet tannie nie?” vra sy met n goeie dosis teregwysing in haar stem.
“Dis die moeilikste weet jy, om alleen te eet,” antwoord Mona haar sag.
“Ek weet, tannie. Dis moeilik, maar tannie moet eet.”
Mona luister nie. Sy dink ander dinge. “Wat is Gumtree, hé?” vra sy later toe suster Bekker reeds die bloeddruk meter se oppomp band om haar arm het. Gewoonlik is die takie n gestry.
“Gumtree is geklassifiseerde advertensies op die Internet, tannie,” vertel suster Bekker.
“Dan moet jy my help, Suster, ek wil daar n advertensie insit.”
“En wat wil tannie, adverteer?” vra suster Bekker verbaas.
“Ek soek n guitarist.”

*(‘Canta Libré’, vertaal losweg as “sing vrylik”)

Stella se dogter

July 18, 2016 in Fiksie

STELLA SE DOGTER.

Meeste praat sommer van ‘die vallei’; ander sê dis n verdomde gat. Feit bly staan, dié is n klein gemeenskappie en nuus trek vining.
Stella; haar huis is die een met die rooi dak, se dogter is dik. Pragtig man, maar ai siestog, sy’s dik, n stewige mens. Vir elke pot is daar n deksel en gelukkig is daar manne wat hou van die soort figuur. So was dit dan die geval gewees met Frikkie, die kroegman by die nabygeleë oord.

Vir Frikkie sien mens nooit in iets anders as n geruite hemp en kaki chino’s nie. Bles word het vir hom vroeg gekom. Frikkie is nie onaansienlik nie; miskien n bietjie stil, of stadig, maar met Frikkie weet mens nooit. Dis jammer van die dikraam bril ook.

“Hello Frikkie”, vlikvlooi Cheryl, “My ma se dis oraait, sit dit op haar tab.” Cheryl se magtige kloof spoel oor oor die kroegtoonbank soos sy vorentoe leun. Dit dril soos twee upsize skuimpoedings vlak voor Frikkie, nie n vol meter van hom af nie.
“Kan ek n Screwdriver kry?” pruil sy.
Die milieu en Frikkie se eenvoud inaggenome, vestaan mens Frikkie se skaam glimlag met die blote aanhoor van die woord, screw. Frikkie skep vining nog n happie poeding terwyl hy knik, dan omdraai en Cheryl se drankie begin skink. Cheryl gee vinnig die ander boud n kans op die ongemaklike kroegstoeljie. Sy krul onbewustelik n enkele lok hare, die kleur van n herfswingerd vorentoe, om haar dik nek verby tot op haar bors.
“Dankie,”sê sy toe Frikkie haar drankie voor haar neersit. “Jy’s n ou skroewedraaier.”
Weer glimlag Frikkie skaam, maar kyk haar in die oë die keer.

Cheryl is al verby haar vyfde Screwdriver toe dit gebeur. Ghwar, bars die synaat van haar styfpassende swart nommer oop. Het dit op n minder dramatiese ooblik gebeur was die vernedering dalk minder. Cheryl kon sweer Frikkie wou iets vra, hy’t dan ingeleun en gesê:
“Hoor bietjie hier, Cheryl . . . “
En sy’t gesê: “Jô, Frikkie.”
Toe bars die naat. Dit trek verder en verder los soos meer van Cheryl na buite peul. Die vernedering verslind haar soos n honger dier. In die badkamer bied n gawe vrou vir haar drie haakspelde aan, en help haar om die voor en agterkant van die rok bymekaar te bring.
“Sal jy vir my die barman roep, asseblief,” vra Cheryl, en sê nee dankie vir die houertjie mascara wat die vrou na haar toe uit hou.“Ek het, dankie. Asseblief, die ou met die bril.”

“Vat my huis toe, asseblief, Frikkie,” pleit Cheryl oomblikke later.
“Ek kan nie nou nie,” verweer hy vinnig. “Nie nou nie, ek is in die middel van my skof.”
“Asseblief,” smeek Cheryl. Die trane lê vlak, sy kry dit nie heeltemal afgesluk nie. Sy word al van kleintyd af eenkant toe gestoot oor haar gewig; sy is n meester daarin om emosies weg te steek, maar die keer kry sy dit nie reg nie. Sy is kwesbaar, so bitterlik kwesbaar; en sy pes dit!
“Bel jou ma. Kan sy jou nie kom haal nie?” vra Frikkie en trek haar met sy arm om haar skouers nader.
Cheryl antwoord skaars hoorbaar:“Sy’s uit op n date.”
Na n rukkie van nie weet wat om te sê nie, vra Frikkie vir Cheryl: “Weet jy waar is my woonstel?”
“Ja, Frikkie,”antwoord sy die simpel vraag.
“Vat my sleutels, gaan sit daar, kyk TV, maak vir jou koffie, en dan vat ek jou huis toe wanneer ek van skof af kom.”
“Rerig, Frikkie?”
“Ja, hierso,” sê hy. “Wag net hier. Ek bring vir jou my baadjie. Dit sal nie pas nie, maar knyp dit onder jou arm vas as ons uitstap en niemand sal iets sien nie.”

n Paar minute later is hy en Chery krapskeef by die kroeg uit. En so, so, het dit dan gekom dat Frikkie Cheryl se naam agter die toiletdeur vasgeskroef het; die aand toe sy so uit haar nate gebars het.

Onder Hlaudi Motsoeneng se leiding gaan ons nie ingaan op die detail van die geweld wat volg toe Cheryl uiteindelik vir Stella moet vertel sy’s swanger nie. Ons volstaan met die wete dat dit n tamaai klap was, een wat n maer mens teen die vloer sou hê.
Daarna, het hulle gebid.“Here help ons”, pleit Stella. “Hier’s nie geld in die huis nie, en sy kom met n baba hier aan.”

Bid help egter niks. Die storie versprei gou in die klein gemeenskappie en daar word ook met Frikkie begin spot. Dronk manne in n kroeg kan kru wees. Frikkie verduur dit dag na dag, tot een aand toe diep in Cheryl se tweede trimester in, toe verdwyn hy soos n jakkals voor die silvermaan uit. Frikkie is net weg. Onopspoorbaar weg!

Diegene in die vallei sonder ek-en-my-gesin-sal-die-Here-dien bordjies bo die voordeur begin by Cheryl opdaag met pakkies. Meestal is dit baba goedjies wat hulle bring, maar sommige het ook kruideniersware in, en een het selfs n koevert met kontant daarin. Elke keer as daar haakspelde in n pakkie is, gaan sit Cheryl dit in n aparte Tupperware houertjie en bere dit diep agter in die babakassie wat reeds in haar kamer gereed staan. Sy self het nog nie n enkele haakspeld gekoop nie, sy kry haarself net nie sover nie. Vir haar is n haakspeld lankal nie meer net iets om n doek mee vas te steek nie, dit het n simbool geword, n brandyster, n sinoniem vir die nag van die grootste seerkry in haar lewe.
“Ek het dan nee gesê”, prewel sy in verweer teen die terugflitse toe sy regop kom. Frikkie was so sterk.Sy bly n rukkie roerloos staan voor die babakassie en kyk dan op na die plafon.
“Hoe kry ek hierdie kind groot?”
n Retoriese vraag.

Die Verantwoordelikheid

July 18, 2016 in Fiksie

Wat is die verskil tussen die woorde ‘dalk’ en ‘miskien’?

DIE VERANTWOORDELIKHEID

Dollie, is n vrou geskool daarin om te wag. Ansie daarinteen, is moeg gewag. Ansie blaai nog n keer deur die program, maak dit dan toe en sit dit op haar skoot neer. Sy begin tik met haar vingers op haar knie.
“Niks om te doen nie.” sug sy.
“Het jy al jou program geléés?” vra Dollie.
“Ek het dit geléés,” antwoord Ansie.
“Is joune dieselfde as myne?” vra sy
“Natuurlik is dit dieselfde as joune,” antwoord Dollie. “Hulle maak net een program.”
“Wie’s hulle?” wil Ansie weet.
“Die drukkers, die teater, die ontwerpers: hulle.”
“Gee, laat ek sien,” sê Ansie en steek haar hand uit om aan te vat.
“Maar jy het een!”
“Gee, laat ek sien,”sê Ansie driftig. “Dis dalk anders.”
“Hulle is g’n anders nie. Elke program vir elke vertoning is dieselfde. Kyk,” sê Dollie en begin waai deur die bladsye. “Advertensies, advertensies, advertensies; die regisseur verduidelik hoekom die produksie so fantasties en wonderlik is; advertensies, advertensies, advertensies; agtergrond tot die stuk; biografië oor die akteurs oor hoe talentvol, besig, en dankbaar hulle is; biografië oor die tegnici se vaardighede in teaters wat g’n mens nog van gehoor het nie; advertensies, advertensies, advertensies. Alles bymekaar gehou met twee krammetjies. As mens een program gesien het, het jy almal gesien.
“Laat ek sien,” volstaan Ansie.
“Maar lees jou eie.”
Dis stil vir n oomblik, dan vra Ansie: “Het joune n invoegsel in?”
“Geen invoegsel nie,” sê Dollie.
“Niemand wat vir iemand instaan nie?”
“Niemand staan vir iemand in nie.”
“Kom ons loop,” sê Ansie en staan op.
“Ons kan nie nou loop nie, Ans.”
“En vir wat nie?” wil Ansie weet.
“Hulle gaan nóú begin.”Ansie sit.
“Is jy seker daar is n vertoning?” begin sy weer met haar vrae na n rukkie van dankbare stilte.
“Die program sê so. Om agt-uur. Die teater begin altyd om agt-uur.”
“Is dit al agt-uur?“
Dis nou net agt-uur. As my horlosie reg is.”
“Is dit reg? Miskien is ons vroeg.”
“Ai, Ansie,” sê Dollie geduldig. “Hulle gaan nóú begin.”
“Hier’s nie veel van n gehoor nie.” merk Ansie op.
Dollie kyk om hulle rond. Hier en daar sit daar paartjies in die half verligte auditorium. Miskien is ons dalk vroeg, begin die gedagte aan haar knaag.
“Is ons dalk laat?” gaan Ansie aan nes Dollie ingee tot die gedagte dat hulle miskien vroeg is. “Miskien is dit alreeds verby.” sê sy.
“Dit kan tog nie wees nie,” protesteer Dollie. “Dis n hoogs aangeskrewe drama.”
Ansie sien haar gaping.“Dan het almal dit al gesien; geen nut vir ons om daardeur te sit nie, sê sy. “Kom ons loop.”
“Sit!” sê Dollie. “Miskien moet jy weer jou program lees.
Ansie begin froetel in haar handsak. “Wil jy n suigsweetie hê?”
“n Wat?”
“n Suigsweetie. Om jou hoes onder beheer te hou.”
“Ek het nie n hoes nie.”
“Miskien ontwikkel jy een; dalk op n kritieke oomblik.”
“As ek n hoes sou ontwikkel, dan maak ek my tjoklit oop.”
“Dalk is dit beter om dit nou oop te maak. Is jou selfoon af?” vra Ansie en begin handeklap.
“Genade vrou, wat maak jy nou?” vra Dollie verontwaardig.
“Ek wys dat ons n klein, maar goeie gehoor is. Die entoesiastiese en waardeerende gehoor wat hulle wil hê. “Bravo!”skree sy.
Dollie sterf n duisend dode. “Dink jy dit werk?” vra sy naderhand toe niks gebeur nie.
“Ek sien nie uitsmyters nie,” reken Ansie en hou op klap. Dollie sit doodstil. Ansie ook: maar net vir n oomblik. “Miskien is ons by die verkeerde teater.”
“Moenie verspot wees nie, Ans.” kap Dollie.
“Dalk is hierdie nie die regte teater nie. Miskien rol mense van die lag in n ander auditorium?”
Hulle luister vir n oomblikkie.
“Ek hoor niks nie,” sê Dollie.
“Dalk is dit n stil oomblik; miskien kan mens n speld hoor val.”
Hulle luister weer.
“Nee,” sê Dollie ferm: “Dié is die regte teater.”
“Hoe weet jy dit?”
“Ek herken dit. Dis hier waar ons daai wonderlike drama gesien het.”
“Watter een?”
“Die een van die ou meisetjie wat so vir die man gewag het om haar te kom haal. ‘Dalk’ was die ding se naam. Die beste twee-ure van my lewe”
“Dit was hier?”
“Ja, ek onthou dié teater. Ons het daar gesit.”
“Ek dink dis hier waar ons daai aaklige drama gesien het.”
“Watter een?”
“Daai langdradige een. Van die man wat so onder die boom gesit wag het. ‘Waiting for Godot’ was die ding se naam. Die pynlikste twee ure van my lewe.”
“Is jy seker?”
“Ek onthou die teater – dit was hel! Sê nou net dié drama is net so swak. Miskien moet ons loop.”
“Dalk is dit briljant. Ons sal nie weet voor ons dit nie gesien het nie.”
“Dis n waagstuk,” reken Ansie met n opwaartse infleksie. “Dis veiliger om TV te kyk,” voeg sy by. Dollie sê niks.
“Jammer oor die vertaging, dames en here,” kom daar uiteindelik n aankondiging oor die klanstelsel. “Vanaand se vertoning van ‘Die Wagkamer’ sal binnekort begin. “Geniet die vertoning.”
Ansie en Dollie sit.
“Dis gerrustellend,”sê Dollie vir Ansie. “Ten minste is ons in die regte teater.”
“Hulle het ons lank genoeg laat wag,” antwoord sy.
“Dis ons werk.”
“Wat?” vra Ansie
“Wag. Ons wag om kaartjies te koop, ons wag tot die dag van ons bespreking, ons wag voordat ons die teater mag binnestap, ons wag vir die huisligte om te doof, wag vir die gordyn om op te gaan, ons wag vir die akteurs om binne te kom, te praat, wag om te sien wat gebeur volgende, hoe dit eindig, ons wag om by die parkering uit te kom, en dan wag ons vir die volgende vertoning. Daar is iets edel daaraan,” verduidelik Dollie en knik beamend haar kop.“Dis n groot verantwoordelikheid om te wag, altyd gereed te wees vir n hoogtepunt.”
“Ja, dit is miskien so, Dollie,” sê Ansie. “Maar hulle vat darem die gewaggery n bietjie vêr. Sal ons loop?” Sy staan op.
Die huisligte doof.
“Sit, Ans. Miskien word ons verras.”
Dalk nie.