Spirit – Twelve Dreams of Dr. Sardonicus

Dond 2 Sep 2010, 09:33        2 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Ek luister nou al veertig jaar na hierdie album en het nog nie moeg geword daarvan nie. Dit is een van daardie handjievol plate waarvoor mens tyd afsonder in jou program en dan sorg jy eenvoudig dat jy eenmaal per jaar gehaltetyd daarmee deurbring. Sardonicus is ‘n baken in rock-musiek en die wonder daarvan is dat die twaalf snitte elkeen in ‘n ander rigting baanbrekerswerk vir rock-musiek gedoen het.

 

Die album was die laaste waarop die “klassieke” formasie van die groep behoorlik saam musiek gemaak het. Die lede was Jay Ferguson (sang, klawerborde, slagwerk), Randy California (sang, kitaar, baskitaar), Mark Andes (baskitaar, sang), John Locke (klawerborde) en Ed Cassidy (tromme, slagwerk). Met bykomende koperblasers.

 

Die album is in 1970 uitgereik, en gemaak met David Briggs as produksieleier – op aanbeveling van Neil Young. Met Briggs se leiding, en John Locke se oorsigtelike beplanning van die album as ‘n nuwe soort “art rock”, en talle persoonlikheidsbotsings onder die lede van die groep het alles saamgespan om elk oomblik van musiek ‘n interessante gebeurtenis te maak.

 

Formeel beskou vermeng die groep hier rock, jazz en folk-musiek, alles onder die sambreel van psigedeliese rock. Daar is voorspooksels te hoor van space rock, van glam rock. Groepe wat later hul skatpligtigheid teenoor die album gesinjaleer het, was Steely Dan (vgl die ooreenkomste tussen die intro van hul liedjie “FM” en een van die snitte op Sardonicus, “Space Child”) en Iron and Wine. Randy Newman het ‘n slag sy kepsie in hul rigting getip en dit word algemeen aanvaar dat Marc Bolan van T Rex oorgeslaan het na elektriese kitaarmusiek nadat hy Sardonicus gehoor het. Ek weet nie of mens Spirit hoegenaamd daarvoor moet dankbaar wees nie.

 

Informeel beskou is Sardonicus een van daardie plate wat soveel wonderlike dinge bevat dat mens nie weet waar om te begin nie. Ek probeer altyd in gedagte hou dat Randy California net 19 was toe hy hier gespeel het – onthou, hy was net 15 toe hy sy plek in die Jimi Hendrix Experience verbeur het omdat hy nie saam kon reis na Brittanje. Sy ouers het daarop aangedring dat hy eers skool klaarmaak.

 

California se kitaarspel  en die fabelagtige manier waarop hy met Andes se baskitaar en Locke se klawerborde kombineer is die sleutel tot die album se krag. Op die 1996-heruitreiking (op CD) van die album kan mens vir die eerste keer hoor hoe subliem die groep saam kon speel op “Space Child”, met California wat ‘n tonale tour de force op verskeie plekke prakseer.

 

Jay Ferguson se “Mr Skin”, met sy koperblasers vir Afrika is ‘n snit wat my met die verloop van jare al hoe meer aangespreek het. (Ferguson het later naam gemaak as komponis van film- en TV-musiek – onder meer die temamusiek van NCIS Los Angeles). Mark Andes se welsprekende baskitaar is op elke snit opvallend, maar die beste op “Animal Zoo”.

Ander dinge om voor uit te kyk: die eksperimentering op “Love has found a way”, die kitaar-extravaganza op “Why can’t I be free”, die afwisseling tussen ewewigtigheid en brute krag op “When I touch you”, die vindingrykheid van die groep met die verskeidenheid klankskakerings wat hulle op “Street Worm” uitbou, die kragtoere “Life has just begun” en “Morning will come”.

 

Dit laat twee “drome” ongenoem: “Nature’s Way”, ‘n snit wat in eie reg beroemd geword het as ekologiese wekroep en “Soldier, die album se “crowning glory”, die wyds gespasieerde, trippieste nugter liedjie wat ek nog ooit gehoor het.

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  spirit   jimi hendrix   neil young   randy california  


Iggy Pop and the Stooges – Raw Power

Maan 30 Aug 2010, 13:45        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Volgens die Britse joernalis Nick Kent is Raw Power die beste, suiwerste rock-plaat wat in die jare sewentig gemaak is. Ek wonder waar plaas Kent dan Led Zeppelin se vierde album, maar dit tersyde. Raw Power is ‘n album vir mense wat musiek met sommer baie skop verkies. Dít het Kent ten minste heeltemal reg.

 

Eintlik is Iggy Pop ‘n baie intrigerende figuur. Sy regte naam is Jim Osterberg, en soos hy dit self stel, is hy ‘n bewys dat “trailer trash” ook iewers in die lewe kan kom. Osterberg het grootgeword in ‘n karavaan in Muskegon, Michigan, en hoewel hy aanvanklik ‘n tromslaner wou word, het die verhoogoptrede van Jim Morrison tydens ‘n Doors-konsert wat Osterberg in 1967 bygewoon het hom só geïnspireer dat hy ‘n mikrofoon gegryp en begin sing het.

 

Sy verhoognaam het hy gekry na aanleiding van een van die eerste groepe waarvan hy lid was, The Iguanas. Nadat hy The Stooges gestig het, het die groep twee baie doelgerigte rock-plate gemaak: The Stooges (1969) en Fun House (1970).  In hierdie tyd het hy die eerste ding gedoen wat hom ewige roem sou besorg: Tydens ‘n konsert in Detroit het hy van die verhoog af in die gehoor in geduik.

 

Van sy ander eksentrisiteite op die verhoog het ingesluit die langdurige ontbloting van sy manlike orgaan (volgens oorlewering het Osterberg die grootste orgaan in die besigheid) en vomering op die verhoog (veral wanneer Osterberg, ‘n heroïen-verslaafde, homself kort voor die aanvang van die konsert ingespuit het).

 

Osterberg se Iggy Pop-persona was berug vir sy nihilistiese uitkyk op die lewe en sy hedonistiese lewensstyl wat gesorg het mense soos David Bowie en Lou Reed (volgens Nick Kent in sy skitterende boek Apathy for the Devil) sy geselskap al van die vroeë sewentigs opgesoek het.

 

Bowie het Osterberg omgepraat om sy groep na Londen te neem, waar Osterberg se dwelmhandelaar hom nie so maklik in die hande kon kry nie. Die Stooges het ná Fun House ontbind, maar Bowie en Osterberg het Ron en Scotty Asheton (baskitaar en tromme) weer laat kom en die Stooges het Raw Power toe in Londen opgeneem, met James Williamson as kitaarspeler.

 

Raw Power is met totale gebrek aan geesdrif deur die resensente begroet toe dit in 1973 uitgereik is. Dit was, alles in ag genome, die jaar waarin barre, onpretensieuse rock-musiek nie die toon aangegee het nie. Raw Power moes meeding met die Floyd se Dark Side of the Moon, Elton John se Goodbye Yellow Brick Road, David Bowie se Aladdin Sane, Roxy Music se For your pleasure, Alice Cooper se Bilion Dollar Babies en Paul McCartney & Wings se Band on the run.

 

Met die verloop van tyd het dit egter duidelik geword dat Raw Power aansienlik meer invloed en musikale integriteit had as baie van die plate uit daardie jaar. Dit word tans beskou as ‘n onignoreerbare bousteen in die geskiedenis van rock-musiek – Kurt Cobain van Nirvana het dit aangedui as sy gunsteling album, en dit had ook ‘n bepaalde invloed op die musiek van kunstenaars so uiteenlopend as Henry Rollins en die Sex Pistols.

 

As mens die oorspronklike uitgawe van die album vandag beluister, is die klank effens aan die dunnerige kant. Mens kan dit nie op primitiewe apparaat blameer nie – luister maar wat die Floyd, Bob Marley, Steely Dan en ander kanstenaars in dieselfde tydperk vermag het.

 

Die rede vir die yl klank was dat Osterberg in sy voortvarendheid die klankvermenging totaal opgeneuk het deur die musiek in die linkerkantste stereobaan te plaas en die sang in die regterkantste baan – amper soos jare vantevore met Sgt Pepper’s gebeur het. Omdat Osterberg self die produksieleier was, wou hy niemand toelaat om daarmee te peuter nie. Sy bestuur het toe daarop aangedring dat David Bowie die klankvermenging moet oordoen, wat hy binne een dag moes afhandel.  Bowie het dit gedoen, maar Osterberg het geweier dat Bowie “Search and destroy” herstel.

 

Had Bowie meer tyd, sou die klank bes montlik ‘n bietjie meer lyf en warmte gehad het.

 

Hoe ookal, Raw Power is ‘n belewenis en moet met die klankvolume hoog oopgedraai geluister word.

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  iggy pop   jim osterberg   david bowie   the stooges  


Talk Talk – The Colour of Spring

Vry 27 Aug 2010, 10:53        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

          

 Talk Talk het in die begin van hul loopbaan (1981) ‘n slegte ding oorgekom. Hulle is vergelyk met Duran Duran. Enersyds omdat hulle dieselfde produksieleier had (Colin Thurston) en andersyds omdat daar kritici was wat gedink het albei groepe volg in die spore van Roxy Music.

 

Mens hoef seker nie té hard te probeer om die belaglikheid van hierdie vergelyking te debateer nie. Roxy Music het dan gesukkel om self in hul eie voetspore te volg, verbrands.

 

Dat Talk Talk en Duran Duran baie netjies netjies ingepas het by die jare tagtig se grootste kunsfiasko, naamlik die New Romantics, is nie te betwis nie. Maar anders as Duran Duran, wat in wese ‘n platemaatskappy se projek was en wat gekaap is deur ‘n klompie maskara-vriendelike swaaiballe, was Talk Talk ‘n groep besonder ernstige musici.

 

Trouens, só ernstig was hulle dat die groep vandag nog beskou word as die beste voorbeeld van musici wat nie toegelaat het dat ‘n platemaatskappy hul integriteit as kunstenaars skaad nie.

 

Die kern van die groep, teen die tyd dat 1985 aangebreek het en hulle begin het met die opnames van The Colour of Spring, was Mark Hollis (sang), Tim Friese-Greene (klawerborde), Lee Harris (tromme) en Paul Webb (baskitaar). Harris se rol is belangrik – Talk Talk was die eerste sogenaamde New Romantic-groep wat openlik weggebreek het van die idee dat mens met ‘n elektroniese, geprogrammeerde “tromslaner” kon gebruik in die plek van ‘n mens wat die lewende hel uit die tromme uit neuk.

 

The Colour of Spring se sein aan die kritici was dat Hollis en Friese-Greene die groep geskeur het uit die oppervlakkigheid van die New Romantic-beweging en deur hul lirieke en musiek probeer het om die innerlike lewenssfeer te verken. Sy sangstem, een van die mees kenmerkende van die jare tagtig en ‘n ongelooflike draer van emosie, het die album oorheers.

 

Die groep se musiek het ook die eerste treë gegee in die rigting van wat later bekend sou staan as post-rock. Daar was skielik enorm baie ruimte en diepte in die musiek, en heel dikwels het mens die gevoel gekry dat Hollis en sy mede-musici ‘n impressionistiese soort klankbelewing het waarin eksperimentering en improvisasie moontlik is.

 

Dit is dan ook geen wonders dat musici van die kaliber van Steve Winwood en Danny Thompson (kontrabas-speler van John Martin en Pentangle) bereid was om te help met die opnames nie.

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  talk talk   mark hollis   tim friese-greene  


Kevin Rowland and Dexy’s Midnight Runners – Too-Rye-Ay

Woen 25 Aug 2010, 09:12        1 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 In die klatergoud-wêreld van pop musiek is Kevin Rowland en sy Dexy’s Midnight Runners die beste bewys dat goeie musiek mens heeltemal van die warhoofde wat die musiek maak kan laat vergeet.

 

Daar is seker min pop musici wat met Kevin Rowland kan meeding as dit kom by doodgewone onnoselheid. Hy het vas geglo dat elke nuwe album wat hy maak, as projek gesien moet word en nie as album nie. Daarom het hy sy groep se voorkoms met elke album verander – met lagwekkende gevolge.

 

Dit het uiteindelik die punt bereik waar hy Dexy’s Midnight Runners met pensioen laat gaan het, en net onder sy eie naam, geklee in ‘n rok, en met twee ontkleedanseresse langs hom op die verhoog probeer musiek maak het.

 

In ‘n vroeë stadium van sy loopbaan het hy sy groep gedwing om saam met hom te draf en fiks te bly. Hulle mog nie drink nie en is verbied om met die pers te praat. Rowland het met sy bewonderaars gekommunikeer deur middel van advertensies in koerante.

 

Later in sy loopbaan, toe hy ‘n baie groot probleem met dwelmverslawing had, het hy gelukkig nie meer ‘n groep gehad wat hy kon dwing om mee te doen nie.

 

Maar in 1982, met Too-Rye-Ay, was hy die onbetwiste wonderwerk in pop musiek. Hy het Ierse musiek ‘n nuwe soul-voorkoms gegee – terwyl hy sy groep laat lyk het soos ‘n klomp Ierse plaaswerkers (dungarees, leerjasse, serpe en Marks & Spencers gemakskoene).

 

Waar hy in 1980 met Searching for the Young Soul Rebels nog die edele hart van die ongekultiveerde Ierse werkersklas wou promoveer, het hy nou ‘n meer musikale rigting ingeslaan met die insluiting van die vioolspelers Helen O’Hara, Steve Brennan en Roger MacDuff.

 

Op verstommend energieke manier was die huwelik tussen rock, soul en Ierse folk-musiek ‘n geweldige groot sukses. Too-Rye-Ay het drie skitterende kortspeeltreffers opgelewer: “The Celtic Soul Brothers”, “Jackie Wilson Said” (‘n weergawe van ‘n ou Van Morrison-liedjie) en “Come on Eileen”, wat Rowland ewigdurende roem besorg het en wat waarskynlik vandag nog vir sy water en ligte betaal, om van die bier en maskara nie te praat nie.

 

Ek wil nog van die mens hoor, met hart só dood dat hy nie met “Come on Eileen” saamsing wanneer hy dit hoor by rugbywedstryde, veerpyltjie-aande of in danshole nie.

 

Die res van sy loopbaan is onbenullig. In 2005 is berig dat Dexy’s Midnight Runners weer bymekaar is en musiek opneem. Hoe hulle lyk, weet niemand nie, en dit lyk nie asof baie mense ontsteld is oor die feit dat Rowland teen 2006 moed opgegee en sy laaste projek stil laat vaar het nie.

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  kevin rowland   dexy's midnight runners  


Waters en Gilmour - 'n soort konsert

Dond 19 Aug 2010, 09:23        1 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Aanhangers van Pink Floyd kan gerus 'n draai maak by http://bigozine2.com/roio/?p=562 om te luister na opnames wat gemaak is tydens Roger Waters en David Gilmour se verrassende gesamentlike optrede by 'n fondsinsameling van die Hoping Foundation op 10 Julie vanjaar.

 

Die twee het vier liedjies gespeel: "To know him is to love him" van Phil Spector, "Comfortably Numb". "Wish you were here" en "Another brick in the wall".

 

Die musici wat hulle bygestaan het, het ingesluit Harry Waters (Roger se seun) en Guy Pratt (wat Roger Waters vervang het in die laaste amptelike Pink Floyd konsertreis).

 

Waters het ingestem om saam met Gilmour op te tree in ruil vir die onderneming deur Gilmour om tydens een van Waters se opkomende uitvoerings van The Wall op te tree.

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  david gilmour   roger waters  


Arcade Fire – The Suburbs

Maan 16 Aug 2010, 15:48        2 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Dis lekker om oor ‘n groep te skryf en geen vrees te hê dat enigiets wat jy gaan sê, oordrewe sal wees nie. Arcade Fire is dié rock-groep van die eerste dekade van die 21ste eeu, en te oordeel na hul nuwe album, The Suburbs, gaan hulle die tweede dekade ook oorheers.

 

Die groep se eerste twee albums, Funeral (2004) en Neon Bible (2007) was albei bakens in die jare van hul uitreiking, met Neon Bible wat gemaklik beskou kan word as dié album van 2007. Hul mengsel van indie-rock en gewoon weerbarstige andersheid is onweerstaanbaar.

 

Die groep is gebou om ‘n egpaar – Win Butler en Régine Chassagne. Hulle word aangevul deur William Butler, Richard Reed Parry,Tim Kingsbury, Dane Mills en Brendan Reed. Die groep bespeel die gebruiklike instrumente (kitare, baskitaar, sintetiseerders, tromme), en vul dit aan met strykers, terwyl iemand soos Chassagne ook die trekklavier, xylofoon, hurdy-gurdy en orrel speel. Die lede van die groep wissel mekaar dikwels op die instrumente af, sodat die klankdinamiek verskuif. Tydens die konsertreis om Neon Bible te ondersteun was daar by tye tot tien musici op die verhoog.

 

Soos mens jou kan indink, gee dit soms geweldig interessante musiek af. Luister na ‘n snit soos “Half Light I” en probeer onderskei waar die strykers begin en die sintetiseerders ophou, of wanneer iemand besig is om soos Hank Marvin ‘n kitaar-refrein te vorm en iemand anders die klank deur sy sintetiseerder jaag.

 

Dis vars, nuwe klanke wat ‘n mens soms lus laat voel om op te spring te skrou dat die berge antwoord gee. Die klavier-intro van die titelsnit, of die refrein van “Half Light II (No Celebration)” met sy magtige kontrapuntale strykers/sintetiseerders se dreuning – die soort dinge wat mens selfs met die eerste luister omslaat.

 

By herhaalde luisters weet jy dat die album selfs beter as Neon Bible is. Die sinisme van Win Butler se lirieke vreet miskien ‘n bietjie dieper, en dikwels, genadiglik, voel mens tref hy ‘n ewige waarheid:

 

But you started a war that we can’t win

They keep erasing all the streets we grew up in

Now the music divides us into tribes

You choose your side, I’ll choose my side”

(“Suburban War”)

 

Ander snitte (“We Used to Wait”, “Wasted Hours”) sal ek bitter graag in ‘n konsert-situasie wil hoor. Dit behoort enorme klank van Floydiaanse proporsies af te gee. Ek het ook geen idee wanneer ek eendag weer daarin sal slaag om die refrein van “We Used to Wait” uit my harspan te kry nie. Of die melancholie van “Sprawl (Flatland)” én die uitbundigheid van “Sprawl (Mountains Beyond Mountains)”.

 

En die lekkerste hiervan is dat ek weet dat ek die hele album eers oor ‘n week of drie heeltemal onder die knie sal hê.

 

Die videogrepe hieronder kom uit die konsert wat die groep vir YouTube gehou het. Dit gee ‘n idee van die opwinding wat hulle genereer. (En arme Régine Chassagne het daardie aand nie heeltemal ‘n nootvaste aand gehad nie!)

 

 

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  arcade fire  


Persoonlike keuses 3

Vry 13 Aug 2010, 17:40        3 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Die ou speletjie - watter liedjies sou ek vandag uitpluk as persoonlike gunstelinge? Hierdie keer val dit in die rigting van sangers en sanggroepe, met ten slotte 'n bietjie anargisme.

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  lisa gerrard   association   spirit   mike oldfield   new radicals  


Blur – Modern Life is Rubbish

Woen 11 Aug 2010, 18:22        2 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Ek kan nie onthou dat ek in 1993 só gevoel het nie – die moderne lewe was op pad na Suid-Afrika. Maar in Engeland, neem ek aan, het Blur soos gebruiklik ‘n klomp mense laat glo dat hulle ‘n misrabele lewe het net omdat die lede van Blur pas hul alies af gewerk het aan ‘n baie lang konsertreis en in die algemeen ‘n baie suur uitkyk op die lewe had weens finansiële nood.

 

Maar soos mens mettertyd van Damon Albarn en Graham Coxon sou agterkom, het Blur nooit voorspelbare dinge gedoen nie. Hulle het ná hul groot konsertreis van 1992 dadelik ateljees toe gegaan en Modern Life is Rubbish  gemaak. In ‘n loopbaan bestooi met sterk albums, is hierdie een my gunsteling. Parklife (1994) was goed, maar nie heeltemal dieselfde klas nie.

 

Ek moet darem byvoeg dat ek Albarn se solo-projek, Gorillaz (2001) meer dikwels herbesoek, maar kom ons bepaal ons by Blur.

 

Modern Life is Rubbish is ‘n prima voorbeeld van die Britpop van die vroeë jare negentig. Jy kan nie daarna luister en terugverlang na die sintetiseerder- en dwelmnagmerrie wat die musiek van die tagtigs was nie. Coxon het kitaar leer speel in die dae toe punk nog vars in die geheue was, en Albarn het musiek geskryf wat hom baie kans gegee het om die snare te looi.

 

Modern Life is juis voorafgegaan deur ‘n kortspeler (“Popscene”) wat punk-elemente met welluidende refreine en horingblasers vermeng het. Toe hulle na ‘n kortstondige flirtasie met XTC se Andy Partridge weer aangesluit het by die produksieleier Stephen Street, het Modern Life gou sy beslag gekry: kragmusiek en saamsingmusiek vermeng, met ‘n deurlopende Britse inslag.

 

Die album het twee kortspeeltreffers opgelewer in “For tomorrow” (wat geskep is nadat die platemaatskappy gekla het dat daar geen natuurlike kortspelers op die album was nie) en “Chemical World”.

 

Owerigens is daar baie variasie: “Pressure on Julian” bevat klank-eksperimente met kragbore, “Sunday Sunday” is music hall met ‘n sterk sweempie Kinks, en daar is twee besonder goeie instrumentele nommers, “Commercial Break” en “Intermission”.

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  blur   stephen street   andy partridge  


Joy Division – Closer

Maan 2 Aug 2010, 16:50        4 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Dit is moeilik om na Closer te luister. Dit is ‘n album met soveel bagasie, omgeef van so baie herinneringe - en woede oor vermorste lewens wat by jou opkom wanneer jy die musiek se konteks onthou.

 

Closer is in 1980 uitgereik, die laaste langspeelplaat waarby Ian Curtis betrokke was voor sy selfmoord. Nadat hy hom op 18 Mei 1980 opgehang het, het die groep eers die ongelooflike kortspeler “Love will tear us apart” uitgereik, en ‘n paar maande later Closer.

 

Joy Division was besig met die opneem van Closer toe Pink Floyd se depro-fees The Wall uitgereik is. Hulle was nog besig daarmee toe AC/DC se uitbundige Back in Black die winkels tref. Curtis het sy laaste maande ingegaan. Peter Gabriel se “Games without frontiers” was ‘n treffer terwyl die groep “Love will tear us apart” opgeneem het. Voor sy dood het Curtis “Ceremony” geskryf, die eerste kortspeler wat Joy Division onder hul nuwe naam, New Order, uitgereik het.

 

Om vandag na Closer te luister, is iets wat ek by voorbaat weet in klein sarsies geskied. Teen die tyd wat die musiek van “Isolation” na “Passover” oorgaan, begin die swaarmoedigheid neersak. Dit is onmoontlik om na die lirieke van “A means to an end” of “The Eternal” te luister en nie te voel hoe Curtis se persona die hele onderneming Joy Division beheer nie – die emosies, sy sang, die enorme eensaamheid.

 

Nou moet mens seker erken dat produksieleier Martin Hannet, wat volgens alle getuienis ook nie vry te spreek is van geestelike onstabiliteit nie, met Closer ‘n monument vir Curtis opgerig het. Die musiek is nie te skei van die produksiewerk nie, die lirieke is nie te skei van die donker klankagtergrond nie.

 

Curtis se dood het ‘n onderdrukte romantiek by die ander lede bevry – asook daardie wilde partytjiedier. Luister gerus na die sprong wat die groep maak van “Love will tear us apart” (hier in die vinniger weergawe voor BBC se kameras) na Closer na “Ceremony”. (Die twee kortspelers is albei te kry op ander albums – mens kan verstaan hoekom eersgenoemde nie by Closer ingesluit is nie. Dit is somber, hartverskeurend somber, maar nie somber genoeg vir Closer nie.)

 

Naskrif: Nou gaan daar vir ‘n week stilte wees – ek is op pad na Smouskolk in die hartjie van die Karoo, waar daar geen elektrisiteit is nie.

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  joy division   new order   ian curtis  


The Herd – Paradise Lost

Woen 28 Jul 2010, 13:39        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Dit klink simpel om dit te sê, maar meeste roemryke loopbane het iewers in onsekerheid en met halwe treffers begin. Peter Frampton het met Humble Pie en later op sy eie groot roem as rock-kunstenaar verwerf. Andy Bown het jare lank die klawerborde vir Status Quo gespeel. Albei het hul loopbane in The Herd begin.

 

The Herd het in die vaarwater van flower power en die wilde psigedeliese somer van 1968 hul naam op die treffersparades gekry met liedjies wat tegelyk eersteklas pop musiek was én psigedeliese elemente bevat het.

 

Hul eerste kortspeler, “I can fly” (ja tannie, dis ‘n verwysing na LSD), is vir hulle geskryf deur hul bestuurders, Ken Howard en Alan Blaikley – dieselfde paar wat die loopbaan en musiek van Dave Dee, Dozy, Beaky, Mick & Tich “bestuur” het. Waar laasgenoemde een van die oëverblindery-groepe was wat uit die ateljee-omgewing na vore gekom het (die groep het nie op al hul plate gespeel nie), was The Herd ongelukkig vir Howard en Blaikley baie ernstige musici.

 

Soos mens kon verwag is Howard en Blaikley onder hul jiste geskop en het Peter Frampton en Andy Bown meeste van die liedjies op hul eerste langspeler, Paradise Lost (1968) gekomponeer.

 

Frampton was ‘n wonderskone jongeling wat net 16 was toe hy by The Herd aangesluit het. Binne ‘n ommesientjie het al wat ‘n tienertydskrif is hom aangewys as die mooiste mens op Gods aarde. Gelukkig kon hy kitaar speel dat die hel op hom staan en had hy ‘n stem wat in skerp kontras gestaan het met sy hoë wangbene en aknee-vrye vel.

 

Die groep se eerste twee kortspeeltreffers, “From the underworld” en “Paradise Lost” was nie vry te spreek van pretensie nie – dit het onderskeidelik aangesluit by die Griekse mitologie en die werk van die digter John Milton. Maar die musiek was betowerend mooi en die komposisies formule-perfekte pop.

 

Hul derde kortspeler, “I don’t wan’t our loving to die”, het vir hulle ‘n deurbraak in die VSA gebring. Dié liedjie tel na al die jare nog as een van my persoonlike gunstelinge – ‘n vreemde soort oer-hip hop.

 

Ná “I don’t wan’t our loving to die” het die groep uitmekaargespat. Bown het hom op ateljeewerk toegespits, ‘n paar jaar lank vir Framton baskitaar gespeel, en in die agtergrond die klawerborde op meeste van Status Quo se albums gespeel totdat hy in 1976 gevra is om ‘n permanente lid van die groep te word.

 

En waar Frampton eers saam met Steve Marriott (ex-Small Faces) in Humble Pie en later as solo-kunstenaar in eie reg roem behaal het, was Bown bestem om een van daardie musici te word op wie se nommer meeste groot kunstenaars elke nou en dan druk. Onder meer was hy die baskitaarspeler van die sogenaamde Surrogate Band tydens Pink Floyd se The Wall-konserte in 1980 en 1981, en het ook klawerborde in die plek van Rick Wright gespeel op Pink Floyd se se The Final Cut

 

Bown het ook twaalfsnaar-kitaar en Hammond-orrel gespeel op Roger Waters se The Pros and Cons of Hitchhiking-konsertreis in 1984, maar daarna het hy tot dieselfde insigte as Rick Wright gekom en Waters soos die pes vermy.

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  the herd   peter frampton   andy bown  


Persoonlike keuses 2

Maan 26 Jul 2010, 15:11        2 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Terug by verlede week se gedagte, ingegee deur ‘n vraag van Anton Goosen: Watter vyf liedjies voel ek, op hierdie dag, is my grootste gunstelinge? Verlede week se keuses vergete. Hierdie keer wissel dit van pastorale musiek tot 'n Belgiese chanteuse tot Australiese pierewaaiers. Luister met die klank vol oopgedraai, veral by die Who.

 

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe: 


Gavin Friday – Shag Tobacco

Maan 26 Jul 2010, 13:45        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Gavin Friday is een van die bekendste onbekendes in die film- en musiekwêreld. As jy lank genoeg in Dublin of Londen deurgebring het die afgelope twee dekades, sou jy ook al in kabaret-verband sy naam gehoor het.

 

Friday is ‘n jeugvriend van Paul Hewson (Bono) van U2, was ‘n stigterslid van die rock-groep The Virgin Prunes, en het van 1987 tot 2005 hoofsaaklik in venootskapmet Maurice Seezer musiek vir ‘n magdom projekte geskep – van films tot kabaret tot CDs.

 

Twee van sy komposisies vir rolprente het groot internasionale welslae behaal. Saam met Bono het hy die liedjie “You made me the thief of your heart” vir die rolprent In the Name of the Father geskryf. Die sangeres was Sinead O’Connor. Andrea Corr (van die Corrs) het weer Friday se liedjie “Time Enough for Tears” gesing in die rolprent In America. O’Connor en Corr is albei vir Grammys benoem vir dié liedjies.

 

‘n Ander hoogtepunt in sy loopbaan tot dusver was sy samewerking met die avant-garde komponis Gavin Bryars met 2007 se Complete Works Festival van Shakespeare se werk. Hy het sy weergawe van Sonnet 40 (“Take all my loves, my love, yes, take them all”) asook die voordrag van Bryars se eie werk “Nothing like the sun” in dié program behartig.

 

Friday se krag lê in sy eiesoortige benadering tot kabaret.  Hy is daarop ingestel om nie die tipiese clichés van kabaret te herhaal nie, maar ‘n verhaal te vertel wat geanker is in die moderne stadslewe. Dit beteken dat hy makliker omgaan met ‘n soms geïdealiseerde romantiek, maar aan die ander kant kan sy musiek ook uiters somber wees.

 

Hy het tot op datum drie albums van oorspronklike materiaal gemaak: Each Man Kills the Thing He Loves (1989), Adam ‘n’ Eve (1992) en Shag Tobacco (1995). Laasgenoemde is loshand die beste, en ook die een waaruit hy die meeste materiaal vir die kabaretverhoog gehaal het.

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  gavin friday   bono  


Anton Goosen – Persoonlike Keuses

Woen 21 Jul 2010, 10:26        1 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Anton Goosen het gister hier sy lys van tien gunstelinge gestuur (na aanleiding van 'n inskrywing op sy Facebook-blad). Hy is duidelik een van ons kerk se mense! Net vir interessantheid hak ek nommers twee tot 6 van sy lysie van tien (sien onder Kommentaar by vorige blog) hier aan. Ons luister vandag na goeie musiek! Met die AC/DC-nommers het ek vroeë opnames, met Bon Scott agter die mikrofoon, gekies. Die Stones-opname is gemaak tydens 'n TV-program in die middel sestigs. Mick Jagger lyk nog ongeskonde. Daar isverskeie opnames van Led Zeppelin wat "Whole lotta love" op die verhoog speel. Die een wat ek aanhak het ek gekies net omdat dit 'n idee gee van die plesier wat die lede van die groep onderling had met die speel van die liedjie. Jimi Handrix se weergawe van "Like a rolling stone" is opgeneem tydens die fameuse Monterey-fees.

 

Anton se lys is:

1. “Like a rolling stone” – Bob Dylan
2.  “Like a rolling stone” – Jimi Hendrix
3.  “A whole lotta rosie” – AC/DC
4.  “Let there be rock” - AC/DC
5.  “Whole lotta love” – Led Zeppelin
6. “(I can’t get no) Satisfaction”- Rolling Stones

7. “Werewolves of London” - Warren Zevon
8. “Visions of Johanna” – Bob Dylan
9. “Imagine” - John Lennon
10. “We are the waiting” - Green Day

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  anton goosen   jimi hendrix   ac/dc   led zeppelin   rolling stones  


Persoonlike keuses 1

Dins 20 Jul 2010, 12:50        5 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

Anton Goosen vra op Facebook watter rock- of pop liedjies mense se gunstelinge is. Mens kan omtrent vir ewig aanhou om sulke lyste te maak, salig getroos in die wete dat jy, wat jouself betref, volkome in die kol sal wees solank jou huidige bui voortduur. Gaan jou lysie egter oor ‘n maand dieselfde lyk?

 

Ek het hom laat weet wat myne tans is, en toe besef dit sal lekker wees om daardie liedjies te kyk ook. Vandaar hierdie kort bloggie.

 

Daar is nie (hoe onwaarskynlik dit ook mag klink) op YouTube ‘n behoorlike weergawe deur Bob Dylan van “Like A Rolling Stone” nie. Toe dupliseer ek maar die AC/DC-liedjie, albei skitterende weergawe. Fliekvlooie sal die een herken.

 

Oor ‘n week of wat kyk ek weer na dieselfde vraag!

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  pink floyd   bob dylan   ac/dc   booker t & the mgs   lynyrd skynyrd  


Tom Petty and the Heartbreakers

Vry 16 Jul 2010, 15:52        1 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Die groot voordeel van musiek via die Internet koop en aflaai is dat dit soveel makliker is om toe te gee aan die versoeking. So ‘n paar weke gelede kom ek agter dat my CD van Tom Petty se Full Moon Fever net ‘n houer is en dat een of ander swernoot die CD self vir eie gebruik gewen het. En toe ek eers agterkom hoeveel van Petty se ouer CDs ek nie het nie, en hoeveel van sy meer onlangse CDs op een of ander manier nooit my aandag getrek het nie, het ek besluit om maar te belê in die volle discography. Mens is net eenmaal jonk.

 

Die eerste Petty-album wat my aandag getrek het, was Damn the Torpedoes van 1979. Die ander groot album van daardie jaar was Pink Floyd se The Wall, wat nie juis as gemaksmusiek bestempel kan word nie. Petty se musiek, daarenteen, was bronstig, gespierd, en as die man depressief was, dan het mens dit nie opgelet nie. Trouens, die meeste snitte flirteer met mismoedigheid en negatiwiteit op ‘n manier wat mens opgewonde maak oor die lewe.

 

Dié album het die groep, en Petty, op ‘n lang en roemryke loopbaan gelanseer. Dit het só ‘n goeie indruk gemaak dat Mick Jagger verklaar het Petty laat hom lus voel om sy seksuele oriëntering te verander. Nugter alleen wat Petty daarvan gedink het.  Hy het nietemin aan die versigtige kant gebly en nie vir Jagger genooi om een van die Travelling Wilburys te word nie.

 

Petty se oeuvre tot op datum is ontsagwekkend. Mens moenie probeer om alles na mekaar te luister nie – daar is ‘n eenselwigheid te bespeur. Sprei die albums ‘n bietjie uit, en keer ten minste een keer per dag na Damn the Torpedoes of Full Moon Fever terug.

 

Maar as jy nie alles wil kry nie, wat is die noodsaaklike aankope? Die drie Tom Petty solo-albums is ‘n goeie beginpunt: Full Moon Fever (1989), Wildflowers (1994) en Highway Companion (2006).

 

Post Damn the Torpedoes is daar twee absoluut noodsaaklike albums, naamlik Hard Promises (1981) en Southern Accents (1985). Long After Dark (1982) en Let Me Up (I’ve Had Enough) (1987) is nie so onmiddelik in hul trefkrag nie, maar albei het treffersnitte opgelewer.

 

Die volgende album wat jou geld werd sal wees, is Into the Great Wide Open (1991), wat gespog het met Jeff Lynne as produksieleier en die reusagtige treffer “Learning to Fly” bevat het.

 

Wat die oorblywende albums betref, het die uniekheid van Echo (1999) my nog nie getref nie. The Last DJ (2002) was egter in dele ‘n skitterende album. Die titelsnit laat mens van vooraf verlief raak op ‘n 12-snaar kitaar.

 

Ek het nog nie Mojo, wat ‘n maand gelede uitgereik is, in die hande gekry nie. Maar dit is oorsee taamlik geesdriftig ontvang.

 

Een van die groep se DVDs is aanbevelenswaardig: Soundstage Presents Live in Concert (2005).

 

Interessante dinge oor die videogrepe hieronder: George Harrison en Ringo Starr is te hoor en sien op “I won’t back down”; in “Don’t come around here no more”, van Southern Accent handel oor twee dinge – die einde van ‘n verhouding en Alice wat ‘n psigedeliese ondervinding saam met die groep het; “Refugee” is die liedjie wat Mick Jagger gaande had.

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  tom petty   tom petty and the heartbreakers  


Tiger Lillies (with Kronos Quartet) – The Gorey End

Maan 12 Jul 2010, 11:29        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Die naweek se rugby en sokker was vir my effe traumaties. In sulke omstandighede help Mozart nie, Brahms help nie, Keith Jarrett se Köln Concert help nie. Trouens, mens wil juis nié na dinge luister wat sielsverheffend is nie. Jy wil na iets luister wat jou daaraan herinner dat die lewe ‘n donker sy het, ‘n siek sy, en dat daar mense is met wie dit nooit so goed sal gaan soos met jou in jou post-naweek depressie nie. Wie beter as die Tiger Lillies?

 

Die groep bestaan uit Martyn Jacques (sang, trekklavier, klavier, kitaar, bekfluitjie, ukelele en banjo), Adrien Huge (tromme, slaginstrumente en agtergrondsang) en Adrian Stout (kontrabas, saag, theremin en agtergrondsang).

 

Nou, die feit dat hule die eerste groep sedert die Beach Boys is wat die theremin gebruik, het dadelik my aandag getrek. Maar sodra mens begin luister, besef jy dat die Tiger Lillies ‘n kabaret-groep is wat gebou is rondom Martyn Jacques en daardie vreesaanjaende falsetto-sangstem van hom. (Hy het sewe jaar lank in ‘n Soho-hool gewoon en sy sangstem vervolmaak. Die blyplek het duidelik afgesmeer aan sy siening van die mensdom.)

 

Jacques is die groep se liriekskrywer en sy somber siening is wat die groep interessant maak. Hy vat sy onderwerpe as volg saam: “seksuele perversies, die smerige onderwêreld, die grusame, die makabere en die randfigure.” Dit verskaf hom groot genot wanneer mense opstaan en uitloop uit die groepse konserte, want dan weet hy waaroor daardie mense skaam is. Gelukkig weet hy nie wanneer ons ophou luister nie.

 

Jacques is betrokke by die “junk opera” Shockheaded Peter. The Gorey End is ‘n projek wat daarnaas ontwikkel het – gebou rondom illustrasies van die kunstenaar Edward Gorey, en met die Kronos Quartet as trawante met die musisering. Die snitte handel oor ‘n groep mense in die gevangenis – elke snit beskryf die lewensverhaal van ‘n gevangene. In kleurryke, aaklige detail. Kabaret ken mos nie grense nie!

 

The Gorey End is in 2004 benoem vir ‘n Grammy, maar het dit vreemd genoeg nie gewen nie.

 

Kyk, nou voel mens al beter. Hup, Holland. Agge nee, Bakkies.

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe:  tiger lillies   martyn jacques  


Mary Gauthier

Dins 6 Jul 2010, 12:13        2 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 


Miles het op sy Birds With Broken Wings-musiekblog nou onlangs ‘n versameling liedjies onder die titel On My Imaginary Radio bekend gestel. Een van die liedjies in daardie lys is “Falling out of love” van Mary Gauthier. Ek het besef ek gaan baie vinnig meer van haar musiek in die hande moet kry toe sy die volgende sing:

 

“It’s a cheap hotel, the heat pipes hiss

The bathroom’s down the hall and it smells like piss

It’s another night in another town

And I’m another blues traveler headed down

Falling out of love is a dangerous thing

With its slippery slopes and its weighted wings

With its birds of prey circling overhead

Casting vulture shadows on barren beds”

 

Die liedjie, kom ek toe na ‘n soektog op Gracenote agter, is op die album Mercy Now, wat in 2004 uitgereik is. Dit is ‘n wonderlike album. Die ander CDs wat ek by internet-winkels in die hande kon kry, is The Foundling (2010), Between Daylight and Dark (2007), Filth and Fire (2002) en Drag Queens and Limousines (1999). Ek is nie met een van hulle teleurgesteld nie, maar verkies Mercy Now en The Foundling in my ore.

 

Die bietjie geskiedenis wat mens van haar agterkom op Wikipedia, is dié van ‘n verworpe kind wat van haar pleegouers weggeloop het op ouderdom 15, haar tot drank en dwelms gewend het toe sy nie tot aanvaarding van haar lesbiese seksualiteit kon kom nie, en só moeilikheid gemaak het dat sy haar 18de verjaarsdag in die tronk deurgebring het. Daarna het sy filosofie aan die Louisianna State University gaan bestudeer, en ‘n restaurant in Boston begin. Die restaurant is verkoop om te betaal vir die opnames van haar tweede album – geld wyslik belê, want die album, Drag Queens and Limousines, het haar deurbraak gebring.

 

Haar musiek het heelwat raakpunte met die van k.d. lang, maar die kunstenaar aan wie sy die meeste herinner, is Jim White (van Wrong-Eyed Jesus-faam). Die musiek lê iewers tussen country en alt-country, en haar lirieke straal met integriteit. Uiteraard sing sy meestal oor hoogs persoonlike sake, en dit val nogal op dat sy vir ‘n 48-jarige persoon nogal ‘n onstuimige liefdeslewe het.

 

Toets die musiek hieronder gerus uit, en doen dan wat jy weet jy moet doen.

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe: 


Vroeë Deep Purple

Vry 2 Jul 2010, 09:39        2 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

Dis ‘n bekende aksioom in rock-musiek dat tromslaners sterk moet wees, maar nie skrander nie. Wat ‘n mens moet maak van Chris Curtis, eens tromslaner van die Searchers, wat ‘n sakeman, Tony Edwards omgepraat het om ‘n groep met die naam Roundabout te bestuur, dit sal mens self moet besluit. Die gedagte was dat die groep lede kon werf en weggooi na gelang van die musiek wat hulle maak. Die eerste lid wat toe na die eerste paar konserte permanent gepos is, was Curtis self.

 

Die groep het mettertyd Deep Purple geword, en Curtis se idee van wisselende personeel was vergete. Twee van die vroeë rekrute, Nick Simper (baskitaar) en Rod Evans (sang) het net gehou tot na die groep se tweede plaat, The Book of Taliesyn (1968), maar die kern van Ritchie Blackmore (kitaar), Jon Lord (orrel) en Ian Paice (tromme) was gevestig.

 

Aanvanklik het die groep erg gesukkel om ‘n musikale identiteit te vind. Hul eerste treffer, “Hush”, was ‘n opgewarmde weergawe van ‘n Joe South-liedjie. The Book of Taliesyn het weergawes van Ike & Tina Turner se “River Deep Mountain High” en Neil Diamond se “Kentucky Woman” bevat. Hul eponieme derde plaat (1969) het gespog met ‘n weergawe van Donovan se “Lalena”.

 

Blackmore wou gehad het die groep moet soos die Amerikaners Vanilla Fudge klink, terwyl ander filosowe spore van J.S. Bach en Rimsky-Korsakov in Jon Lord se orrelspel opgetel het. Op die groep se derde album het die snit “April” geglinster met strykers en koperblasers as bykomende instrumentaliste.

 

En toe, in 1969, het die groep Jon Lord se concierto vir rock-groep en simfonie-orkes saam met die Londense Simfonie-Orkes uitgevoer, onder leiding van Malcolm Arnold. Ritchie Blackmore, wat volgens alle getuienis ‘n taamlik zef was, wou nie met sulke dinge geassosieer word nie, en het daarom aangedring dat die groep terugkeer na rock-musiek. Met hul nuwe sanger, Ian Gillan, in volle swang, het hul volgende poging, Deep Purple in Rock (1970), vir hulle die deurbraak gebring wat hulle nodig gehad het.

 

Teen hierdie tyd was hul dinamiek eenvoudig: Paice se tromme en Roger Glover se baskitaar het die ritme-bed geskep waaromheen Lord se orrel, Blackmore se kitaar en Gillan se furie-agtige sang kon sports maak. En hulle het. Die album het drie van die groep se bekendste nommers opgelewer: “Black Night”, “Speed King” en “Child in Time”.

 

Deep Purple in Rock is in 1971 opgevolg met Fireball, met groot welslae.

 

Maar dit was hul daaropvolgende album, Machine Head van 1972, wat hulle ewigdurende roem besorg het. Dit is ‘n fenomenale album. Uitstekende rock-musiek, agressief en sensitief, as ek dit so kan stel. En dit het een klassieke rock-liedjie bevat: “Smoke on the Water”.

 

Die liedjie is deel van rock-musiek se tydlose legendes. Die groep was in Desember 1971 in Montreaux, Switserland, om die album in die Casiono op te neem met die Rolling Stones se mobiele-ateljee. Maar toe brand die Casino af tydens ‘n konsert van Frank Zappa and the Mothers of Invention. Die album is toe in die Grand Hotel opgeneem, maar die brand het die groep ‘n liedjie besorg!

 

Deep Purple se pad hierna is wankelrig. Skielik het die Roundabout-idee ingeskop, en lede het gekom en gegaan. Soms interessante musiek, maar niks op die vlak van Machine Head nie.

 

Geniet die konsertopnames hieronder. Die ene van "River Deep Mountain High" is in 1968 by Inglewood opgeneem, sans video.

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe: 


The New Pornographers – Challengers

Dins 29 Jun 2010, 11:32        0 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

TNP is ‘n Kanadese indie-groep – op ‘n manier. Die groep bestaan uit musici wat almal aktiewe lede van ander groepe is, of self solo-loopbane aan die gang het. Maar hulle deel ook ‘n vreemde estetiese ideaal – om die ou konsep van “power pop” te laat herleef.

 

Die lede is Dan Bejar (van Destroyer, Swan Lake en Hello, Blue Roses), Kathryn Calder (Immaculate Machine), Neko Case (solo-kunstenaar, maar ook lid van Maow, die Corn Sisters en Cub), John Collins (The Evaporators), Kurt Dahle (Limblifter en Age of Electric), Todd Fancey (solo-kunstenaar, asook lid van Limblifter), Carl Newman (hy tree op as die solo-kunstenaar A.C. Newman, maar is ook lid van Superconductor en Zumpano), en Blaine Thurier (wat ‘n rolprentmaker van nering is).

 

Die groep kry dit reg om hul pop-ideale te verwesenlik deur veral hul sang – Newman, Bejar, Case en Calder tree om die beurt as hoofsanger op terwyl die ander die agtergrondsang verskaf. Newman en Bejar skryf hul musiek.

 

Die naam? Ofskoon die Kanadese media wyd berig het dat die groep se naam ‘n verwysing is na iets wat die Amerikaanse tele-evangelis Jimmy Swaggart gesê het (rock-musiek is die nuwe pornografie), hou Newman vol dat hy die groep só gedoop het na die sien van ‘n Japanse rolprent getiteld The Pornagraphers.

 

Hul albums tot dusver: Mass Romantic (2000), Electric Version (2003), twin Cinema (2005), Challengers (2007) en Together (Mei, 2010). Mass Romantic is in 2007 aangewys as die 24ste beste indie-album van alle tye deur die tydskrif Blender. Volgens die Rolling Stone-tydskrif was Electric Version een van die 100 beste albums van hierdie dekade.

 

As jy nuuskierig geneg is, begin luister by Challengers  die mees toeganklike, popperigste van hul albums.

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe: 


Bill Wyman’s Rhythm Kings

Woen 23 Jun 2010, 15:02        1 Kommentaar     Rapporteer Misbruik

 

 

Toe die rock-kitaarspeler Peter Frampton elf was in 1961, was hy ‘n lid van die pop-groep  The Preachers, wie se bestuurder Bill Wyman van die Rolling Stones was. Amper veertig jaar later speel hy kitaar in Bill Wyman’s Rhythm Kings, ‘n groep wat aan die konsep swaaibal kosmiese dimensies gee.

 

Frampton is een van verskeie groot name wat in Wyman se Rhythm Kings gespeel het sedert hy in 1997 met hierdie nuwe deel van sy loopbaan begin het.  Die amper permanente kern van die groep (so bykans permanent as wat bykans kan kom) is Wyman (baskitaar), Graham Broad (tromme), Georgie Fame (orrel), Albert Lee en Terry Taylor (kitare), Gary US Bonds (sang), Mick Taylor (kitaar), Jack Bruce (baskitaar), Beverley Skeete (sang) en Gary Brokker (einste hy van Procol Harum as klavierspeler).

 

Wyman het die Stones in 1992 verlaat omdat hy keelvol was van die lang hiate tussen hul konserte, en omdat hy dik was daarvan om na Mick Jagger se dartelende skraal figuur en fameuse boude voor hom op die verhoog te kyk.

 

Met Terry Taylor as musiekvennoot (hul verbindtenis strek terug na die laat sestigs) het hy ná ‘n paar flouerige solo-plate en die kortstondige Bootleg Kings-projek uiteindelik die Rhythm Kings aan die gang gekry. Hulle het tot op datum al ses albums en twee DVDs agter hul naam, maar hulle spits hulle meer op konserte toe.

 

Die plesier van hul musiek lê daarin dat niemand eintlik iets moet bewys nie. Daar is ‘n rustigheid en kalmte wat mens eintlik geen ander keuse gee as om self taamlik hups in jou stoel te sit en word nie. Luister maar hoe sing Brooker “Daydream”, of Skeete die ou Rascals-treffer “Groovin’”.

 

Kyk na die videogrepe hierby. George Fame sing en werk die karma agter sy orrel, Gary Brooker geniet hom so gate uit dat hy soms agter sy klavier opstaan net sodat hy weer kan sit.

 

Op ‘n manier herinner hul musiek aan JJ Cale in ‘n katoolse bui, en net sodra jy gewoond is daaraan, kom daar suggesties van goeie, deurleefde blues, en dan, onverwags, iets van Brian Setzer se bop. ‘n Regte musikale hutspot, maar nie een van hul albums het ‘n teleurstellende snit op nie.

 

Gaan soek dit!

 

Hul albums is:Struttin' Our Stuff (1997), Anyway the Wind Blows (1999), Groovin" (2000), Double Bill (2001), Just for A Thrill (2004) en Rhythm Kings (2006).

 

Bill Wyman word op 24 Oktober vanjaar 74.

 

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar op hierdie pos...

Onderwerpe: 


Bladsy 
1   2   3   4   5   6   | Volgende

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

Kerneels

Geslag: Male Send Message Stuur Boodskap
Stad: Cape Town Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: South Africa Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 13329
Kommentaar: 209
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 19 intekenaar(s)

Kentekens

Onlangs Opgedateer

abrham abrham Adage Adage tronkie tronkie
Girl, Inter... Tishke mense? Antoinette Ervaringe, ... Papeslaai

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec