Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

Profile photo of crito

by crito

Stof tot stof

Junie 26, 2019 in Uncategorized

Stof en ster, deur Pieter Fourie. Resensie: Fanie Olivier. (Boeke24)
’n Belangriike resensie. Lof waar dit toekom, kritiek ook, maar Olivier vra eintlik hoekom die uitgewer sy taak nie nagekom het nie. Beskerm die digters teen oorhaastige publikasie.

In ’n land sonder voëls, deur Harry Kalmer. Resensies: Jean Meiring (Rapport Boeke) en Johan Myburg (Boeke24)
Mens voel lus om vir die resensente dankie te sê.

’n Stukkie van die legkaart, deur Rina Venter. Resensent: Herman Giliomee. (Rapport Boeke)
Die verlede is vol foute. Sommige daarvan is meer onlangs gemaak as ander. Ons kan nou niks meer daaraan doen nie. Behalwe Rina Venter se heldere terugblik na waarde skat. Sirkels, altyd die sirkels.

Smit Motors, deur Réney Warrington. Resensie: Maryke Roberts (LitNet)
Resensies wat begin by die persverklaring wat die boek vergesel is moeilik. Ek vorder nie verder as daardie verwysing nie.

Sara, deur Maretha Maartens. Resensie: Barend van der Merwe. (LitNet)
Die resensent stry moeding teen die verveling.

50 Blertse blou, deur Blouwillem. Resensent: Hennie van Deventer. (LitNet)
Hoekom skryf Hennie van Deventer nie meer resensies nie? Hy doen dit so vriendelik.

Profile photo of crito

by crito

‘n Ontplooiing van wonderlikhede

Mei 29, 2019 in Uncategorized

Jan, Piet, Koos en Jakob, deur Loftus Marais. Resensie: Charl-Pierre Naudé. (Rapport Boeke)
Een frase vang my oog en máák hierdie resensie: “vars soos vis op die vensterbank”. Vir mense wat, soos ek, traag lees aan besprekings oor digbundels, is só ’n frase genoeg om die aandag te trek, en te hou. Ek lees die resensie ’n paar keer, sien hoe Naudé self konneksies inbou in sy lesings: “…daar is dié slag iets forensies aan Marais se gedigte, wat die leser vra om nie die oogopslag van dinge te vertrou nie.” Vars vis op die vensterbank? Hóé vars? Vensterbank? Die resensie is ’n ontplooiing van wonderlikhede, die digbundel danksy Naudé se verkenning onverwags iets wat ek wil besit, wil lees. Dankbaar!

Om tot verhaal te kom, deur Lizette Rabe. Resensie: Kobus Burger (Rapport Boeke)
Die afsterwe van my ma maak hierdie boek vir my baie tydig. Daar bly mos baie dinge ongesê. Tog laat Kobus Burger se resensie my met gemengde gevoelens. Hy swaai uit die staanspoor lof toe, maar sodra hy skryf dat dit belangrik is dat die voornemende skrywer die volledige lys moets en moenies in hierdie boek bestudeer, gooi ek ankers uit. Dit is makliker om sommer in my gedagtes met my ma te praat. Hier is nou ’n uitstekende voorbeeld van ’n bespreking waarvan die eerste sewe paragrawe lesers vir ’n boek wen, terwyl meeste van die paragrawe daarna hulle weer sal afskrik.

Wreed én mooi is die dood, saamgestel deur Tobie Wiese. Resensies: André Bartlett (Boeke24) en Herman Lategan (Rapport Boeke)
Ek moet beken dat ek die boek reeds aangeskaf het, en is bly om te sien dat albei resensente veral diep onder die indruk is van die bydrae van Karin Brynard. Dit is sekerlik een van die mees ontroerende stukke skryfwerk wat ek nog ooit in Afrikaans gelees het. En juis daarom was dit interessant om te sien hoe uiteenlopend Bartlett en Lategan hul besprekings aangepak het, wat die dinge is wat hulle aanhaal, en hoe hulle by dieselfde slotsom uitkom. Ek is net nuuskierig om te weet hoe lank hulle geneem het om die bundel deur te werk – die lees van hierdie bundel is nie iets wat enigiemand in een sitting kan afhandel nie. Dis vir my heeltemal gepas dat Lategan vir Valda Jansen aanhaal oor die eensame pad wat mens loop ná die dood van iemand na aan jou.

Profile photo of crito

by crito

Pret met die plaaslyn

Mei 20, 2019 in Uncategorized

André P. Brink en die spel van liefde, deur Leon de Kock. Resensies: Jean Meiring (Rapport Boeke) en Joan Hambidge (Boeke24)

Joan Hambidge gebruik Nommer asseblief as aanknopingspunt om haar bespreking te begin: “Hierdie biografie aktiveer die Afrikaanse letterkunde as een groot plaastelefoon met vele inluisteraars.” Ek moet beken dat ek nie meer die plaaslyn het nie. Selfoon-tyd. Anders gestel: André Brink die mens interesseer my nie werklik nie.

Maar ’n mens weet mos nooit. Al deel ek LI Bertyn se siening dat Brink ’n “ietsiepietsie slimmer [is] as wat hy eerlik is”, verwonder ek my aan die slimmigheid verbonde aan die skryf van joernale. Wou hy hê iemand anders as hyself moes dit lees, of nie? Duidelik het sy literêre eksekuteurs gevoel dat hy wou. Leon de Kock het volgens albei resensente sy kans besonder goed benut.

“De Kock se boek is noodsaaklike leesstof. Dit priem Brink oop soos min ander biograwe op Afrikaans al met ’n skrywer se skeppende binnewêreld kon regkry,” sê Jean Meiring. Joan Hambidge raak die sensitiewe kwessie van reg op privaatheid aan, en dat daar mense sal wees wat “’n hele paar keer [gaan] stik van verontwaardiging én verbystering. Veral omdat jy nie hierdie boek kan neersit nie.”

Meiring het sowel die Engelse as Afrikaanse weergawes van die boek gelees, wat hom die ruimte gee om meer indringende kritiek op die leemtes van die Afrikaanse weergawe te lewer as Hambidge. Andersins raak hulle onder meer baie van dieselfde aspekte aan en word hierdie een van daardie gevalle waar die voordeel van meerdere resensies deur top-resensente baie duidelik blyk.

Sowel Meiring as Hambidge kry dit reg om – danksy hul eiesoortige styl en formuleringsmetodes – iemand wat nie gretig is om vir hierdie spesifieke saak gewen te word nie, van houding te laat verander. Albei resensies dra kerninligting oor; eweneens dra albei sorg om niks te verklap wat die lees van die boek sal bederf nie. Hambidge is eerlik oor bysake (as iemand wat op gemene wyse deur Brink behandel is in ’n roman) maar haar resensie daal hoegenaamd nie na die vlak van “payback time” nie.

Die lees van hierdie resensies was suiwer plesier. Meiring s’n is vir my iets besonders, terwyl die genot wat Hambidge geput het uit die skryf daarvan opvallend is, en haar strategiese uitpak van die resensie se argumentasie van haar heel beste werk is.

Die onlangse lotgevalle van die biograaf laat my vermoed dat dit sinvol sal wees om een van Hambidge se stellings op te volg: “’n Mens sou inderdaad De Kock se eie sieninge oor seks (en liefde) soos beskryf in sy tekste kon betrek om te verstaan hoe hy Brink se joernale benader. ’n Mens sou dan ’n psigoanalitiese studie … kon maak van sowel die biograaf as die geskryfde.” Of miskien liewer nie!

Wil ek na dese die boek lees? Ja, maar …

My onsekerheid spruit uit iets wat albei die resensente opper: Die Kock se gebruik van skuilname vir sommige van die mense wat Brink se joernale gehaal het. Is dit vir oningewydes moontlik om volle waarde vir hul geld te kry?

Meiring maak die geldige punt dat mens hulle deur ’n eenvoudige soektog op die internet kan vasstel (bv Brink se vierde vrou se naam), terwyl Hambidge sê dat ’n literêre speurder onmiddellik sal weet wie een van die anonieme figure is. Ensovoorts. Maar as jy nóg literêre speurder nóg internetgeneigde is? Nie soveel pret aan die plaaslyn nie, dis gewis.

Profile photo of crito

by crito

Aangename weersiens

Mei 16, 2019 in Uncategorized

Bloedlelie, deur Jeanette Ferreira. Resensie: Francois Smith (Rapport Boeke)
Francois Smith resenseer nie die koerante voos nie. Wanneer hy die slag ’n kans kry, is dit ’n voorreg om te kyk hoe hy sy resensie beplan, watter inligting hy gebruik, watter aanknopingspunte hy benut. Onverskrokke – kyk net na sy tweede patagraaf, waarin hy dié roman oor Piet Retief in verband bring met Black First Land First. Dit oomblik dat hy dít doen, gee hy die teken dat hy nie sal skroom om sake by die naam te noem nie. En dan gaan hy juis heen, soos ’n gesoute resensent betaam, om die soort resensie te skryf wat selfs iemand met ’n aktiewe renons in die Afrikaner se geskiedenis in te trek in die bekoring en trefkrag van Ferreira se boek, sonder dat hy ooit swig voor die versoeking om uitsprake te maak oor eietydse politiek. Hy verklap geen geheime nie, maar spreek bewondering uit.

Smit Motors, deur Réney Warrington. Resensie: Annie Gagiano. (Rapport Boeke)
Annie Gagiano is ’n resensent wie se naam ek jare laas in ’n Afrikaanse koerant gesien het. Dit is ’n aangename weersiens. Haar benadering is onverwags. Sy analiseer nie, sy verduidelik nie. Sy som die verhaal op. Gewoonlik die soort resensie wat my grys hare gee – as ek die verhaal wil lees, sal ek dit self doen, ek het nie ’n opsomming nodig nie. Maar Annie Gagiano se benadering werk voortreflik omdat sy by implikasie oordele uitspreek oor die karaktewrisering, oor die vertelling, oor die verwikkeldheid van die gegewe. In een geval, waar sy vir my gevoel probeer aandui dat die skrywer nie genoeg tyd aan ’n karakter afgestaan het om haar aan volheid te laat wen nie, sê sy net die persoon is ’n “vae karakter”. Mens moet stip lees, want hier staan baie meer as wat ’n vinnige lees van die resensie jou laat dink. En ek hou ook van die manier waarop sy enige kritiek teen haar resensiemetode besweer: “Diegene wat meen ek het reeds te veel verklap in hierdie resensie, sal wel met hul eie lees van die roman agterkom dis ’n komplekse storie met nog baie ander draaie en dinge.”

Wanneer bloekoms dans, deur J.M. Gilfillan. Resensie: Thys Human. (Boeke24)
Thys Human is ’n akademikus, en skryf sy resensies met die deeglikheid van ’n vakman. Wat hom iets besonders maak, is die afwesigheid van vakkundige terminologie, en sy vermoë om die koerantlesers te sjarmeer met sy formulerings. Eendag wanneer iemand weer ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis skryf, sal daar by die inskrywing oor J.M. Gilfillan teruggeval word op van die dinge wat Human in hierdie resensie neergepen het. En dit is reg so. Hy het my vir die boek gewen – ek het dit gister aangeskaf. Het na aanleiding van hierdie resensie dadelik “Byeenkoms van die eensames” gelees, en toe op op my rak gaan soek na CM van den Heever se “Leuens”. Daar is weinig groter vreugde as ’n dag wat skielik met die gretige lesery van ‘n boek gevul word danksy ’n resensie nie.

’n Spook in die huis, deur François Loots. Resensie: Jonathan Amid (Boeke24)
’n Baie welkome resensie. Dis nou wel nie baie komplimentêr teenoor die roman nie, maar dit maak ’n einde aan die indruk wat by my ontstaan het dat Jonathan Amid nie daarvan hou om negatiewe resensies te skryf nie. Hier doen hy dit besonder goed – in baie opsigte net so ’n groot pluimpie as wanneer mens sê ’n positiewe resensie is baie oortuigend. Dis nie maklik om negatiewe resensies te skryf nie. Amid motiveer sy kritiek met sekerheid en ek het end-uit gelees, al het ek besef die valbyl gaan die nek tref. Die enigste belemmering, nes by Jean Meiring se bespreking van dieselfde boek, is dat ’n resensent maar in gevalle soos hierdie korte mette kan maak.

Karaktermoord, deur Carina Diedericks-Hugo. Resensie: Org Potgieter (LitNet)
’n Aanmoedigende resensie, heel vaderlik en effens outyds konserwatief (vgl opmerkings oor kru taal, sekstonele en afstootlike karakters). Maar hy het dit geniet.

Profile photo of crito

by crito

Overdaad

Mei 1, 2019 in Uncategorized

Boodskapper van die gode, deur Murray La Vita. Resensie: Jean Meiring (Boeke24)
’n Spook in die huis, deur François Loots. Resensie: Jean Meiring (Rapport-Boeke)
Om binne twee dae twee nuwe resensies deur Jean Meiring te lees, behoort die soort ding te wees waarna mens uitsien. Ek het al dikwels genoem dat sy taalgebruik my baie groot vreugde verskaf. Wanneer ek sien daar is ’n resensie deur Jean Meiring op die blad, stel ek eers alles uit om dit te lees. Hy het ook die insig en wye belesenheid wat hom in staat stel om vinnig tot die kern van ’n publikasie deur te dring, en dit tot die resensieleser se voordeel onder woorde te bring. Ek begin wonder of hy nie meer kieskeurig moet wees met die resensie-opdragte wat hy aanvaar nie. Hierdie twee resensies was vir my om uiteenlopende redes teleurstellend. Met Murray La Vita se boek het ek die gevoel gekry dat hy ’n soort pastiche probeer skryf, iets in die trant van La Vita se onderhoude met nuuswaardige persone. Die resensie word essay, die onderwerp Meiring se leeslewe, met La Vita se skrywes as kapstok. Die aspek wat ek altyd so voortreflik van Meiring se resensies vind, naamlik sy taalvirtuositeit, word in die proses té gestileerd en opdringerig. Irriterend. Sy bespreking van François Loots se ’n Spook in die huis is nie ’n swak resensie nie, trouens, dit is ’n puik resensie. Maar iets hinder, en met die herlees van die resensie besef ek dat Meiring 1325 woorde gebruik het vir ’n boek wat op die meeste 400 woorde verdien, en geresenseer behoort te gewees het deur iemand met meer aanvoeling vir die soort roman wat Loots skryf. Meiring kritiseer in detail – en lewer die soort kritiek wat ’n skrywer sou gehelp het as dit in ’n keurverslag was. Hierdie resensie vernietig die boek en kwes die skrywer. Mens gebruik  nie ’n AK-47 om ’n uil te skiet nie.

Profile photo of crito

by crito

Skok en humor

April 17, 2019 in Uncategorized

Ondier, deur Jan Vermeulen. Resensie: Jonathan Amid (Boeke24)
Wanneer mens reeds ’n boek gelees het en dan eers na ’n resensie daarvan kyk, wonder jy dikwels of jy die resensie self anders sou aangepak het. Ek kan nie dink aan ’n ander manier as dié wat Amid gebruik het nie: Inligting, verhaal, en altyd ’n implisiete waarskuwing dat die roman nie geskik sal wees vir mense wat nie die grafiese voorstelling van geweld en die gevolge daarvan kan hanteer nie. Die kuns is natuurlik hoe mens laasgenoemde verpak, en Amid kry dit oortuigend reg sonder om ooit te klink of hy self gesteier het voor die aanslag. Hy moet net versigtiger omgaan met die begrip argetipes.

Wanneer bloekoms dans, deur J.M. Gilfillan. Resensie: Anna Kemp (Rapport-Boeke)
Dis goeie nuus dat J.M. Gilfillan weer ’n bundel kortverhale gepubliseer het. Wat ek van Anna Kemp se resensie daarvan hou, is die oorgawe en begrip waarmee sy die verskillende verhale benader en takseer. Wat my wel van die resensie pla, is dat sy geen aanduiding gee van hoe die verhale bou op Gilfillan se vorige bundels, en waar die ontwikkeling en nuwe groeipunte in haar skrywerskap is nie.

Jan, Piet, Koos en Jakob, deur Loftus Marais. Resensie: Louise Viljoen (Boeke24)
Louise Viljoen skryf nie ’n swak resensie nie. Niks ontgaan haar oog nie. As sy ’n bundel resenseer soos sy hierdie nuwe worpeling van Loftus Marais resenseer, baat sowel digter as resensieleser. Wat is die een waarneming oor die bundel wat ek sa onthou? Die een waarin sy die eienskap noem wat Marais van al se eweknieë onderskei – humor.

Profile photo of crito

by crito

Nuwe insig

April 3, 2019 in Uncategorized

Legkaart van ’n jong lewe, deur Dolf van Niekerk. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
Resensies oor boeke het altyd ’n ekstra dimensie wat die boek waaroor dit handel, nie het nie. Soms benut die resensent dit; helaas, in meeste gevalle benut hulle dit nie. Joan Hambidge skryf oor Van Niekerk se essays en slaan jou oë op die inhoud van die bundel. Tussen al haar opmerkings is daar een wat dadelik my aandag gevang het, wat daardie ander dimensie moontlik maak: “Soms neem hy jou na gedigte wat jy nou anders vertolk …” Die implikasie is dat die essays op een plek vir die resensent tot ander insigte gebring het. Wat mens wil weet, is watter gedigte ter sprake is, hoe het sy dit voorheen vertolk, en hoe vertolk sy dit nou. Ek brand om te weet wat hier gebeur het, en dink Hambidge kon die hele resensie daaraan afgestaan het. Nie dat die huidige resensie swak is nie – dit is beslis nie. Maar dit kon ’n sonderlinge resensie geword het.

Mans en hul wonde, deur Cas van Rensburg. Resensie: Kobus Burger. (Rapport-Boeke)
Vaderland! Ek is bly ek is nie ’n man nie. Burger se resensie is simpatiek, dog ook krities. Die brotopia is ’n nagmerrie, is my afleiding, maar Van Rensburg maak dit verstaanbaar. Miskien moet suster Erla Diedericks repliek lewer.

Profile photo of crito

by crito

Die ridders

Maart 27, 2019 in Uncategorized

’n Paar woorde vooraf: Iemand wou weet hoekom ek so sporadies skryf deesdae. Die kort antwoord is dat ek voortaan net gaan skryf oor resensies wat my aandag getrek en gehou het.

Afrikaner-kapitalisme, deur David Meades. Resensie: Marié Kirsten.(Rapport-Boeke)
Taamlik pikant, nè? Een van wyle prof. Sampie Terreblanche se dogters kapittel Herman Giliomee sommer met die intrapslag vir twakkies wat hy kwytraak in die voorwoord tot David Meades se foliant oor Afrikaner-rykgatte. Sy behandel Meades met meer ontsag, maar wys darem daarop dat Meades geen vroulike entrepreneurs onder die Afrikaners kon vind om oor te skryf nie, wat sekerlik meer slaan op die ridders van stof en dons as op Meades. Kirsten eindig haar resensie met ’n hele spul retoriese vrae, wat nooit ’n goeie ding is om te doen nie. Is sy besig met wensdenkery, of weet sy van dinge waarvan David Meades nog nie gehoor het nie? Wat ook die geval mag wees, dit is betekenisvolle vrae om te vra op die Sondagoggend voor die week waarin Naspers aangedui het dat hulle elders gaan noteer.

Strafjaart, deur Theo Kemp. Resensie: Jean Meiring. (Rapport-Boeke)
Ek sal enige resensie deur Jean Meiring verslind net vir sy verbluffende gebruik van Afrikaans. Hierdie resensie is ’n groot mate in wasigheid gehul, spruitend uit die aard en inhoud van die boek wat Meiring resenseer. Hy stoei daarmee, en maar vir my gevoel kry hy dit nie volkome reg om die roman vir lesers te ontsluit nie. Wie is dit wat gepraat het van “Voorlopige Rapport”?

Jagter, deur Bettina Wyngaard. Resensie: Jonathan Amid. (Boeke24)
Wanneer ’n resensent sy draaie gooi soos Jonathan Amid hier doen, dan weet mens hy beweeg tot op die grens van geheime verklap. Alles uiteraard in ’n poging om vir diegene wat bekend is met Wyngaard se skryfwerk, goed te laat verstaan hoe spesiaal die boek is. Dis ’n soort balanseerspeletjie vir die resensent, en gelukkig doen hy dit uiters goed.

Die verevrou, deur Jan van Tonder. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
En dan is daar die resensent wat heel bedaard die boek benader, die skrywer hierdie kant toe en daardie kant toe uitpluis, en dan sy laaste paragraaf begin met: “Die verevrou, ’n hoogtepunt in Jan van Tonder se oeuvre …” Uitstekende ontplooiing van argument, sterkste slot denkbaar.

Profile photo of crito

by crito

Skemertyd

Februarie 21, 2019 in Uncategorized

Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand, deur Izak du Plessis. Resensie: Martie Retiief-Meiring. (LitNet)
Martie Retief-Meiring is ’n ou hand met die skryf van resensies, en hier wys sy weer hoekom sy so hoog aangeslaan word. Sy sien die een ding raak wat ’n leser sou opval en hom/haar sal laat verstaan hoekom Du Plessis se boeke so lekker lees – sy skryfstyl en sy gebrek aan skrywerlike pretensie. En dan gee Retief-Meiring ook net genoeg inligting oor die sfeer van die boek (die Wes-Randse skemerwêreld) om die resensieleser wild nuuskierig te maak.

Bos, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Gert van der Westhuizen (Boeke24)
Klink na ’n interessante boek oor die land waarin ons woon, en die dinge wat rondom ons vrot. Dit stel ’n nuwe standaard vir die spanningsverhaal, sê die resensent, en hy voel duidelik dat dit ’n boek vir die denkende mens is. Alles goed en wel, maar beveel hy aan dat ons dit lees?

Tweede kanse, deur Stefan Enslin. Resensie: Alet Mihalik (FMR en LitNet)
Radio-resensies stel ander eise aan die resensent as resensies vir koerante en tydskrifte. Die resensent hoef nie so kompak te skryf nie, kan rustig uitwei oor aspekte van die boek. Mihalik se deeglike, indringende bespreking gee aandag aan verskeie aspekte van die boek en die skrywer se agtergrond. Haar presis van die verhaal is kundig verweef met die kritiese punte wat sy maak, en die trant is ook van só ’n aard dat ’n mens weet dat sy haar luisteraars nie so vervreem het nie, en hul aandag end-uit sou gehou het. Haar slotopmerking is ’n juweel: “So ’n goedbedoelde skryftaak verdien noukeuriger redigering.”

Wit terroriste, deur Albert Blake. Resensie: Jean Oosthuizen. (LitNet)
’n Puik resensie. Die boodskap wat Albert Blake bring, wek ’n baie interessante reaksie by Oosthuizen uit. Ek het die groter blik op die geskiedenis wat Oosthuizen belig baie waardeer. Dit mag in ons land se geskiedenis letterlik alles swart en wit wees, maar as mens daaroor nadink, is nie alles figuurlik gesproke swart en wit nie. Niemand kan die hoë morele vlak as eiegrond opeis nie. Ook interessant is die aanknopingspunt met rolprente, nes Stefan Enslin se Tweede kanse. Jean Meiring se bespreking van Bos (hieronder) sluit ook daarby aan. Groeiende simbiose?

Bos, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Jean Meiring (Rapport-Boeke)
’n Besonder knap resensie, wat miskien meer vir die outeur en uitgewer sal beteken as vir die potensiële leser – detailkritiek op aspekte van die roman wat beter hanteer kon gewees het. Net op een plek is Meiring onnodig vitterig. Om te sê dat die naam Xing Li meer Chinees klink as Viëtnamees, is totaal onsinnig as mens dit nie vir ’n feit kan stel nie. Dié een uiters subjektiewe opmerking staan lelik uit in ’n andersins baie objektiewe bespreking.

Karaktermoord, deur Carina Diedericks-Hugo. Resensie: Deborah Steinmair (Rapport-Boeke)
Ek hou van Steinmair se humorsin. Sy verwys na Diedericks-Hugo, wat een van Afrikaans se suksesvolste jeugboekskrywers is, wat haar hand waag aan misdaadfiksie, en sê dan dat laasgenoemde minder van ’n skrywer eis as jeugfiksie. Hè? Ek’s bevrees, Diedericks-Hugo is een van die weiniges wat daai opmerking sal kan takseer, of dit waar is of nie. Verderaan sê sy van Kaapstad dat die see en die gasvryheid dáár “glo ewe koud” is. Hè? Dis nie wat sy vir my gesê het laas toe ons gaan uiteet het nie.

Die Val/The Fall, deur Johannes van Eeden. Resensent: Gilbert Gibson. (Rapport-Boeke)
’n Waarderende bespreking met baie wedervrae. Maar … Sal die fisieke voorwerp wil sien, die papier wil voel, maar Gibson wen nie my aandag vir Van Eeden se verse nie.

Profile photo of crito

by crito

Die kerk se mense

Februarie 5, 2019 in Uncategorized

Die opkoms en ondergang van die NG Kerk, deur Jean Oosthuizen. Resensent: André Bartlett (Boeke24)
Een van die slimste resensies wat in ’n baie lang tyd op ’n Afrikaanse boekeblad verskyn het. Bartlett gee ’n kort opsomming van die inhoud en impak van die boek, maar dit is die manier waarop hy dit aanbied wat so skitterend is. Hy integreer sy opsomming in ’n betoog wat tegelyk op die boek se kritici én die NG kerk se ampsdraers van die afgelope paar dekades gemik is. In effek sê hy dat dié kerk nie dood is nie, maar dat die kerk se mense Oosthuizen se boek moet lees vir leidrade oor hoe die NG kerk verlore veld en aansien kan herwin.

Weerklank van ’n wanklank: memoires van toe en nou, deur Pieter-Dirk Uys. Resensent: Johan van Zyl (Rapport Boeke)
Dit moet een van die moeilikste opdragte wees – om ’n boek deur Pieter-Dirk Uys te resenseer. Uys is só in die openbare oog gewees sedert die jare sewentig dat daar kwalik ’n boekleser kan wees wat nie onmiddellik sal weet of hy genoeg belangstel om die resensie (en boek) te lees nie. Hoe kan die resensent dan hierdie versperring te bowe kom? Johan van Zyl het ’n manier gevind wat werk. Hy evalueer nie die persoon nie, maar die boek. Hy sê dis ’n “kykgedrewe leeservaring”, ’n poging om ’n eenmansopvoering na ’n boek se bladsye te bring. Baie foto’s, wat sekerlik die lewende wese op die planke ten beste na die bladsy transponeer, en dan die verstaanbare rede is vir Van Zyl se baie positiewe ontvangs van die boek. Lees jy sy resensie, weet jy die reaksie is opreg. En dit is sekerlik al wat tel.

Kraak, deur Rouxnette Meiring. Resensie: Elzette Steenkamp (LitNet)
Sommige woorde in ’n resensie trek dadelik die aandag. Elzette Steenkamp gebruik die een wat my dadelik laat regop sit het so halfpad deur die resensie: “Vernuwend”. Jare gelede baie gewild onder literatore, maar deesdae nie werklik meer so volop in boekresensies nie. In hierdie geval gebruik Steenkamp dit om te reageer op die skrywer se uitbeelding van die Afrika van die toekoms. Ek moet beken dat Steenkamp se tipering van Kraak as ’n fantasie, ’n jeugroman oor ’n “distopiese Afrika-landskap” my nie werklik nuuskierig gemaak het nie. “Jeugroman” doen dit ook nie vir my nie, maar Steenkamp dui later aan dat die boek ook tot volwasse lesers sal spreek. Só ’n opmerking is gerusstellend, maar dit wek ’n ander vraag wat moontlik wyer meditasie sal verg: Is die kategorisering van romans as jeugromans al dan nie nog hoegenaamd relevant?