by

Een woord

November 11, 2020 in Uncategorized

Een woord is genoeg om ’n resensie wat ’n boek aanprys, in ’n heeltemal ander sleutel te plaas. Dít is wat gebeur met Jean Meiring se bespreking van Donkerdrif, Deon Meyer se jongste Bennie Griessel-roman. (Rapport Boeke)

Soos meestal die geval is met Meiring se resensies, is dit ’n plesier om te lees. Ek verslind alles wat hy skryf, en soos meestal die geval is, herlees ek dit om te sien of daar iets is wat ek nie gesnap het nie. Sy geesdriftige taksering van Meyer se skryfwerk en sy vermoë om ’n meesterlike verwikkeling te skep, is die soort evaluering wat ’n mens graag wil sien. Deon Meyer het baie bewonderaars, die uwe ingeslote.

Maar een woord val heeltemal uit toon – boksombende. Vir diegene wat nooit deur onderwysers aangesê is om die skryfwerk van Topsy Smith te ervaar nie: Die boksombende is die viertal sentrale figure in Smith se Trompie-reeks jeugverhale. Hul bende lewe in die sfeer van die ewige cliché, ondeunde kinders wat nooit die grootmense se sienings en waardes volledig begryp nie en met die vernuf van kartonfigure die lewe se raaisels konfronteer.

Meiring se besluit om die sentrale figure in Donkerdrif ’n boksombende te noem, is ongelukkig. Dit kom ook in ’n stadium waar hy met ’n swierige draai uitgekom het by die opmerking dat dié Meyer-roman ‘n barshou plant. Skielik wonder ’n mens. Probeer hy met dié woord ’n soort patroniserende afstand skep? Is daar iets meer as humor in die etikette wat hy om die mense se nekke hang, soos bv. om te verwys na Vaughn Cupido se “Stellenbosse nonnatjie”?

Verderaan blyk die resensent se afstandelike teenwoordigheid ook baie duidelik uit sy tersyde “vra ek u met trane in my blousel-bloues”. Goed, ek geniet die dolle gang waarmee Meiring se gedagtes vorentoe loop, elke opmerking meer gevat en skitterend as die vorige. Gaan kyk maar na sy taksering van Stellenbosch en sy mense. Dis lewende pret – net jammer daai boksombende spook by my. Dit suggereer ’n vlak van geyktheid wat ek moeilik met Bennie Griessel, Alexa, Vaughn Cupido, Desiree en kol. Mbali kan assosieer. Sulke figure is die kern van talryke speurverhale, ’n troop wat met erns aanvaar moet word, anders is die verhale waarin hulle voorkom, niks meer as burluske nie.

Ek glo vir geen oomblik dat Meiring neersien op Griessel-hulle nie; sy waardering vir die outeur is ook sigbaar in die kritiek op die redaksionele versorging van die roman. ’n Resensent dui sulke dinge net aan as hy ruimte vir verbetering wil aantoon.

Dit is net dat boksombende ’n uiters verkeerde woordkeuse was in hierdie spesifieke konteks.

JB Roux se skrywe oor Dik Dun Thick Thin van Nataniël (Boeke24) is ’n poging tot onverskilligheid. Hy gee te kenne dat hy Nataniël se humor nie snaaks vind nie, maar dit sal darem plesier verskaf aan sy aanhangers. Boeke24 het die ruimte wat aan sy bespreking afgestaan het, vermors. Is daar dan niemand wat Nataniël behoorlik kan resenseer nie? Mense wat bereid is om te sê hulle dink dis vrot en die redes uitpak, of mense wat dink dis goed, en die redes daarvoor neerpen.

Mens sal aan die ander kant nie Tobie Wiese se resensie oor Neels Jackson se Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk (Rapport Boeke) kan opsom in een sin nie. Ek het ’n spesmaas Wiese skryf met die aanname dat sy resensie veral deur mense in die ou Afrikaanse susterskerke gelees sal word. Die manier waarop hy sy argument konstrueer is baie interessant, met talle opmerkings wat aansluit by ander, ouer twisgesprekke – bv. die opmerking oor objektiewe joernaliste, of oor die verskil tussen literalistiese en hermeneutiese benaderings tot die Bybel. Ek het my verkneukel aan sy opmerking oor die verstaanbaarheid van Jackson se styl vir die Kretie en Pletie, maar ook besef dat Jackson ’n klomp dominees diep ongelukkig gaan maak. Kolskoot vir Jackson, en ’n ruiker vir Wiese vir die manier waarop hy die kern van die boek aandui. ’n Mens begin wonder oor die kerke se vreemde besluite oor gays, en die onkunde by baie van die besluitnemers.

My aandag word nie dikwels getrek deur resensies van jeugromans nie. My kinders is al groot. Magdel Vorster se bespreking van ’n drietal boeke in Rapport Boeke het my aandag getrek. Sy skryf doelgerig en saaklik, en al wat nog makeer, is ’n aanduiding van haar eie reaksie. Sy tipeer die boeke maklik volgens die ouderdomsgroepe waartoe hulle sal spreek, maar ek dink sy het nodig om die persoonlike evaluering/reaksie meer prominensie te gee.

Ek sal later Rudolf Stehle se resensie van Willem Anker se Skepsel bespreek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.