Jy blaai in die argief vir 2020 November.

by crito

Uit vier hoeke

November 26, 2020 in Uncategorized

Willem Anker se Skepsel het ’n baie interessante vlaag resensies uitgelok. Groots opgesette romans soos dié het die manier om uiteenlopende reaksies te kry. Min of meer ’n jaar gelede was dit dieselfde met Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Rudolf Stehle was eerste om te reageer, in Boeke24, met ’n verslag oor die inhoud – ’n ontleding, as mens dit so wil noem, van die uiteenlopende verhaallyne, boustof en tematiek van die roman. Dit is sekerlik ’n goeie vertrekpunt as die resensent mik op koerantlesers wat nog die roman moet lees; Stehle se kritiese reaksie is ingebou in die manier waarop hy die samevatting van inhoud uitpak, asook in sy twee slotparagrawe waarin hy Skepsel beskryf as “verruklike kuns”, en ’n “seismograaf wat … die trillings van die huidige tydsgewrig registreer”.

Hans Pienaar skryf op die webwerf van LitNet sy resensie in die tweede persoon, in aansluiting by een van die verhaal-invalshoeke in Skepsel. Dit is ’n verbeeldingryke manier om te reageer, met die klem wat dan val op die resensent se gewaarwordinge terwyl hy lees. Die gevaar met só ’n aanslag is dat dit masturbatories kan aandoen; net die pleër geniet dit. Vir die leser is dit ’n versperring – jy moet nie alleen die gedigheid van die resensent se reaksies probeer peil nie, maar jy moet ook via daardie reaksies ’n idee probeer vorm van die roman self. En soos ’n mens onmiddellik besef terwyl jy Pienaar se stuk lees, is Skepsel ’n werk wat enorme eise aan die leser stel.

Pienaar verwys na Stehle se resensie ook, en dit is in ’n sin vir mense wat resensies volg ’n goeie idee om eers Stehle se ontleding te lees voordat jy Pienaar se reaksie aanpak.

Jonathan Amid was volgende aan die beurt, in Vrye Weeklad, met ’n geesdriftige, pragtig beredeneerde reaksie. Hy het nie soos Stehle die verskillende verhaallyne uitgelê nie, maar in sy kenmerkende styl die roman in die groter konteks van skepping en kuns geplaas. Hy gebruik die woorde nie, maar dit gaan oor ’n soort ars poetica by Willem Anker, die skep van ’n komplekse kunswerk. “Met Skepsel,” skryf Amid, “maak Anker die mees meesleurende argument vir die belang van fiksie, en die Roman.”

En weer kon ek nie ontsnap aan die gevoel dat dit vir die leser van die resensie raadsaam sal wees om ook hier Stehle se uiteensetting in gedagte te hou, tesame met Amid se eksegese.

Die vierde reaksie was dié van Jean Meiring. Sy resensie van Skepsel in Rapport toon hom op volle toere; hy vermag meer in die verskaf van inligting, analise en kritiese reaksie as die ander drie resensente saam. Daarmee probeer ek nie vir Stehle, Pienaar en Amid kleineer nie; elkeen van hulle het ’n eie manier van doen, soos aangetoon.

Meiring sien dinge raak wat vir my aan Skepsel ’n onweerstaanbare allure gee – ’n boek wat ek subiet wil koop en baie stadig lees. Sy aanklank is merkbaar, sy kritiese oog het twee gebreke gevind wat hy dan ook uitlê. Meiring benader die roman en sy boustof met ’n merkbare hongerte vir begrip. Mens kan nie anders as besef dat hy Skepsel baie hoog aanslaan nie, al sê hy dit nie pront só nie. Sy gebruik van saligmooi om Anker se prosa te tipeer in sy samevatting laat ’n mens besef dat die estetiese verruklikheid hom deeglik in vervoering het.

Dít is wat ek van Meiring waardeer – dat hy besef dit is vir die resensent nie altyd nodig om dinge uit te spel nie. Die manier waarop hy respek betoon, en die styl waarin hy die literêre kunswerk evalueer, sê alles by implikasie. En hierdie keer pas elke woord presies.

Pienaar en Meiring (in ’n opmerking tussen hakies oor die “puntenerige erkenningsafdeling”), sny ook die publikasiekonteks aan. By Pienaar word dit deel van sy groter hermeneutiese soeke. (Ek kan net nie verstaan hoekom hy verwag die erkennings moet apologeties wees nie; Pienaar se verdere opmerkings daaroor is wel baie insigewend, as deel van sy reaksie.)

Nadat ek die boek na die lees van Meiring se resensie by Amazon gaan koop het, was dit die eerste deel van die boek wat ek opgesoek het. Dit gaan die wysneuse baie besig en uit die moeilikheid hou.

by crito

Een woord

November 11, 2020 in Uncategorized

Een woord is genoeg om ’n resensie wat ’n boek aanprys, in ’n heeltemal ander sleutel te plaas. Dít is wat gebeur met Jean Meiring se bespreking van Donkerdrif, Deon Meyer se jongste Bennie Griessel-roman. (Rapport Boeke)

Soos meestal die geval is met Meiring se resensies, is dit ’n plesier om te lees. Ek verslind alles wat hy skryf, en soos meestal die geval is, herlees ek dit om te sien of daar iets is wat ek nie gesnap het nie. Sy geesdriftige taksering van Meyer se skryfwerk en sy vermoë om ’n meesterlike verwikkeling te skep, is die soort evaluering wat ’n mens graag wil sien. Deon Meyer het baie bewonderaars, die uwe ingeslote.

Maar een woord val heeltemal uit toon – boksombende. Vir diegene wat nooit deur onderwysers aangesê is om die skryfwerk van Topsy Smith te ervaar nie: Die boksombende is die viertal sentrale figure in Smith se Trompie-reeks jeugverhale. Hul bende lewe in die sfeer van die ewige cliché, ondeunde kinders wat nooit die grootmense se sienings en waardes volledig begryp nie en met die vernuf van kartonfigure die lewe se raaisels konfronteer.

Meiring se besluit om die sentrale figure in Donkerdrif ’n boksombende te noem, is ongelukkig. Dit kom ook in ’n stadium waar hy met ’n swierige draai uitgekom het by die opmerking dat dié Meyer-roman ‘n barshou plant. Skielik wonder ’n mens. Probeer hy met dié woord ’n soort patroniserende afstand skep? Is daar iets meer as humor in die etikette wat hy om die mense se nekke hang, soos bv. om te verwys na Vaughn Cupido se “Stellenbosse nonnatjie”?

Verderaan blyk die resensent se afstandelike teenwoordigheid ook baie duidelik uit sy tersyde “vra ek u met trane in my blousel-bloues”. Goed, ek geniet die dolle gang waarmee Meiring se gedagtes vorentoe loop, elke opmerking meer gevat en skitterend as die vorige. Gaan kyk maar na sy taksering van Stellenbosch en sy mense. Dis lewende pret – net jammer daai boksombende spook by my. Dit suggereer ’n vlak van geyktheid wat ek moeilik met Bennie Griessel, Alexa, Vaughn Cupido, Desiree en kol. Mbali kan assosieer. Sulke figure is die kern van talryke speurverhale, ’n troop wat met erns aanvaar moet word, anders is die verhale waarin hulle voorkom, niks meer as burluske nie.

Ek glo vir geen oomblik dat Meiring neersien op Griessel-hulle nie; sy waardering vir die outeur is ook sigbaar in die kritiek op die redaksionele versorging van die roman. ’n Resensent dui sulke dinge net aan as hy ruimte vir verbetering wil aantoon.

Dit is net dat boksombende ’n uiters verkeerde woordkeuse was in hierdie spesifieke konteks.

JB Roux se skrywe oor Dik Dun Thick Thin van Nataniël (Boeke24) is ’n poging tot onverskilligheid. Hy gee te kenne dat hy Nataniël se humor nie snaaks vind nie, maar dit sal darem plesier verskaf aan sy aanhangers. Boeke24 het die ruimte wat aan sy bespreking afgestaan het, vermors. Is daar dan niemand wat Nataniël behoorlik kan resenseer nie? Mense wat bereid is om te sê hulle dink dis vrot en die redes uitpak, of mense wat dink dis goed, en die redes daarvoor neerpen.

Mens sal aan die ander kant nie Tobie Wiese se resensie oor Neels Jackson se Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk (Rapport Boeke) kan opsom in een sin nie. Ek het ’n spesmaas Wiese skryf met die aanname dat sy resensie veral deur mense in die ou Afrikaanse susterskerke gelees sal word. Die manier waarop hy sy argument konstrueer is baie interessant, met talle opmerkings wat aansluit by ander, ouer twisgesprekke – bv. die opmerking oor objektiewe joernaliste, of oor die verskil tussen literalistiese en hermeneutiese benaderings tot die Bybel. Ek het my verkneukel aan sy opmerking oor die verstaanbaarheid van Jackson se styl vir die Kretie en Pletie, maar ook besef dat Jackson ’n klomp dominees diep ongelukkig gaan maak. Kolskoot vir Jackson, en ’n ruiker vir Wiese vir die manier waarop hy die kern van die boek aandui. ’n Mens begin wonder oor die kerke se vreemde besluite oor gays, en die onkunde by baie van die besluitnemers.

My aandag word nie dikwels getrek deur resensies van jeugromans nie. My kinders is al groot. Magdel Vorster se bespreking van ’n drietal boeke in Rapport Boeke het my aandag getrek. Sy skryf doelgerig en saaklik, en al wat nog makeer, is ’n aanduiding van haar eie reaksie. Sy tipeer die boeke maklik volgens die ouderdomsgroepe waartoe hulle sal spreek, maar ek dink sy het nodig om die persoonlike evaluering/reaksie meer prominensie te gee.

Ek sal later Rudolf Stehle se resensie van Willem Anker se Skepsel bespreek.

by crito

Grade van verskil

November 1, 2020 in Uncategorized

Hier op ons werf, by SêNet-briewe, verskyn ’n brief deur Estelle Venter, wat dikwels Crito voor stok kry. Sy het meestal reg, en hierdie keer weer.

Gaan lees gerus haar brief by:
https://www.litnet.co.za/professor-burger-en-crito-trap-oor-die-tou/

Hoekom het Crito nie Burger se resensie behandel nie? Eenvoudige antwoord: Nog voordat ek verlede Maandag Willie Burger se resensie van Renée Rautenbach Conradie se Met die vierkleur in Parys gelees het, het boodskappe daaroor by my uitgekom. Daarna het ek daagliks met ’n omweg daarvan moes hoor. Crito se inligtingskanale het oortyd gewerk verlede week.

Wanneer so-iets gebeur, trek ek die handbriek op, koop die boek, en lees eers. Het my naam al voorheen krater gemaak met sulke gevalle, gaan dit nie weer doen nie.

Nou, ek het Met die vierkleur in Parys gelees, en ek dink Estelle Venter se punte van kritiek op die Burger-resensie is baie billik. Ek dink ook dit is Willie Burger se reg om te sê wat hy van ’n boek dink. Dit is nie die soort boek wat ek onder normale omstandighede sou lees nie, en ek sal nie verbaas wees as Willie Burger ook só sou voel nie.

Waar ek en hy egter verskil, is dat ek die roman toe wel baie geniet het. Lees maklik, Rautenbach Conradie het ’n eie stem, die verhaal het ’n ouwêreldse sjarme, die lotgevalle van Paul Roux het tot my gespreek. Willie Burger se punte van kritiek is vir my nie werklik sulke belangrike oorwegings nie, want ek het uit die staanspoor besef dit is nie die skrywer se bedoeling om die Hertzogprys te wen hiermee nie.

Natuurlik sal hy moet toegee dat dit nie werklik onrealisties is vir iemand om in 1900 “Verdomp” te sê nie. In sy streng Nederlandse vorm was die woord al verskeie eeue in omloop, en mens kan verstaan dat verdomd hier ter plaatse verdomp kon geword het.

Maar dis nie werklik ter sake nie. Daar is onderliggend ’n aspek van hierdie resensie wat my ernstig kwel. Renée Rautenbach Conradie se manuskrip was in ’n stadium deel van haar werk vir die verwerwing van ’n Magistergraad by die Universiteit van Pretoria. Prof. Willie Burger se departement het dit toe goed genoeg gevind vir die toekenning van daardie hoë akademiese onderskeiding.

Nou, ’n klompie jare later, laat hy hom uiters negatief uit oor die boek. Hy is aan Renée Rautenbach Conradie ’n verduideliking skuldig – maar ook aan die lesers van sy resensie daaroor. En aan almal wat by UP nagraadse studie gedoen het oor kreatiewe skryfwerk en magistergrade toegeken is deur sy departement.

In samehang daarmee is dit betreurenswaardig dat hy nie, toe hy gewerf is om die boek te bespreek, sy belange verklaar het en die beker aan hom laat verbygaan het nie. Dan sou hy homself nie in hierdie onhoudbare posisie bevind het nie.

Ek sou dink dit is ’n aksioom dat mense wat manuskripte vir uitgewers keur, nie ook die resensies van die boeke skryf nie. As mens die beginsel deurtrek, moet die persone wat verbonde is aan kreatiewe skryfskole, en dergelike departemente by universiteite, hulle daarvan weerhou om hul allumni te bewierrook of, soos in die geval onder bespreking, te verguis.

Ek gaan my nie uitlaat oor van die ander bewerings wat hierdie week my ore bereik het nie.