Jy blaai in die argief vir 2020 Oktober.

by crito

Vreugde groot

Oktober 28, 2020 in Uncategorized

Na ek verneem is daar van tyd tot tyd kursusse wat aangebied word oor resensies. PEN Afrikaans het betreklik onlangs een gehad. Ek weet nie wat die kursusgangers daar geleer word nie, maar ek hoop daar word mooi verduidelik hoe kosbaar dit is wanneer ’n mens ’n resensent kry wat in staat is om vervoering en tomelose geesdrif oor te dra.

Sulke resensies is nie volop nie. Daar is sekerlik boeke wat trometgeskal en luide gebasuin regverdig. Dit is net dat daar so min van die holderstebolder vreugde oor boeke deurkom.

Johan Myburg, die jongste ontvanger van die Hertzogprys, kom die naaste daaraan met sy resensie van Die meeste sterre is lankal dood, van Johann de Lange (Boeke24). Dis nie ’n resensie vir mense wat hul oë net wil laat gly oor die kopie nie. Dis ’n resensie vir stadig lees en uitknip, want jy weet jy gaan dit byderhand wil hê sodra jy die bundel aangeskaf het.

Myburg teken alle moontlike leidrade en leiding aan vir die liefhebber van digkuns, wetend dat die ontdekkings wat mens wil maak, selde op die koerantblad gaan gebeur. En dan vou hy sy resensie in met ’n opmerking wat vertaal kan word as ’n hoesanna in die hoogste hemele: “Die lees en herlees van Die meeste sterre is lankal dood is soos om na ’n naghemel met sterre te kyk – meteen sien jy nie alles raak nie. Maar hoe langer en met hoe meer verwysings jy kyk, hoe meer verwonder jy jou.”

Saggies skree.

Soms moet jy goed daaroor gaan nadink om te besef dat die resensent op ’n manier eie aan haarself die noot op sy hoogste ingesit het. Ek dink hier spesifiek aan Juliana Coetzer se bespreking van Connie Luyt se Waar onthou begin (Rapport Boeke).

Coetzer stip baie hinderlikhede in die roman aan, op só ’n manier dat mens dadelik besef die roman sal nie sonder meer bestempel kan word as ’n sukses nie. Maar dan sê Coetzer ook, aansluitend by die tematiek van die boek, dat ’n mens nooit moet vergeet hoe ’n boek jou laat voel het terwyl jy besig was om dit te lees nie. En die genoegdoening wat sy ervaar het, het baie lank agterna voelbaar gebly.

Daar is ’n verdere kategorie van jubeling, verwant aan die Finse tango, wat mens eers kan plaas as jy die resensent baie goed leer ken het deur die jare. Louise Viljoen is een van die mees ervare resensente van Afrikaanse literêre werke. Die mantel van Elize Botha het op haar skouers geval. Ek het haar al in die openbaar sien optree by verskeie geleenthede, en was nog altyd diep onder die indruk van die manier waarop haar skryfstyl haar manier van praat reflekteer – rustig, bedaard, ewewigtig.

Die enigste probleem daaarmee is dat mens op ’n ander manier die seine van groot vreugde moet soek. Haar resensie van Ryan Pedro se Pienk ceramic-hondjies dra al die tekens van haar inboor in ’n werk en delf vir die essensie daarvan. Dis ’n baie sterk resensie, maar die gedempte aanslag is misleidend. Die sleutel vir haar groot opgewondenheid is vervat in haar slot, waarin sy as senior resensent van Afrtikaanse literêre werke ’n nuwe ontwikkeling verwelkom: “Ryan Pedro en sy mede-debutante is duidelik besig om ’n nuwe klankbaan vir die Afrikaanse letterkunde te skryf. Dit is opwindende tye vir die taal.”

Net so.

by crito

Die taal wat ons lees

Oktober 7, 2020 in Uncategorized

Jean Meiring maak dit nie vir mens maklik nie. Mens moet sy resensies stiplees. Hy hou daarvan om presies die regte woorde te gebruik, en as dié woorde van die einders van ’n koerantleser se kernwoordeskat kom, is dit die leser se probleem.

Soms haal dit hom in. Daar is ’n eienaardige “wat” in die eerste paragraaf van sy bespreking van Francois Smith se Die kleinste ramp denkbaar (Boeke24). Ek het my getroos dat dit seker die seën van die taalkommissie sal geniet, een van daardie verstellings aan ons taal wat hulle gemaak het toe ons aandag elders was.

Ek kla nie. Dit is, soos die geval is met 99% van Meiring se resensies, suiwer vreugde om ’n resensie te lees waarin Meiring juis ons aandag spits op Francois Smith se hantering van die Afrikaanse taal. Daarbenewens is die verband wat hy lê tussen die roman se hooffiguur en Gustav Mahler ’n onthulling wat my dadelik laat besluit het om die roman terstond weer te lees.

Annelise Erasmus het pas ’n dag vantevore ook gekyk na die fleurige taalgebruik van Rudie van Rensburg in se Hans gee Herklaas horings (Rapport Boeke). Erasmus het só ’n vars benadering tot die skryf van resensies dat mens haar resensie omtrent as ’n soort artikel kan lees.

Haar onderonsie met Frans Kafka se opvatting oor watse soort boeke mens behoort te lees, is ’n bonus, nes Jean Meiring se Mahler-geskenk vir my was. Dit is netjiese argumentslyne wat sy trek, met ’n gewikste konklusie: Mens moet leesplesier aanvaar soos dit kom, sonder om te veel te bodder met die dieper betekenis daarvan.

Haar styl is moeiteloos, vernuftig. Veel meer informeel as André Bartlett s’n in sy bespreking van Fritz Gaum se Kerk oor die muur of oor die Rubicon? (Boeke24). Vreemd hoe mens sukkel om leesdrif te monster wanneer jy sien dit is alweer ’n boek oor die NG Kerk.

Hy is nie ongevoelig vir die sake onder bespreking en veral nie vir die gevoelens van die mens agter dié boek nie, maar die korte mette waarmee Bartlett die saak afhandel, is te verwelkom.