by

Reaksie en teenreaksie

Mei 19, 2020 in Uncategorized

Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Joan Hambdge (Boeke24)
Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Herman Lategan (Rapport Boeke)
Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Daniel Hugo (Rapport Boeke)

Mens vra jou dikwels af wat die intensie is met ’n boekeblad. Wil dit nuus bring oor boeke? Wil dit ’n barometer wees van die gehalte van nuwe publikasies? Wil dit aan lesers leiding gee oor presies wat die moeite werd is om te koop en te lees? Wil dit gewoon iets uiters leesbaars aan die koerant se kopers gee?
Crito het hierdie vrae al tot satwordens in hierdie blog bespreek. Nou, in die inperkingstyd van 2020, duik die vraagstuk weer op. En steeds bly die allerantwoord: Ietsie van als, met die swaartepunt van Sondagblaaie by die laaste vraag, en by dagblaaie by die tweede vraag.
Ek het die voordeel van Daniel Hugo se eenvoudig skitterende resensie – dit plaas Hambidge en Lategan se besprekings in ’n ander lig as wat ek aanvanklik van hulle gedink het.
My aanvanklike gevoel oor Joan Hambidge s’n was dat dit op ’n hoër peil is as haar meer onlangse pogings oor ander boeke. Sy het duidelik meer moeite gedoen met die skryf van haar bespreking, soos te sien is in haar formulering, uiteensetting en aanpak in die begin. Maar algaande verval sy weer in die patroon van enkelstaande indrukke, paragraafsgewys gelys, sonder enige poging om die indrukke te snoer met oorgange of verbindingsgedagtes. Slordighede sluip in en uiteindelik lyk dit of sy belangstelling verloor het met ’n slotopmerking wat doodgewoon futloos is en nie haar geesdrif in die begin van die resensie reflekteer nie. Sy vertel van anekdotes wat sy onthou, heel interessantes – maar nugter alleen weet of sy hulle ook in die boek voor hande gelees het. Op sommige plekke sal ek haar die voordeel van die twyfel gee omdat dit lyk of dinge wat bymekaar hoort moontlik deur die redakteur geskei is om die resensie te rek (die paragrawe oor “klein foutjies” wat ingesluip het). Maar in sy geheel is Hambidge se resensie een wat besonder goed begin en dan uitrafel.
Herman Lategan se bespreking dra al die kenmerke van ’n resensent wat weet dit is sy opdrag om Sondaglesers te vermaak en te boei. Hy doen dit dan ook in die oortreffende trap. Hy maak die onderwerp interessant, hy skryf met deernis oor die boek se onderwerp, lig dinge uit wat wetenswaardig is. Hy laat jou lekker lees. Hy sê dat daar foute in die boek is, maar dit is duidelik dat hy eintlik nooit afwyk van sy bedoeling om die wonderlike mens Jeanne Goosen te besing nie. Uiteraard moet die leser dan ook vir lief neem daarmee dat hy/sy dit nie hier te make het met kritiek nie; dit gaan hier oor reaksie op ’n boek, en die aanklank van die resensent met die onderwerp van die biografie. In sy geheel genome, dink ek nie Lategan het ’n resensie geskryf nie, maar ’n heel besonderse artikel. Ek vermoed die redakteur van Rapport Boeke het ook só gedink, vandaar die gewilligheid om Daniel Hugo se korrektief te plaas.
Daniel Hugo se reaksie op die biografie is dié van ’n kritiese leser. Hy vind die biografie te lig weens die verontagsaming van “basiese joernalistieke en navorsingsreëls”. En dan noem hy hulle, een vir een. (Sommige daarvan het Joan Hambidge in die verbygaan aangestip as byvoorbeeld “voorspelbare probleme” sonder om dit krities te probeer deurpriem.)
As ’n mens Hugo se bespreking stip lees, is dit duidelik dat hy uit die staanspoor gesteld is op die motivering van sy bespreking as geheel, en die onderlinge opmerkings op hul eie. Dit is die soort resensie waarop ’n mens baie moeilik kan antwoord, want sy finale uitgangspunt is dat dit ’n veel beter publikasie kon gewees het, en dat die skrywer daarvan reeds getoon het dat sy daartoe in staat is (haar Jonker-biografie).
Hugo se aanpak verskil van Hambidge en Lategan s’n omdat hy krities is, en dit sy doel maak om die Goosen-biografie te meet aan die maatstawwe wat mens vir sulke publikasies stel. Hy is die barometer van gehalte. Hugo laat hom nie uit oor die kleiner detail van Hambidge se “lowende” bespreking nie, maar ek kan my indink dat hy net die kop sou geskud het oor haar byhaal van Edmund White se biografie van Jean Genet.
Ten slotte wil ek net, ter ere van my Crito-voorgangers en moontlike opvolgers net een vraag by die klomp in my openingsparagraaf voeg: Moet boekeredakteurs en boekbladlesers van resensente verwag om ten volle krities te wees?

Draairivier, deur Engela Ovies. Resensent: J.B. Roux (Boeke24)
Draairivier, deur Engela Ovies. Resensent: Deborah Steinmair. (Rapport Boeke)

Alles in ag genome, laat albei resensies my lus voel om hierdie debuutwerk te lees. Mens sou selfs, gewapen met veral Steinmair se bespreking, in geselskap daaroor kon saamgesels. Daar is net een probleem, en dit het helaas niks met die boek of die outeur te make nie. Dit is naamlik dat die een resensent, Deborah Steinmair, ’n werknemer is van ’n uitgewery wat ’n konkurrent is van die uitgewer van die boek onder bespreking. Het sy negatief geoordeel, sou daar vingers na haar gewys word; sy het egter hoogs positief geoordeel en my verbasing sal nie groot wees as daar steeds vingers na haar gewys word nie. (Probeer sy die skrywer subtiel afvry vir haar eie uitgewery? Wat is haar agenda? En so meer, en so meer.) Dit is nie die eerste keer dat so-iets met Steinmair gebeur nie. Ek beskou haar as een van die beste en leesbaarste resensente van Afrikaanse boeke van hierdie era, en wens dat sy haar nie op hierdie manier blootstel aan kritiek nie. Dit is internasionaal die gebruik dat boekeblaaie nie uitgewers toelaat om hul konkurrente se publikasies te resenseer nie. Dis ’n gebruik wat met vrug hier gevolg kan word.

Somtotaal, deur Anchien Troskie. Resensie: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke)
Wat ek hiervan geniet het, is die moeite wat Coetzer gedoen het om Somtotaal te vergelyk met ’n ander roman wat ’n soortgelyke uitdaging aan die skrywer gebied het. Die resensent verwys laat in die resensie na gedeeltes in die boek wat in Xhosa is, en sê dan dat sy spyt is dat sy nog nie ’n inheemse taal onder die knie het nie. Dis ’n geldige opmerking, maar die vraag is vir my of die Xhosa-gedeeltes nie ’n leesversperring is nie. Sou die skrywer ook die dialoog in die spreker se taal gerapporteer het as dit Russies, Frans, Artabies of wat ookal was?

2 antwoorde op Reaksie en teenreaksie

  1. Reaksie op Daniel Hugo se resensie in Rapport Weekliks 17 Mei 2020

    Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Daniel Hugo (Rapport Boeke)

    Ek stem geensins saam met die woorde van Daniel Hugo: “Ek kan ongelukkig nie van die indruk ontslae raak dat dit in aller yl saamgeflans is nie. “ Alles behalwe! Die handgeskrewe dagboeke en oefeningboeke van Jeanne Goosen het maande en maande se werk gekos om te “ontsyfer” en dan digitaal vas te vang.

    Resensies oor al Jeanne Goosen se werke is ook deur die skrywer verkry deur deeglike navorsing en soeke in elke moontlike bron. Daar is na uithoeke van die land gereis, ook vir die verkrying van die inhoud vir BRIEWE en VRIENDE VERTEL. “In aller yl saamgeflans”? Nee, beslis nie.

    As leser het ek definitief nié vergeefs gewag “om te hoor wat die literêre reaksie was op Goosen se debuut, die digbundel ‘n Uil vlieg weg” (1971) nie. Daar moet asseblief nie volgens die leser aannamens gemaak word nie. Dank die Vader die boek word nie oorheers deur resensies nie.

    Hierdie boek is oor Jeanne Goosen, wie sy is as mens. Ná die lees van die biografie gaan menige leser geinspireer wees om Jeanne Goosen se werke te lees of te herlees.

    Maureen Boshoff

    (Helper met oortik van dagboeke, oefeningboeke, dokumente en alle resensies.)

  2. Izel Lutz het gesê op Mei 21, 2020

    Hoe heerlik was dit nie om ‘n boek-maat te hê wat jou nie wou los nie en wat jy ook nie wou voor vaarwel sê nie! Dit is Petrovna Metelerkamp se biografie “Jeanne Goosen: Lewe Vol Sinne”.

    Kom ons gee toe aan die vergelyking wat Daniel Hugo (Baie oor Goosen Verdoesel, Resensie, Rapport Weekliks, 17 Mei 2020) tref tussen Metelerkamp se biografieë oor Ingrid Jonker en Jeanne Goosen. As daar iets soos “innerlike gewig” omtrent ‘n boek bestaan, ja, dan is Hugo korrek. Ingrid Jonker se “Innerlike gewig” wat bronne, verwysings en die resensies aanbetref wat Hugo essensieël vind, is beslis gewigtiger as dié van Jeanne Goosen.

    My vraag is, pas “Jeanne Goosen: ‘n Lewe vol Sinne” nie juis perfek by die Jeanne Goosen wat, soos die biografie aan ons uitwys (te same met “Los Gedagtes”) dat Jeanne nie die akademie verafgood het nie? ‘n Streng akademiese biografie sou Jeanne vermom het.

    Die styl, die “Innerlike liggewig”, die lees agter die lyne, die diepte wat van Jeanne ontdek word as ‘n vry-, diepdenkende individu, ‘n toekomsgerigte mens, maak juis hierdie toeganklike biografie een wat mens by bly en waarmee jyself in gesprek tree.

    Izel Lutz

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.