Jy blaai in die argief vir 2020 Mei.

by crito

Reaksie en teenreaksie

Mei 19, 2020 in Uncategorized

Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Joan Hambdge (Boeke24)
Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Herman Lategan (Rapport Boeke)
Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, deur Petrovna Metelerkamp. Resensie: Daniel Hugo (Rapport Boeke)

Mens vra jou dikwels af wat die intensie is met ’n boekeblad. Wil dit nuus bring oor boeke? Wil dit ’n barometer wees van die gehalte van nuwe publikasies? Wil dit aan lesers leiding gee oor presies wat die moeite werd is om te koop en te lees? Wil dit gewoon iets uiters leesbaars aan die koerant se kopers gee?
Crito het hierdie vrae al tot satwordens in hierdie blog bespreek. Nou, in die inperkingstyd van 2020, duik die vraagstuk weer op. En steeds bly die allerantwoord: Ietsie van als, met die swaartepunt van Sondagblaaie by die laaste vraag, en by dagblaaie by die tweede vraag.
Ek het die voordeel van Daniel Hugo se eenvoudig skitterende resensie – dit plaas Hambidge en Lategan se besprekings in ’n ander lig as wat ek aanvanklik van hulle gedink het.
My aanvanklike gevoel oor Joan Hambidge s’n was dat dit op ’n hoër peil is as haar meer onlangse pogings oor ander boeke. Sy het duidelik meer moeite gedoen met die skryf van haar bespreking, soos te sien is in haar formulering, uiteensetting en aanpak in die begin. Maar algaande verval sy weer in die patroon van enkelstaande indrukke, paragraafsgewys gelys, sonder enige poging om die indrukke te snoer met oorgange of verbindingsgedagtes. Slordighede sluip in en uiteindelik lyk dit of sy belangstelling verloor het met ’n slotopmerking wat doodgewoon futloos is en nie haar geesdrif in die begin van die resensie reflekteer nie. Sy vertel van anekdotes wat sy onthou, heel interessantes – maar nugter alleen weet of sy hulle ook in die boek voor hande gelees het. Op sommige plekke sal ek haar die voordeel van die twyfel gee omdat dit lyk of dinge wat bymekaar hoort moontlik deur die redakteur geskei is om die resensie te rek (die paragrawe oor “klein foutjies” wat ingesluip het). Maar in sy geheel is Hambidge se resensie een wat besonder goed begin en dan uitrafel.
Herman Lategan se bespreking dra al die kenmerke van ’n resensent wat weet dit is sy opdrag om Sondaglesers te vermaak en te boei. Hy doen dit dan ook in die oortreffende trap. Hy maak die onderwerp interessant, hy skryf met deernis oor die boek se onderwerp, lig dinge uit wat wetenswaardig is. Hy laat jou lekker lees. Hy sê dat daar foute in die boek is, maar dit is duidelik dat hy eintlik nooit afwyk van sy bedoeling om die wonderlike mens Jeanne Goosen te besing nie. Uiteraard moet die leser dan ook vir lief neem daarmee dat hy/sy dit nie hier te make het met kritiek nie; dit gaan hier oor reaksie op ’n boek, en die aanklank van die resensent met die onderwerp van die biografie. In sy geheel genome, dink ek nie Lategan het ’n resensie geskryf nie, maar ’n heel besonderse artikel. Ek vermoed die redakteur van Rapport Boeke het ook só gedink, vandaar die gewilligheid om Daniel Hugo se korrektief te plaas.
Daniel Hugo se reaksie op die biografie is dié van ’n kritiese leser. Hy vind die biografie te lig weens die verontagsaming van “basiese joernalistieke en navorsingsreëls”. En dan noem hy hulle, een vir een. (Sommige daarvan het Joan Hambidge in die verbygaan aangestip as byvoorbeeld “voorspelbare probleme” sonder om dit krities te probeer deurpriem.)
As ’n mens Hugo se bespreking stip lees, is dit duidelik dat hy uit die staanspoor gesteld is op die motivering van sy bespreking as geheel, en die onderlinge opmerkings op hul eie. Dit is die soort resensie waarop ’n mens baie moeilik kan antwoord, want sy finale uitgangspunt is dat dit ’n veel beter publikasie kon gewees het, en dat die skrywer daarvan reeds getoon het dat sy daartoe in staat is (haar Jonker-biografie).
Hugo se aanpak verskil van Hambidge en Lategan s’n omdat hy krities is, en dit sy doel maak om die Goosen-biografie te meet aan die maatstawwe wat mens vir sulke publikasies stel. Hy is die barometer van gehalte. Hugo laat hom nie uit oor die kleiner detail van Hambidge se “lowende” bespreking nie, maar ek kan my indink dat hy net die kop sou geskud het oor haar byhaal van Edmund White se biografie van Jean Genet.
Ten slotte wil ek net, ter ere van my Crito-voorgangers en moontlike opvolgers net een vraag by die klomp in my openingsparagraaf voeg: Moet boekeredakteurs en boekbladlesers van resensente verwag om ten volle krities te wees?

Draairivier, deur Engela Ovies. Resensent: J.B. Roux (Boeke24)
Draairivier, deur Engela Ovies. Resensent: Deborah Steinmair. (Rapport Boeke)

Alles in ag genome, laat albei resensies my lus voel om hierdie debuutwerk te lees. Mens sou selfs, gewapen met veral Steinmair se bespreking, in geselskap daaroor kon saamgesels. Daar is net een probleem, en dit het helaas niks met die boek of die outeur te make nie. Dit is naamlik dat die een resensent, Deborah Steinmair, ’n werknemer is van ’n uitgewery wat ’n konkurrent is van die uitgewer van die boek onder bespreking. Het sy negatief geoordeel, sou daar vingers na haar gewys word; sy het egter hoogs positief geoordeel en my verbasing sal nie groot wees as daar steeds vingers na haar gewys word nie. (Probeer sy die skrywer subtiel afvry vir haar eie uitgewery? Wat is haar agenda? En so meer, en so meer.) Dit is nie die eerste keer dat so-iets met Steinmair gebeur nie. Ek beskou haar as een van die beste en leesbaarste resensente van Afrikaanse boeke van hierdie era, en wens dat sy haar nie op hierdie manier blootstel aan kritiek nie. Dit is internasionaal die gebruik dat boekeblaaie nie uitgewers toelaat om hul konkurrente se publikasies te resenseer nie. Dis ’n gebruik wat met vrug hier gevolg kan word.

Somtotaal, deur Anchien Troskie. Resensie: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke)
Wat ek hiervan geniet het, is die moeite wat Coetzer gedoen het om Somtotaal te vergelyk met ’n ander roman wat ’n soortgelyke uitdaging aan die skrywer gebied het. Die resensent verwys laat in die resensie na gedeeltes in die boek wat in Xhosa is, en sê dan dat sy spyt is dat sy nog nie ’n inheemse taal onder die knie het nie. Dis ’n geldige opmerking, maar die vraag is vir my of die Xhosa-gedeeltes nie ’n leesversperring is nie. Sou die skrywer ook die dialoog in die spreker se taal gerapporteer het as dit Russies, Frans, Artabies of wat ookal was?

by crito

Grendel-ennui

Mei 7, 2020 in Uncategorized

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels: Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers, deur Kleinboer. Resensie: Fanie Olivier. (Boeke24)
Wanneer ’n mens Fanie Olivier se geduldige, begrypende bespreking van hierdie bundel lees, en jy kom by sy slotopmerking oor die moontlikheid dat die bundel dalk sensitiewe lesers sal ontstel, dan sug jy ’n diep sug en jy dank jou sterre dat ons nie meer in die hoogty van FIJ en Merwe en al daardie slim manne lewe nie. Wat sou hulle met Kleinboer aangevang het? Laat dié gedagte maar ’n nagmerrie bly. Ek slaan hierdie resensie hoog aan, maar ek dink Olivier kon die opmerking oor sensitiewe lesers maar uitgelaat het.

Het jy geweet ek kan toor, deur Jeanne Goosen. Resensie: Rudolf Stehle. (Rapport Boeke)
Die grendeltyd is besig om mens sag te maak. Normaalweg sou Crito gemor het oor die akademiese nuk van die skryfstyl, maar ag wat, wat maak dit saak? Nie dat hy verstommend nuwe insigte aanbied nie. Wie sou kon? Hy het wel ’n heerlike manier van formuleer, en ’n gawe om dinge netjies saam te vat.

As jy van moord droom, deur Deborah Steinmair. Resensie: Annelise Erasmus. (Rapport Boeke)
Annelise Erasmus kom uit ’n filosofiese omgewing. Die manier waarop sy haar resensie aanpak, is vars en welkom. Haar betoog verval nie in voorspelbare gemeenplase nie en haar analise van die teenstellings en teenoorgesteldes in Steinmair se roman bring ’n varsheid na die muwwe wêreld van resensies. Ek hoop ons gaan meer van haar resensies te lese kry.

Uit die kroes: Gedigte deur Lynthia Julius. Resensent: Nathan Trantraal. (Rapport Boeke)
Ek begin al uitsien na Trantraal se resensies. Dit is ’n uitdaging om agter die kap van sy Kaaps te kom, maar sodra mens in die swing of things is, by wyse van spreke, is dit heerlik om te sien watse maatstawwe hy aanlê en hoe hy uiteindelik by ’n posisie kom waar hy min of meer die kunswerk benader soos Leavis sou.