Jy blaai in die argief vir 2020 April.

by crito

Resensies in stiltetyd

April 22, 2020 in Uncategorized

Luistervink: 13 stories, deur Madré Marais. Resensent: Rachelle Greeff. (Rapport Boeke)
Kortverhaalbundels stel spesiale eise aan resensente: Hoe hanteer mens die veelvoud van onderwerpe, verhale en skryfhoeke? Rachelle Greeff, een van die voorste beoefenaars van hierdie genre, benader dit baie soos ’n resensent ’n digbundel sal benader. Op soek na gemeenskaplike dinge, tema’s, inhoude. Greeff het ’n baie herkenbare skryfstyl, en haar resensie is een wat benewens die ontsluiting van die skrywer en bundel se goeie hoedanighede, ook baie vlot en onderhoudend lees. In hierdie dae van lockdown is dit asof mens nog minder geduld met flenterskryfwerk het, en Greeff sorg dat mens haar ondersoek van die bundel geniet.

Bloedsteen, deur Irna van Zyl. Resensent: Neil van Heerden. (Boeke24)
Van Heerden se fokus is skerp op die roman en sy inhoud. Sy slotsom is dieselfde as wat Jonathan Amid enkele weke gelede bereik het, en ek is dit roerend eens met hom oor sommige van die roman se tekortkomings. Hopelik hoor ons nog baie van Van Heerden as resensent; sonder aaklighede soos “wafferse prisma”.

Recce (volume 2): Agter vyandelike linies, deur Alexander Strachan. Resensie: Abel Esterhuyse. (Rapport Boeke)
Met die lees van hierdie resensie was my eerste gedagte die volgende: Wat sou Theo van Marita van der Vyver se Grensgeval hiervan sê? Vir baie mense wat nie in die jare sewentig en tagtig bewus was van wat buite die bestek van media-beriggewing besig was om te gebeur nie, sal hierdie tweede boek van Strachan oor die Recce’s ’n baie goeie plek wees om meer agtergrond te kry oor die dinge wat Van der Vyver in haar roman aanspreek. En as jy nie Van der Vyver gelees het nie, laat Abel Esterhuyse my vermoed dat daar lesse uit hierdie boek te leer is wat in die huidige tydsgewrig steeds van belang is: “Die kultuur in ’n weermag wat mense toelaat om inisiatief te gebruik, wat bereid is om van ander te leer, en wat aansluiting vind by die breër samelewing se industriele en akademiese vermoëns, is van kritieke belang.” Daar is verskeie ander formulerings in hierdie resensie wat soos klokke lui. Miskien maak lockdown mens hiperbewus van die lam knieë van ons weermag, maar ek moet beken dat dele van hierdie resensie baie lank by my gespook het. Mens kan nie help om verbande te lê nie, al is ons oorlog teen ’n onsigbare vyand.

Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen, deur Carel van der Merwe. Resensent: Floris van der Merwe. (Rapport Boeke)
’n Uitstekende resensie – Floris van der Merwe is die ideale persoon om Carel van der Merwe se aanpassing van sy doktorale proefskrif te resenseer. Ben Viljoen ken ons reeds goed uit Sonja Loots se roman Sirkusboere en Floris van der Merwe se eie Die Boere-sirkus van St. Louis. Carel van der Merwe se Donker Stroom, oor Eugène Marais, het hom weer gevestig as skrywer wie se navorsing uitnemend goed en deurtastend is. (Vraag: Hoekom wou prof. Christo Viljoen nie vir die skrywer toegang gee tot sy dokumente nie?) Hierdie resensie gee alle aanduiding dat die skrywer homself oortref het, en dat ’n mens Viljoen finaal ontmasker sien as, soos Floris dit stel, ’n bullshitter. Ek het gaan kyk of daar ’n e-boek van Kansvatter by Amazon beskikbaar is, maar dit is helaas nie. Ek kon ook nie op die uitgewer se webwerf ’n aanduiding kry of dit in hierdie formaat beskikbaar is nie. Dit is baie jammer.

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels: Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers, deur Kleinboer. Resensie: Joan Hambidge. (Rapport Boeke)
Joan Hambidge sê nie veel oor Kleinboer se bundel nie, maar gee hom kans om ons self te oortuig deur die aanhaling van ses gedigte uit die bundel.

by crito

Die ** in **-la-lá

April 8, 2020 in Uncategorized

Die Kwesbares, deur Steve Hofmeyr. Resensent: Jean Meiring (Rapport Boeke)
Sjoe! Is dit nie lekker om weer ’n resensie deur Jean Meiring te lees nie? Boonop ’n lekker uitddagende standpuntstellng. Hofmeyr laat die bekende ou p••sboekies herleef, sê hy. Hofmeyr (die antitesis van Afrikaanse woke) is boonop ’n skitterende verteller, ’n besonderse stilis en ’n meester van die onvoorspelbare verwikkeling. Sy hoofkarakter is seksis en anti-Sermiet, maar Meiring verduidelik hoekom hy uiteindelik die boek gloeiend aanbeveel. Ontleed mens sy resensie, is dit duidelik dat dit hier gaan om die genieting van die leeservaring, die vlugte van die verbeelding in ’n veelheid van registers: aksie, geweld, die vreugdes van die vlees. Meiring is nie apologeet vir Hofmeyr die politieke aktivis nie, hy is ’n hedonis wat sy plesier uit die genot van lees put, van Mark Condor se dae al. En as jy dan sy resensies van ernstiger literatuur in herinnering roep, verstaan jy dat dit gaan oor uiteenlopende kante van die Afrikaanse lektuur. As jy die een geniet, beteken dit nie noodwendig dat die ander minder bevrediging bring nie. Inteendeel.

Ou laaie, deur Fanie Olivier. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
Crito het al in die verlede lof aan Joan Hambidge toegeswaai; hierdie keer kan ek nie. Die paragrawe kom soos los gedagtes verby. Van argumentering is daar net so min as van unieke styl sprake. Mens sou dikwels met ’n asterisk tussen paragrawe kon aandui dat die volgende opmerking los gaan staan van die voorafgaande. Die verskillende opmerkings is nooit van só ’n aard dat mens voel die resensent het diepgaande insig in die bundel onder hande nie. Fanie Olivier kan gebelgd voel hieroor. Dit is beslis nie op die hoë peil waarop Hambidge al vantevore met resensies beweeg het nie.

Luistervink, deur Madré Marais. Resensie: Clari Niemand. (Boeke24)
Clari Niemand vind nog haar voete as resensent. Woorde kom nog té maklik. As mens sê ’n bundel kortverhale is ’n kragtoer, dan moet die res van die resensie daardie bruisende evaluering onderskryf. Die resensent moet laat waai, by wyse van spreke. Hier gebeur dit nie.

by crito

Gesag

April 1, 2020 in Uncategorized

Kinders wat moor, deur André le Roux. Resensent: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke)
Nou wát is die malvalekker-toets? Juliana Coetzer het ’n rustige manier om die essensie van ’n boek uiteen te sit. Sy gee ’n oorsig oor die inhoud en die konteks waarin die boek gepubliseer is – en dan maak sy ’n opmerking oor ’n malvalekker-toets wat bestem is om almal wat die groot moordsake van die afgelope paar dekades gevolg het, te laat werk maak daarvan om die boek in die hande te kry. Haar taksering steun uiteraard op die kennis en ondervinding wat sy as psigoterapeut opgedoen het deur die jare; haar resensiestyl laat val die fokus volledig op die boek en onderwerp, maar ’n mens weet deurentyd dat die skrywer met gesag praat. Ek het begin wens die bespreking is nog langer!

Bloedsteen, deur Irna van Zyl. Resensent: Jonathan Amid. (Rapport Boeke)
Derde keer is skeepsreg. Jonathan Amid, waarskynlik tans die beste beoordelaar van speurfiksie in Afrikaans, bring vir Irna van Zyl goeie nuus. Haar derde roman oor die speurder Storm van der Merwe het die kwinte en kwale van haar vorige twee romans afgeskud, en sy is nou ’n skrywer waarmee liefhebbers van hierdie genre moet reken.

As jy van moord droom, deur Deborah Steinmair. Resensie: Jonathan Amid. (Boeke24)
Dit is so dat Jonathan Amid se resensie deeglik deurdink en uiteengesit is op ’n manier wat alle twyfel uit die weg ruim oor die moontlikheid dat hier persoonlike byltjies geslyp word. Steinmair kan nie kla nie. Maar die resensie aktiveer (om ’n woord by Joan Hambidge te leen) onvermydelik Amid en Steinmair se tweegesprek op LitNet, met gepaardgaande vraagstukke en irritasies. Mens kan jou indink hoe die berge antwoord sou gegee het as Amid die roman afgeskiet het. Hy het nie, maar net omdat hy positief geoordeel het beteken nie dat dit ’n goeie ding is om ’n resentsent op hierdie wyse onder soveel druk te plaas nie. En Amid self moes die beker aan hom laat verbygaan het.

Nagblind, deur Francis Grobler. Resensie: Johan Myburg. (Boeke24)
Gaan maak gerus ’n draai by Versindaba, waar dit oor hierdie bundel gons. Lees dan hierdie resensie, en u sal weet hoekom ek dink dit behoort benoem te word vir daardie prys vir beste resensie van die jaar. Myburg verduidelik presies in watter genre-konteks die verse geplaas moet word (hermetiese poësie), en vorder dan algaande tot die punt waar hy baie kalm en met uiters goeie maniere sê dat dit nie ’n goeie bundel is nie. Hoekom? As gedigte net klank bly, sonder enige semantiese onderbou, lees ’n mens dit vir die klank en nie die verstaan nie, want die digter is die enigste wat sal weet wat bedoel word. Myburg se resensie is ’n meestersklas van hoe ’n mens sinne kan laai met innuendo, goedige humor, teregwysings en so meer. Hy illustreer selfs vooruit sy eie opmerkings sodat die digter móét verstaan wat hy sê: “Dit is veral verse wat hardop lees, dié.” Vyf paragrawe later laat hy jou begrypend glimlag. Ek het die paragrawe van hierdie resensie gelees met die plesier waarmee ’n mens soms digkuns lees, bewus van die maniere waarop Myburg sorg dat hy nie korte mette van die bundel maak nie, en dit uiteindelik tog doen. “Grobler beheers klank en vormgewing,” sê Myburg. Presies wat Mozart van Salieri gesê het …