by

Skitterend

Maart 5, 2020 in Uncategorized

Oolog, deur Nathan Trantraal. Resensie: Charl-Pierre Naudé (Rapport Boeke)
Kan ’n mens lekker lees aan ’n resensie van ’n bundel poësie? Kan ’n resensent met een slag ’n bestekopname doen van ’n oeuvre wat tans drie sterk staan? Kan ’n resensent ’n breë perspektief gee oor ’n bundel se tematiek én nie betrokke raak by die debat nie? Kan ’n resensent stilweg vir ’n digter aandui watter slaggate op sy pad lê sonder om soos ’n gryse wyse te klink? Kan ’n resensent met een klein opmerking aansluit, heel geregverdig, by ’n gans ander literêre debat, maar steeds ’n sterk stelling maak oor die poësie voor hom? Die antwoord op al dié vrae is ja. Híér is nou ’n skitterende resensie.

Skag, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Fanie Olivier (Rapport Boeke)
Skag, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Francois Bekker (Boeke24)

Een boek, twee benaderings. In Fanie Olivier s’n galm die akademie nog, by Francois Bekker is daar ’n persoonliker aanslag, ’n bereidwilligheid om die leser in te trek. “Op ’n naaldpunt,” begin Bekker. “Jaco Wolmarans se debuutroman, Bos, het vroeg verlede jaar heelwat aandag getrek en goeie resensies ontvang,” val Olivier weg. Albei ag Wolmarans se navorsing hoog, albei is beïndruk met die plot. Maar Olivier kyk verder, miskien omdat hy ouer is en in die jare tagtig, waarteen hierdie roman afspeel, in die midde van die politieke gewoel gestaan het. Die dinge wat hy krities bekyk en te lig vind, wentel om geloofwaardige karakters en die diepte van hul diskoers. Bekker skyn hierdie dinge nie steurend te vind nie, en slaan die roman hoog aan as spanningsroman. Olivier dink duidelik dat Wolmarans nog aan die ontwikkel is, en dat sy tweede boek beter is as sy eerste. Uit hierdie twee resensies kry mens dan een boodskap: Wolmarans kán goeie spanningsromans skryf, en jy is bewus daarvan dat hy nog verder as romanskrywer sal moet ontwikkel. Vir die gewone koerantleser sal Bekker se bespreking klokkies lui, terwyl Jaco Wolmarans self Olivier s’n waardevoller sal vind.

Oopmond, deur Jan Vermeulen. Resensie: Anke Theron (LitNet)
Pragtige nuwe konsep wat Theron geskep het: “beurtkragboeke”.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.