by

Die luste

November 21, 2019 in Uncategorized

Klaskamer, deur Vita du Preez. Resensent: Annelise Erasmus. (Rapport Boeke)
Klaskamer, deur Vita du Preez. Resensent: Carla Lewis (Boeke24)

Annelise Erasmus is sekerlik een van die min mense ter plaatse wat met gesag oor BDSM kan skryf. Haar roman Slavin is in die wêreld van Afrikaanse lettere dié verwysingspunt oor BDSM. Rapport Boeke se besluit om haar te kry om Klaskamer te resenseer, was besield. Erasmus se resensie tel sekerlik onder die heel bestes wat nog vanjaar oor ’n Afrikaanse boek geskryf is. Haar inleidingsparagraaf is ’n skitterende skadeloosstelling. Haar uiteensetting van die boek onder bespreking is op die punt af, en haar uitvoerige kritiek getuig van ’n breë teoretiese en praktiese agtergrond. Ek het al dikwels genoem dat dit uiters moeilik is om ’n goeie negatiewe resensie te skryf; Annelise Erasmus wys hoe dit gedoen kan word. Ek kry Vita du Preez jammer vir die geweldige afranseling, maar dit is ook so dat sy haar onderwerp gekies het en verantwoordelikheid moet neem vir die gesag waarmee sy daaroor skryf; Erasmus se kritiek laat mens op verskeie punte besef hoeveel wanopvattings in ’n eenvoudige stuk fiksie ingetroffel kan word. Ek hoop dat sy meer dikwels as resensent ingespan sal word – nie net oor werke met ’n seksuele tema nie. Hierdie resensie maak my nuuskierig om te sien hoe ’n hoogs belese en ervare kritikus soos sy ander literêre werke sal takseer.
Carla Lewis se resensie is veel meer kompak as Erasmus s’n, en sy benader dit gewoon uit die hoek van ’n weetgierige leser. Sy verklap dié gierigheid in haar slotopmerking oor Erika Lust, en daarom dra haar taksering van Klaskamer as ’n roman wat haar koud gelaat het vir my genoeg gesag om die negatiewe oordeel te regverdig.

Grensgeval, deur Marita van der Vyver. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
Ek het hierdie roman tussen die nasien van vraestelle deur begin lees, en Francois Bekker se resensie het verskyn presies op die regte tyd vir my. Hy oortuig my dat volle aandag daarvoor nodig is, veral deur sy uiteensetting teen die einde van die debat oor die roman en sy hooftema. Ek gaan dit eers opsy skuif om in die feestyd ten volle daarop te kan fokus. Vir diegene wat nog nie begin lees het nie, slaag die resensie vir my in sy doel: Dit voer mens met inligting wat jou na die roman toe du. Soos die skrywer sekerlik sal wil hê dit moet.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.