Profile photo of crito

by

Kortliks

September 23, 2019 in Uncategorized

Sushi en Shosholoza, deur Erns Grundling. Resensie: Marian van Wyk. (Rapport Boeke)
Marian van Wyk se naam duik nie gereeld op as resensent nie. Ook maar goed so. Sy begaan een van die groot sondes van die resensiekunde. Span 1269 woorde in om iets te sê wat in 100 afgehandel kon gewees het. Teen paragraaf vier begin mens wonder hoekom sy so heftig reageer, en haar slotopmerking in parentese laat jou besef presies wat makeer aan haar bespreking. Vlieë-afvangery in die gedaante van kritiek. Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shoshaloza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie.

Die wolkversamelaars, deur Nadia de Kock. Resensie: JB Roux. (Boeke24)
Ek laat JB Roux se resensies gewoonlik aan my verbygaan, maar ’n kollega vestig my aandag op hierdie juweeltjie: “Die wolkversamelaars lees so vlot soos ’n populistiese roman …”

Klikbek, deur Sidney Gilroy. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
Die moderne speurverhaal werp allerhande nuwe dinge op, maar in wese bly die elemente dieselfde. Bekker gee dit toe, maar voel Gilroy verdien aandag danksy die gehalte en aard van sy skryfwerk. ’n Vars oog op Ace se kontrei.

Seks, leuens en die internet, deur Erla Diedericks. Resensie: Riette Rust. (LitNet)
’n Resensie wat my nogal moed gee vir die lewe. Dit is moontlik om intelligent te skryf oor die wasige onderwerp van die seksuele lewe ná 50, en ’n resensent kan sonder gemaakte vroomheid daarop reageer.

2 antwoorde op Kortliks

  1. Oor Marian van Wyk se bespreking van Sushi en Shosoloza: Crito, jou onderrok hang ver uit onder die naamlose gesig. Want sien, die meeste van ons het weer gedink uiteindelik is hier iemand wat die moed het om hierdie “bekroonde skrywer”, soos hy hom self noem, te ontbloot vir wat hy regtig is: iemand wat alleenlik kan skryf as dit oor hom self gaan. En ja, mens sou die boek binne slegs vier woorde kon opsom: Wat ‘n klomp twak. Maar omdat Grundling so groot speelgroepie het (Crito is duidelik deel van dit), sou ek ook eerder beter motiveer waarom dit so swak is. Elke beswaar in Van Wyk se resensie word behoorlik gestaaf. Hoop sy duik meer op in resensieblaaie en skrik nie vir ‘n naamlose “resensie” van haar baie dapper en akkurate poging nie.

  2. Ek het ook die boek gelees en stem saam met Marian van Wyk se resensie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.