Jy blaai in die argief vir 2019 Augustus.

by crito

Slagveld

Augustus 23, 2019 in Uncategorized

Mans en hul woede, deur Cas van Rensburg. Resensie: Laurie Gaum (LitNet)
Dit is jammer dat Cas van Rensburg oorlede is. Mens wonder wat hy sou gemaak het van die ontgogeling wat Suid-Afrikaners vandag beleef. Wat sou Van Rensburg gedink het van ’n regering wat vroue in top-poste aanstel, maar weens die instutusionele onbeholpenheid van hul polisie-bestel niks doen aan geweld teen vroue op alle vlakke onder die top-poste nie? Soos Laurie Gaum aandui, het Van Rensburg drie belangrike publikasies die lig laat sien waarin hy begrip vir die lewe probeer bring, hand aan hand met Carl Gustav Jung. Gaum sê die jongste daarvan, Mans en hul woede, is nie net vir bejaardes en mans nie, maar ook vir vrouens wat hul mans wil verstaan. Sy resensie is vir my swanger aan implikasies. Ek is dit roerend eens met hom oor wat hy sê, en ek glo saam met hom dat Van Rensburg begrip bring vir dinge wat Afrikaans-lesendes raak. Maar ek weet ook dat die resensent in die bediening van Gods Woord staan, en aan die ontvangkant was van die gemeenheid van die Afrikaanse Outoppie-argetipe, wat “alive and well” is in die slagordes van die kerkgroep wat sulke diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis getrap het. Hierdie bespreking is veel meer lering as wat dit resensering is, en ek is daarvoor dankbaar.

by crito

Ontploffing

Augustus 22, 2019 in Uncategorized

Zola, deur Johan Jack Smith. Resensie: Jonathan Amid (Boeke24)
Die probleem metr ’n boek soos hierdie is dat die resensent móét sê waaroor dit handel, maar telkens moet terugdeins voordat hy die vertelling se meganismes verklap. Jonathan Amid het ’n baie breë verwysingsveld, en in plaas van die storie se geheim weg te verklap, gee hy dan verwysings na soortgelyke romans, skrywers en films. Dit werk uitstekend, en in sy slotoordeel plaas hy die leser by ’n presiese evaluering: Zola is goed genoeg om gunstig met die skeppings van Martin Steyn vergelyk te word. Die Afrikaanse krimi-ontploffing deur voort!

by crito

Onwillig

Augustus 21, 2019 in Uncategorized

P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier – ’n huldiging, saamgestel deur Heilna du Plooy. Resensie: Francois Smith (Rapport Boeke)
Smith is nie iemand wat doekies omdraai nie. Hoeveel respek hy ook vir P.G. du Plessis het, en hoeveel agting hy het vir die uitstekende huldingingsbundel wat Heilna du Plooy tot stand gebring het, kan hy nie swyg oor die groot ironie wat die bundel omgeef nie. Du Plessis word gehuldig deur die mense wat hy verpes het, literatore. Smith noem nie of daar ook ’n bydrae is deur Deon Opperman, wat Du Plessis buite die literêre sfeer meegemaak het, en ‘n deel van sy lewe kan belig wat min mense geken het. Ek hou van die besadigde trant van die bespreking, en die manier waarop hy die koerantleser laat verstaan dat dit ’n bundel is wat ook gewone lesers se aandag met wetenswaardighede sal beloon, al sou die onderwerp self nie vrede hê met die hele projek nie.

In my vel, deur Azille Coetzee. Resensie: Lindie Koorts (Litnet)
Ek is versot op resensies wat geskryf is nie om ’n opdrag uit te voer nie, maar om die intense reaksie van die resensent op skrif te stel. So iets kan makliker aangepak word in die kuberruim as op koerantpapier – ruimte is geen belemmering nie. Coetzee se ondervindings, soos in haar boek beskryf, word vir Koorts ’n sneller vir die besinning oor haar eie ondervindings. Sy bespreek en beskryf albei, en in haar sintese vind sy dan dat In my vel ’n grondverskuiwende boek is: “Dit bevat die gesprekke wat ons behoort te hê – nie net in kammakastige “woke” kringe nie, maar in ons hoofstroom. Dit open die weg vir ons om ons verlede in die oë te kyk, en dit dui vir ons ’n rigting aan vir die toekoms.” In die kern van die boek identifiseer Coetzee ’n vraagstuk: “Hoe kan ons op ’n aanvaarbare manier Afrikaans wees vandag?” Vir Koorts het Coetzee se antwoord daarop duidelik ’n enorme indruk gemaak; Koorts se bewoording daarvan, in sy volle uitvoerigheid, is ’n baie lofwaardige poging om ’n totaal eerlike resensie te gee.

Koshuis, saamgestel deur Erns Grundling; Hostel, saamgestel deur Hein Willemse. Resensie: Hans Pienaar. (LitNet)
“Dit is natuurlik onhaalbaar en selfs onregverdig om Hostel en Koshuis te nougeset te wil vergelyk.” Tog kry Hans Pienaar dit reg om ’n heel onderhoudende ressensie-essay oor die twee boeke te skep; dit is op ’n veel meer uitdagende intellektuele vlak as wat ’n koerantresensie sou kon dra (gegee die ruimtebeperkings), en Pienaar se argumentering is sterk. Ek sou graag wou sien dat hy sterker fokus geplaas het op ’n gewaarwording wat hy taamlik diep in sy skrywe kry: “Kyk ’n mens na Koshuis, kan ’n mens nie anders as om te wonder of die bydraers, op drie uitsonderings na almal wit, om hierdie rede nie dalk ’n minderwaardige opvoeding ondergaan het nie, en of wit studente ooit in staat sal wees om ’n bydrae tot die politieke groei van die land in terme van Hegel se “Geist” te maak nie.” Is dit nie die kern van die saak vir die wit koshuisgangers van die apartheidsera nie? Pienaar skryf uiteindelik meer oor Hostel as oor Koshuis, en ek vermoed dit is omdat dit makliker skakel met sy Hegeliaanse vertrekpunt (deeglik verwoord in die essay se inleidende deel). Uiteindelik dink ek nie die twee bundels kan vergelyk word nie, omdat hulle verskillende dinge vier. En Pienaar staak sy argumentasie voordat dit interessant kan raak: Suid-Afrikaanse opvoeding van die apartheidsera het niemand voorberei vir die uitdagings van die post-apartheidsera nie. Diegene aan die mag-kant van die ou skeidslyne het wavragte emigrante, Solidariteit en Afriforum tot gevolg gehad; diegene aan die struggle-kant het ’n vernietigde ekonomie, staatskaping, korrupsie, Jacob Zuma en CR17 opgelewer. Dis nie ’n uitgemaakte saak dat die kleurskeidslyn ooit opgehef is nie.

by crito

‘n Gebeurtenis

Augustus 14, 2019 in Uncategorized

Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel XV, onder hoofredakteurskap van Willem Botha. Resensie: Ingrid Winterbach. (Boeke24)
Net een resensie waaroor ek vandeesweek wil skryf. Goue ster teen die voorkop van die boekeredakteur, wat die blinkste van ingewings gekry het om Ingrid Winterbach dié woordeboekband se bespreking te laat doen. Dis nou Augustus, maar dit is reeds vir my die beste resensie van die jaar. Glo jy my nie? Wel, vra jouself liewer self af: Hoe resenseer mens ’n woordeboek? Hè? En dit gaan nie om ’n geklets oor ’n lemma of twee nie. Dit gaan oor die manier waarop al die kritiek van die verlede oor WAT se verlangsaming verwerk is. Waarop nuwe dinge raakgesien word, en die onderwerp van ’n taal onder beleg gesuggereer word, sonder ’n nerveuse gesokkel rondom dinge wat nie genoem is nie – die bla-bla waarmee vorige bande van die WAT begroet is. Winterbach baljaar met die nuwe woorde, stort ’n traan oor woorde wat oud geword het, en spreekwoorde wat verdwyn. Implisiet in haar bespreking is agting vir die monnikewerk van die WAT-span, en respek vir die hoë en vindingryke peil waarop hulle dit doen.Ek wil my verstout om te sê dat hierdie nie n bespreking is nie. Dis ‘n gebeurtenis.

by crito

Resensies met leidrade

Augustus 7, 2019 in Uncategorized

Gedeeltelik bewolk, deur Ruan Kemp. Resensies deur Jonathan Amid (Boeke24) en Fanie Olivier (Rapport Boeke)
Sowat van geesdrif het mens lanklaas by twee resensente oor een boek gekry. Ruan Kemp se aankoms as skrywer word paslik gevier met twee uitstekende resensies. Amid sien dinge raak wat Fanie Olivier nie het nie, maar Olivier reageer dan weer anders as Amid op ander punte. Ek stem nie met Olivier saam dat dit nie die resensent se taak is om die geheimsinnige “In memoriam …” voor in die boek toe te lig nie – as ’n resensent iets weet wat vir die gewone leser meer begrip vir die boek onder hande sal gee, dan móét hy dit openbaar. Amid gee byvoorbeeld ’n leidraad oor ’n verband tussen die hoofkarakter, George Moore, en Griet Swart van Griet skryf ’n sprokie, welke opmerking alleen dadelik gesorg het dat ek Gedeeltelik bewolk bo-aan my leeslys geplaas het.

Vervleg, deur Petro Hansen. Resensie: Clari Niemand. (Boeke24)
Ek is nie ’n tydskrif-leser nie, en kan nie onthou of ek Petro Hansen se rubrieke al iewers in ’n koerant gesien het nie. Waar het die rubrieke verskyn? Wanneer? Die resensent gee ook geen aanhalings van Hansen se formulerings wat mens kan aanmoedig om na die bundel in winkels te gaan soek nie. Die resensie is dus meer funksioneel as halwe kennisgewing.

Die kinders van die spookwerwe, deur Lize Albertyn-du Toit. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
’n Waarderende, begripvolle bespreking van Albertyn-du Toit se debuutroman. Iets in die toon, in die aanslag laat my vermoed dat Die kinders van die spookwerwe nie die soort roman is wat Bekker saans lees voor hy gaan slaap nie.

Volmaan oor die Marico, deur Herman Charles Bosman. Resensie: Johann Lodewyk Marais. (Boeke24)
’n Resensie vir die leek geskryf. Johann Lodewyk Marais skyn goed ingelig oor Bosman te wees, maar laat na om aan te dui of hierdie vertalings, deur Hendrik Jansen, van die herstelde verhale van Stephen Gray se Anniversary Edition is. Dít is al wat die fynproewer wil weet.