Jy blaai in die argief vir 2019 Julie.

Profile photo of crito

by crito

Gesaghebbend

Julie 17, 2019 in Uncategorized

Die man van Quatro, deur Calvyn van Niekerk. Resensie: Jonathan Amid. (Boeke24)
’n Uiters goeie resensie. Amid het ontwikkel in ’n gesaghebbende stem oor plaaslike misdaadfiksie. Hier kontekstualiseer hy Van Niekerk se roman ten opsigte van Afrikaanse én Engelse tydgenootlike romans, en gee dan nét genoeg inligting oor Die man van Quatro om die resensie te laat werk. Bekyk jy die geheel, val dit op dat Amid hom heeltemal weerhou het van die verhaal oorvertel, en gedoen het wat resensieleser én skrywer van die resensent verwag: Taksering van die roman se sterk punte.

Bloedlelie, deur Jeanette Ferreira. Resensie: Johanna van Eeden. (Boeke24)
Ferreira verdien sekerlik volpunte vir tydsberekening – ’n verhaal wat eienaarskap van grond gaan haal by Piet Retief, en dan aansluit by moderne tye. Van Eeden gryp dan ook die aktuele aspekte van die roman aan om haar punte te maak. Veral die een oor geskiedskrywing is belangrik, nie alleen danksy die politiek van ons tyd nie, maar ook omdat dit die spier is wat in die verlede Ferreira se skryfwerk krag gegee het. Ek kan nie onthou dat ek Van Eeden se naam al dikwels op boekeblaaie gesien het nie, maar hoop dit sal meer gereeld daar opspring.

Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, deur Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp. Resensie: Dana Snyman. (Rapport Boeke)
Kan nie sê dat die onderwerp my gaande het nie. Dana Snyman trek mens egter in die sfeer in – sy pa het aan die rand van die AWB beweeg, hy het van die belhamels in die boek geken. Hy gee te veel van die boek se inhoud weg, maar teen die tyd dat hy sê die boek “behoort, die vet weet, in skole voorgeskryf te word”, weet jy dat jy met ’n baie knap resensent te doen het.

Sypaadjie, deur Alma Rossouw. Resensent: Louise Ferreira. (Boeke24)
Goed so, Louise Ferreira. As die boek swak is, moet dit gesê word. Ongerealiseerde potensiaal tel nie punte nie.