Profile photo of crito

by

Hoe anders?

November 21, 2018 in Uncategorized

Losprys, deur Martin Steyn. Resensie: Ronel Nel (Boeke24)
Nel gee genoeg agtergrond en konteks om mens nuuskierig te maak oor die skrywer en hierdie roman, maar sy is nog geneig om té veel van die verhaal op te som. Sy sê reeds hoekom Steyn anders is as sy eweknieë, en dis eintlik al wat mens wil weet.

Die Army het jou nommer, deur Johan van der Mescht. resensie: Gert van der Westhuizen. (Boeke24)
Wat Van der Westhuizen vir ons sê, is dat Van der Mescht geen Michael Herr is nie. Nie onvergeetbaar nie, sê die resensent. Eina.

Die generaal, deur Hans Pienaar. Resensie: Danie Botha (Rapport Boeke)
’n Vriendelike resensie. Begrip vir die bouwerk van die roman, deernis met die inhoud, nie blind vir die foute nie. Alles onder die oog – behalwe die redes hoekom mens die roman sou wou lees. Is Die generaal anders as ander diensplig-romans?

Die onvergeetlike onskuld van Dirkie Verwey, deur Charl-Pierre Naudé. Resensie: Willie Burger (Boeke24)
Burger skram weg van die term “wetenskapsfiksie” en hang die resensie aan die kapstok van ’n “onbetroubare verteller”. Dit werk vir my. Sy uiteensetting van die roman se fisieke reikwydte is netjies; sy vermyding van die oorvertel van die verhaal is opmerklik. Maar hoekom sluit die bespreking so stomp af?

Wit terroriste, deur Albert Blake. Resensent: Barend van der Merwe (LitNet)
Dit lyk my LitNet se boekbesprekings wat in sommige gevalle as “Lesersindrukke” aangebied word, vir die resensent ’n bietjie meer vryheid gee. Wat hierdie bespreking vir my so goed maak, is die feit dat Van der Merwe hom die vraag afvra of die OB en Stormjaers ’n wesentlike bedreiging vir die staat ingehou het. In die proses om te bevind dat die boek nie bewyse daarvoor lewer nie, slaag hy tog daarin om ’n groot aanbeveling vir die boek te gee, en die eietydse leser nuuskierig te maak oor ’n verskynsel wat vandag nie werklik meer baie relevant is nie. Totdat ’n nuwe versetsbeweging opstaan, natuurlik.

Gert en Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar, deur Pieter van Zyl. Resensie: Barend van der Merwe (LitNet)
Nog ’n “Lesersindruk” deur Barend van der Merwe. Die persona wat die resensent hier aanneem, is dié van iemand wat nie oormatig kundig is oor die onderwerp nie, en wil weet wat die “nuwe lig” is wat op die ou raaisel gewerp word. Niks nie, sê hy. Sodra jy die bespreking gelees het, het die boek se bekoring verdwyn.

Huppelkind, deur WO Kühne en Dorothy Hill. Resensie: Magdel Vorster (LitNet)
Ek verkies hierdie soort bespreking bo dié wat Piet Grobler afgelope naweek in Rapport Boeke gegee het (’n vangnet waarin vlugtig aandag gegee word aan ’n rits boeke). Vorster argumenteer dat Huppelkind na al die jare steeds noodsaaklike leesstof is vir jongeliede. Een feitefout (Kühne se seun heet Klaus) maar owerigens ’n baie nuttige blootlegging van die boek se sjarme en deugde. Om terug te kom by die opdrag wat Piet Grobler probeer uitvoer het: Elkeen van die boeke wat hy noem, verdien ’n bespreking soos dié wat Vorster van Huppelkind gee. Onder ideale omstandighede. (Ek behoort ook seker hierby ’n mea culpa te voeg.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.