Jy blaai in die argief vir 2018 November.

Profile photo of crito

by crito

Strategie

November 8, 2018 in Uncategorized

Die onelooflike onskuld van Dirkie verwey, deur Charl-Pierre Naudé. Resensent: Jean Meiring (Rapport Boeke)
Die resensent se strategie: Hoe om die boek se uniekheid onder woorde te kry sonder om die geheime te verklap. Meiring se strategie slaag. Sy aanpak is dié van iemand wat sy leser wil nuuskierig maak terwyl hy ook evaluerend afstuur op die som van sy gewaarwordinge. Dat hy nie jou aandag verloor nie, is blyke van sy vernuf as resensent: Die boek se inhoud is nie te reduseer tot ’n enkelvoudige opsomming nie.

Die troebel tyd, deur Ingrid Winterbach. Resensent: Louise Viljoen (Rapport Boeke)
Louise Viljoen se deeglikheid, en haar gawe om nie te swig voor die versoeking van akademiese gegorrel nie, maak hierdie resensie uitstekend. En hoe lekker is dit nie om ’n slag ’n slotparagraaf te lees waarin die resensent skielik al die registers ooptrek nie. Dit moet vir Winterbach ’n wonderlike gevoel gebring het om Viljoen se woorde te lees.

Prooi, deur Deon Meyer. Resensente: Francois Bekker en Charles Smith (albei Boeke24)
Francois Bekker hou van Prooi. Baie. “Monumentale Bennie Griessel-doesier wat die spanningsgenre op briljante wyse vernuwe en verruim.” Charles Smith is minder geesdriftig. Meyer kon Bennie Griessel by die huis gelos het en dan sou dit ’n beter boek gewees het; Meyer moes gekyk het hoe naby hy aan die moord op die president kon gekom het, want dan sou die ekstra spanning die boek ’n volwaardige Jason Bourne te maak. Lees mens die twee resensies, klink Bekker se loflied vir my oortuigend, maar dan is Smith se argumente ook goed verwoord. Uiteindelik was Bekker se resensie vir my sterker, al sal die skrywer meer stof tot nadenke by Smith kry. My probleem is dat ek aldrie Robert Ludlam se Bourne-boeke gelees het, en een van Eric Lustbader s’n. Die flieks is beter as die boeke. Smith se slotopmerking oortuig my dus glad nie, en wanneer so-iets gebeur, lees mens terug in die resensie en jy wonder oor die maatstawwe wat die resensent aangelê het.

Blasjan en die blou kitaar, deur Koos Kombuis. Resensie: Henri Malan (Boeke24)
Vernuftige resensie. Resensent in Graad 7. Skoliere is vroeg al woordvaardig, nè? Maar hoeveel waarde moet mens dan heg aan ’n opmerking soos “Koos Kombuis gee in sy nuwe boek ’n akkurate voorstelling van ons samelewing …”? Regtig? Sal die kinders van Mitchell’s Plain met jou saamstem, of die beaardes van Springs? Veralgemenings is die duiwel se oorkussing, Henri.