Profile photo of crito

by

Kerk, kerker, kerkste

Oktober 24, 2018 in Uncategorized

Die gedagte kom meermale by my op dat die geskiedskrywers van die toekoms ’n baie interessante taak gaan hê wanneer hulle eendag die geskiedenis van die Afrikaners wil skryf. Die verlies van politieke mag het ’n rippeleffek gehad op talle kulturele en godsdienstige instellings; die land is in ’n oorgangstyd en die Afrikaanse kerke groei en taan in wisselende mate.

Die ou “National Party at prayer” is die onderwerp van Jean Oosthuizen se boek Die opkoms en ondergang van die NG Kerk. Frits Gaum, ’n voormalige redakteur van die Kerkbode, het dit vir Rapport Boeke geresenseer. (Oosthuizen het ook sy draai by die Kerkbode gemaak, as nuusredakteur.)

Ek het geen erg aan die NG Kerk nie, maar ek is elke keer verbaas oor hoe geboeid ek resensies soos hierdie lees. Wat my veral geboei het, is die kontras tussen Gaum en Oosthuizen se benaderings. Oosthuizen sê die kerk moet vernuwe, Gaum voel dat die manier waarop Oosthuizen dit wil doen, die Christelike geloof sal vernietig.

Terwyl Gaum dan met Oosthuizen in gesprek tree via die resensie, en ek die lees daarvan geniet, begin ek ook wonder oor die plek van sulke resensies op ’n boekeblad soos dié van Rapport. Sekerlik is dit ’n kleiner gehoor as dié wat ’n resensie van die juris en skrywer Andrew Brown oor Deon Meyer se nuutste, Prooi, wil lees. Ek vermoed dit is ook in pas met die moontlike lesers van Joan Hambidge se wydreikende resensie van Ingrid Winterbach se Die troebel tyd die volgende dag in Boeke24.

Hoe ironies, was my uiteindelike gevoel, dat die siel en voortbestaan van die NG kerk ernstig en insiggewend bespreek word in ’n Sondagkoerant – daardie publikasiesoort wat eens deur menige NG-predikante Sondae van die kansel af verdoem is. Fonteintjie, fonteintjie …

Nadat  ek Gaum se resensie gelees het, het Barend van der Merwe s’n op LitNet vir my ’n verdere perspektief gebring, een waarmee ek my makliker kon vereenselwig. Waar Gaum nog die hoop uitspreek dat iemand soos Jean Oosthuizen tog eendag sy weg na die NG Kerk terug sal vind, het Van der Merwe die skrif reeds aan die muur gesien.

Hy stel dit pront dat die kerk nie in sy huidige vorm sal bly voortbestaan nie. Omdat dit nie in wese verander het sedeert die groot politieke ommekeer in ons land gekom het nie:

“Baie het verander die afgelope 30 jaar, maar nie wanneer jy op ’n Sondagoggend deur die deure van ’n NG Kerk stap nie. Natuurlik het klein dingetjies verander. Mense trek dalk vandag gemakliker aan vir kerkdienste. Hulle sing nuwer liedere as jare gelede. Daar is soms ’n vrou op die kansel. En kinders gebruik deesdae ook nagmaal. Maar wanneer mens ’n kerk besoek, dan stap jy eintlik byna terug in die tyd. Dieselfde ou debatte woed vir dekades, soms selfs eeue, en kom nooit tot ’n einde nie. Daar is ’n alewige toutrekkery oor beuselagtige dogmatiese leerstellinge wat eintlik maar niks anders is as kerkpolitiek en ’n spel om mag nie. Neem byvoorbeeld die onderwerp van Satan. Baie mense het al lankal vrede gemaak daarmee dat Satan ’n mitiese figuur is. Maar binne die kerk woed daar gedurig ’n stryd oor Satan. En selfs oor of hy ’n stert het of nie.”

Ná ek Van der Merwe se resensie gelees het, het ek terug na Gaum s’n. Dinge raakgesien wat die eerste lees nie dadelik vir my duidelik was nie. Gaum is lid van ’n ouer geslag NG-lidmate, en het aan eie bas die gemene werk van die kerk se “predikanteboelies” (Oosthuizen se terminologie) ervaar, via sy seun.

Die paragraaf waarin Gaum daardie beskrywing van Oosthuizen gebruik, het skielik vir my meer betekenis:

“Oosthuizen vertel onderhoudend van sy eie ondervinding met kerklike strukture en ‘predikanteboelies’ tydens die Woordfees-Kerkbode-debakel in 2013 waar hy die harde, selfs ongenaakbare kant van die kerk aan eie lyf beleef het. Hy vertel die verhaal uit sy hoek, maar al is daar ook ander perspektiewe, is dit duidelik dat die kerk die affêre anders moes hanteer het. Die NG Kerk skuld hom ’n verskoning.”

Fritz Gaum se resensie kom uit die hoek van diegene in die NG-kerk wat kwessies “hanteer” soos hulle opdoem. Oosthuizen bepleit die radikale hervorming van die kerk, waardeur sulke kwessies vermoedelik by voorbaat in beginsel aangespreek sal wees.

Die vraag waarmee dit my uiteindelik gelaat het, is of die NG Kerk nog vir my ’n interessante onderwerp sal wees as ek nie meer in koerante oor die nadraai van Belhar, van vroulike en gay predikante en al die dinge waarmee die NG Kerk sukkel kan lees nie. Wanneer daar nie meer ’n “hanteer”-mandjie op die lessenaar van elke pastorie is nie.

Dis darem ’n vreemde lojaliteit wat ’n oud-lidmaat het! Dalk post-modernistiese leedvermaak.

1 antwoord op Kerk, kerker, kerkste

  1. Johannes het gesê op Oktober 27, 2018

    Natuurlik is Jean se feite nie als verkeerd nie… Tog hang die onderrok van bitterheid uit… En eensydigheid! Ek dank God vir die suiwer Woordverkondiging, opofferende sending en barmhartigheid, ryk geskiedenis van liefde en genade wat ek in die NGK gesien en gehoor het! Oor die huidige rigting van die NGK kan mens maar net diep bekommerd wees, maar ek sien ook vlammetjies van hoop en nuwe lewe…

    Is dit te veel van Litnet gevra om hierdie kommentaar te plaas?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.