Jy blaai in die argief vir 2018 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Kerk, kerker, kerkste

Oktober 24, 2018 in Uncategorized

Die gedagte kom meermale by my op dat die geskiedskrywers van die toekoms ’n baie interessante taak gaan hê wanneer hulle eendag die geskiedenis van die Afrikaners wil skryf. Die verlies van politieke mag het ’n rippeleffek gehad op talle kulturele en godsdienstige instellings; die land is in ’n oorgangstyd en die Afrikaanse kerke groei en taan in wisselende mate.

Die ou “National Party at prayer” is die onderwerp van Jean Oosthuizen se boek Die opkoms en ondergang van die NG Kerk. Frits Gaum, ’n voormalige redakteur van die Kerkbode, het dit vir Rapport Boeke geresenseer. (Oosthuizen het ook sy draai by die Kerkbode gemaak, as nuusredakteur.)

Ek het geen erg aan die NG Kerk nie, maar ek is elke keer verbaas oor hoe geboeid ek resensies soos hierdie lees. Wat my veral geboei het, is die kontras tussen Gaum en Oosthuizen se benaderings. Oosthuizen sê die kerk moet vernuwe, Gaum voel dat die manier waarop Oosthuizen dit wil doen, die Christelike geloof sal vernietig.

Terwyl Gaum dan met Oosthuizen in gesprek tree via die resensie, en ek die lees daarvan geniet, begin ek ook wonder oor die plek van sulke resensies op ’n boekeblad soos dié van Rapport. Sekerlik is dit ’n kleiner gehoor as dié wat ’n resensie van die juris en skrywer Andrew Brown oor Deon Meyer se nuutste, Prooi, wil lees. Ek vermoed dit is ook in pas met die moontlike lesers van Joan Hambidge se wydreikende resensie van Ingrid Winterbach se Die troebel tyd die volgende dag in Boeke24.

Hoe ironies, was my uiteindelike gevoel, dat die siel en voortbestaan van die NG kerk ernstig en insiggewend bespreek word in ’n Sondagkoerant – daardie publikasiesoort wat eens deur menige NG-predikante Sondae van die kansel af verdoem is. Fonteintjie, fonteintjie …

Nadat  ek Gaum se resensie gelees het, het Barend van der Merwe s’n op LitNet vir my ’n verdere perspektief gebring, een waarmee ek my makliker kon vereenselwig. Waar Gaum nog die hoop uitspreek dat iemand soos Jean Oosthuizen tog eendag sy weg na die NG Kerk terug sal vind, het Van der Merwe die skrif reeds aan die muur gesien.

Hy stel dit pront dat die kerk nie in sy huidige vorm sal bly voortbestaan nie. Omdat dit nie in wese verander het sedeert die groot politieke ommekeer in ons land gekom het nie:

“Baie het verander die afgelope 30 jaar, maar nie wanneer jy op ’n Sondagoggend deur die deure van ’n NG Kerk stap nie. Natuurlik het klein dingetjies verander. Mense trek dalk vandag gemakliker aan vir kerkdienste. Hulle sing nuwer liedere as jare gelede. Daar is soms ’n vrou op die kansel. En kinders gebruik deesdae ook nagmaal. Maar wanneer mens ’n kerk besoek, dan stap jy eintlik byna terug in die tyd. Dieselfde ou debatte woed vir dekades, soms selfs eeue, en kom nooit tot ’n einde nie. Daar is ’n alewige toutrekkery oor beuselagtige dogmatiese leerstellinge wat eintlik maar niks anders is as kerkpolitiek en ’n spel om mag nie. Neem byvoorbeeld die onderwerp van Satan. Baie mense het al lankal vrede gemaak daarmee dat Satan ’n mitiese figuur is. Maar binne die kerk woed daar gedurig ’n stryd oor Satan. En selfs oor of hy ’n stert het of nie.”

Ná ek Van der Merwe se resensie gelees het, het ek terug na Gaum s’n. Dinge raakgesien wat die eerste lees nie dadelik vir my duidelik was nie. Gaum is lid van ’n ouer geslag NG-lidmate, en het aan eie bas die gemene werk van die kerk se “predikanteboelies” (Oosthuizen se terminologie) ervaar, via sy seun.

Die paragraaf waarin Gaum daardie beskrywing van Oosthuizen gebruik, het skielik vir my meer betekenis:

“Oosthuizen vertel onderhoudend van sy eie ondervinding met kerklike strukture en ‘predikanteboelies’ tydens die Woordfees-Kerkbode-debakel in 2013 waar hy die harde, selfs ongenaakbare kant van die kerk aan eie lyf beleef het. Hy vertel die verhaal uit sy hoek, maar al is daar ook ander perspektiewe, is dit duidelik dat die kerk die affêre anders moes hanteer het. Die NG Kerk skuld hom ’n verskoning.”

Fritz Gaum se resensie kom uit die hoek van diegene in die NG-kerk wat kwessies “hanteer” soos hulle opdoem. Oosthuizen bepleit die radikale hervorming van die kerk, waardeur sulke kwessies vermoedelik by voorbaat in beginsel aangespreek sal wees.

Die vraag waarmee dit my uiteindelik gelaat het, is of die NG Kerk nog vir my ’n interessante onderwerp sal wees as ek nie meer in koerante oor die nadraai van Belhar, van vroulike en gay predikante en al die dinge waarmee die NG Kerk sukkel kan lees nie. Wanneer daar nie meer ’n “hanteer”-mandjie op die lessenaar van elke pastorie is nie.

Dis darem ’n vreemde lojaliteit wat ’n oud-lidmaat het! Dalk post-modernistiese leedvermaak.

Profile photo of crito

by crito

Bederf, bedorwe

Oktober 17, 2018 in Uncategorized

’n Resensent is nie ’n oorverteller van stories nie. ’n Resensent is iemand wat ’n boek lees, en dan by wyse van ’n reaksie aan sy lesers redes verskaf hoekom die boek die lees werd sal wees. Of nie.

Afgelope Sondag het Rapport Boeke twee resensies gepubliseer wat ek aanvanklik positief gelees het, maar wat my by nabetragting al hoe meer hinder. Veral nadat ’n student my aandag gevestig het op ’n blog wat Zirk van den Berg geskryf het na aanleiding van een van daardie resensies.

Van den Berg se boek Die vertes in was een van die getroffenes. Denver Kesting, ’n Windhoekse joernalis, het dit geresenseer.

My eerste reaksie was dat dit ’n deurdagte, goeie resensie is. Goed op meer as een manier. Kesting se slotoordeel is dat Van den Berg dit oortuigend regkry om die geskiedenis ook uit die perspektief van die verontregtes te vertel. Die boek handel oor die Duitse kolonialisering van die land wat vandag as Namibië bekend staan.

In sy blog skryf Van den Berg die volgende: “I also had a reviewer who revealed several important moments in the book in their review, going so far as to quote one of the more shocking developments in the book verbatim. While that review may have enticed some people to read the book, it also spoiled the reading experience for them.”

Die resensie waarna hy verwys, is Kesting s’n in Rapport. Ek het die resensie weer gaan lees, en daar is inderdaad ’n uitpak van twee van die insidente in die roman. Ek moet beken dat dit my nie gepla het nie, maar as dit dan wel so is dat dit twee sleutelmomente in die roman verklap, moes Kesting dit besef het en daardie twee tonele meer in abstraksie beskryf het.

En nou pla dit my. Ek wil Die vertes in lees, maar nou het ek die skrywer se bevestiging dat twee van die kerntonele in sy boek vir my ontlont is weens die resensie.

Die ander resensie in Rapport Boeke is Celesté Fritze s’n oor As sy weer kom deur Marlize Hobbs. Sy het daarin geslaag om die boek vir my besonder interessant te maak, een wat ek wil lees. Fritze het netjies tussen abstraksie en parafrasering van die verhaal beweeg. Sy gee die raamwerk, maar prikkel die leser se verbeelding genoeg om hom/haar nuuskierig te maak.

Zirk van den Berg maak in die bovermelde blog ook ’n ander opmerking: “A reviewer’s job is not to show their audience how clever or erudite they are. Not to paraphrase the story. Not to complain that the book they’re reviewing is not some other book they would have liked to read or have written. The job of a reviewer is this: To read the book attentively and help their audience decide if they want to invest their time and/or money into this book.”

Fritze gee genoeg verwysings na ander literêre werke om mens deeglik in te lig oor watse soort roman Hobbs geskryf het. Sy probeer om aan die koerantleser ’n aanduiding te gee van die verwikkeldheid van die materiaal wat Hobbs verwerk het. Uit Fritze se beskrywing kom mens wel deeglik agter dat ’n baie komplekse mens sentraal in As sy weer kom staan. Sy gebruik die pragtige beskrywing van “die geweldig verknoopte bewussyn”.
Alles goed en wel. Dan kom mens by die slotparagraaf, en jy sien hoe Fritze ’n maneuver uitgevoer het om te ontsnap aan die gee van ’n evaluering van die roman. In Van den Berg se blog vra hy onder meer die volgende: “I cannot understand why reviewers don’t simply state if they had enjoyed reading the book. Isn’t that the main thing their audience wants to know?”

Met daardie vrae in gedagte het ek Fritze se resensie weer deeglik deurgegaan, en gesien hoe sy my met sprankelende, boeiende beskrywings van die roman ingetrek het en nuuskierig gemaak het.

Maar wanneer sy kom by die punt waar sy moet te kenne gee of sy die lees van As sy weer kom geniet het, neem sy haar toevlug tot ’n aanhaling van Melissa Etheridge: “Toe die demensielyer aan die Totius-beeld se voete urineer en die twee in ’n ruimtetuig poëties die wye heelal in ‘fok’ (bl. 120), wou hierdie leser soos die sanger-liedjieskrywer Melissa Etheridge gil: ‘Somebody bring me some water, can’t you see I’m burning alive.’ “

Ek het dit gelees, en herlees. Ek het gewonder presies wat sy te kenne wil gee. En toe tot die besef gekom dat sy onseker is, en nie die duim na onder of na bo wil beweeg nie. Nou laat sy dinge maar hang.

Uiteraard is dit nie ’n ongeldige strategie om te volg nie; dit kan wees dat sy glad nie sterk gevoel het na enige kant toe oor die roman nie, en op hierdie manier haar pligte as resensent probeer nakom, hopend dat die intelligente koerantleser sal snap wat sy wil sê.

Ek kan die frustrasies van Zirk van den Berg begryp; die irritasies waarmee skrywers resensies oor hul boeke lees, is dikwels verwant aan dieselfde irritasies waarmee koerantlesers resansies begin lees en uiteindelik die resensie moet probeer ontsyfer net om agter te kom wat die resensent wou sê.

Die enigste troos is dat baie koerantlesers net vinnig oor ’n resensie heen skeer, en uit die opskrif en die algemene trant van die resensies genoeg positiewe tekens kry. Soos ek met die eerste blik op hierdie twee resensies gekry het.

Profile photo of crito

by crito

Smoelneuker

Oktober 10, 2018 in Uncategorized

’n Resensie wat die leser wil lok met die woorde “Die interessantste aspek van ’n ietwat teleurstellende nuwe boek” nooi mens nie juis om dit te lees nie. Maar die resensent is Hermann Giliomee, en die boek handel oor die Afrikaner-Broederbond, of Afrikanerbond soos dit deesdae bekend wil staan:  O.J.O. Ferreira se Broederskap: Eeufeesgeskiedenis van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond 1918-2018. Daarom het ek dit met groot belangstelling end-uit gelees afgelope Sondag in Rapport.

Synde ’n gerekende historikus maak Giliomee eers ’n wye draai by al die vorige boeke wat oor die AB verskyn het. Hy lys hulle almal, en dit is nogal inseggewend wat hy alles daaruit oprakel.  Die belangrikste is sekerlik dat daar reeds ’n enorme stuk navorsing oor dié geheime organisasie gedoen is, en dat dit duidelik té omvattend is vir publikasie. Nou moet mens in universiteitsbiblioteke gaan soek daarna. Vir diegene wat nog toegang tot sulke biblioteke het, die skrywer is Ernst Stals, en Giliomee dink hy is die bye se bene.

Wanneer hy by die boek uitkom waaroor die resensie eintlik gaan, O.J.O. Ferreira s’n, is hy louwarm tot koud in sy reaksie. ’n Groot deel het hom verveel, maar daar is darem iets wat sy aandag geboei het, naamlik ’n bespreking van hoe die AB van die jare tagtig af tot nou gesukkel het om “leiding te gee”. Daardie taalgebruik is genoeg om mens se kliere te laat verkrummel. Maar dis nou seker hoe dit is. ’n Geheime organisasie wat nie meer alte geheimsinnig is nie, se ledetal kom oorwegend uit 8% van die Suid-Afrikaanse bevolking, en hulle wil uit hul eie kom “leiding gee”.

Die rede hoekom koerante graag gesaghebbendes vra om boeke soos hierdie te resenseer, is om die boek te meet aan bestaande literatuur en feite. ’n Meer ideale persoon as Giliomee kon Rapport nie gekry het nie. Sy liefde vir Afrikaans en die Afrikaner is nie onder verdenking nie, maar ek sou verbaas wees as hy ooit ’n lid van die organisasie was.

Wanneer hy die boek begin meet, skiet dit duidelik vir hom hopeloos te kort. Hy wys daarop dat in die boek se opsomming van die Stals-manuskrip daar min of geen verwysing is na twee gebeurtenisse waar die AB ’n baie sterk rol gespeel het – die Ekonomiese Volkskongres van 1939, en die ander is ’n Bondsraadvergadering in 1956 waar voorgestel is dat die destydse NP-regering deur kwotas steun aan Afrikanerondernemings moes gee.

Danksy Anton Rupert en Andreas Wassenaar is daardie idee “van die tafel gevee”. Van hier af is dit ’n bitter interessante resensie. Die boek spreek op sy sterkste tot Giliomee wanneer dit gaan oor die sukkeljare van die organisasie sedert die jare tagtig. Hy skets ’n prentjie van ons ontgogeling, en haal dan vir Niël Barnard aan. Barnard, voormalige hoof van die nasionale intelligensiediens, het daarop gewys dat meeste lede van die AB, toe daar in die vroeë jare negentig om poste meegeding is, nie die moed van hul oortuiging gehad het om te erken dat hulle wel lid van die AB was nie.

En dan kom hy by sy slotvraag, wat ’n mens nogal beïndruk omdat hy so openlik agterdogtig is oor die AB se ou mantra van dienslewering: “Die historikus moet inderdaad ook die vraag stel: Het die besluit om ’n AB-lid te word, veral sedert ongeveer die laat 1960’s, oor loopbaanbevordering of oor toewyding aan die saak van Afrikaans gegaan?”

Daardie vraag gaan nog lank bly hang in ons midde. Baie mense dink hulle weet wat die antwoord is.

Dit is ’n lang resensie, maar dit tel intensiteit op soos dit ontwikkel, en eindig dan met een van die grootste smoelneukers wat ek nog in ’n bespreking van ’n feiteboek gelees het.

Profile photo of crito

by crito

Ton en grense

Oktober 3, 2018 in Uncategorized

Ton Vosloo se herinneringe, Oor grense, met subtitel ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, is duidelik een van daardie publikasies wat uiteenlopende reaksies uitlok. Ek het dit eers klaargelees voordat ek na die resensies gekyk het. Ek is bly ek het dit gedoen, al is dit vir die doeleindes van hierdie rubriek nie altyd die beste procedé nie.

Die drie resensente is Johannes Froneman en Joan Hambidge in Boeke24, en die afgetrede regter Johann Kriegler in Rapport Boeke. Aldrie is verdienstelik. Op ’n heel merkbare manier vul hulle mekaar aan, en een van hulle sal om die beurt aspekte wat die ander dalk gemis het, of anders interpreteer het, vir die leser uitlig.

Johann Kriegler is byvoorbeeld geïntrigeer deur die subtitel, wat hom laat dink aan Gabriel García Márquez se Love in the Time of Cholera. En die titel self is vir hom dubbelsinnig. Mens sou dit meerduidig kon vind, maar Johann Froneman gee ’n baie oortuigende verklaring (dit sluit aan by Oor grense heen, ’n boek wat in 1992 oor die ou Nasionale Pers verskyn het. En daarmee raak die aansluiting van die subtitel by Marquez minder waarskynlik, ’n homofoniese aberasie.

Froneman, op sy beurt, verwys na die verlore boek oor Naspers se honderd jaar, in die hoop dat dit tog nog gepubliseer sal word. Joan Hambidge besluit weer dat dié saak nie net ’n verbygaande verwysing in haar resensie kan wees nie, en lig dit groter uit:

“Verskille tussen Vosloo en Bekker word vertel oor (‘n vroeëre boek deur Lizette Rabe) die geskiedenis van Naspers. Bekker se gevoel was dat dit nie moes verskyn nie. ‘As hulle oor die maatskappy se verlede moes lees, sou dit die aandag van die ANC-regering op die maatskappy vestig en kon dit sy gereguleerde besighede, soos DStv en digitale uitbreidings, in die gedrang bring.’ Dat dit waarskynlik ’n oorreaksie was, is nou duidelik.”

Daarna lees mens Johann Kriegler se resensie, veral die gedeelte waarin hy ’n gesprek verbeel met Ton Vosloo een wintersaand voor die kaggel met ’n bottel of wat. En jy besef dat as Koos Bekker dié resensie lees, hy waarskynlik heeltemal van Hambidge sal verskil oor sy “oorreaksie” en sy teenkanting teen daardie geskiedenis opnuut sal bevestig.

Ek het Froneman en Hambidge se resensies met groot waardering gelees – hul aanpak is albei van só ’n aard dat mens ’n baie goeie idee kry van die waarde van Vosloo se bestekopname.

Kriegler s’n het meer by my geresoneer, omdat ek ook soos Kriegler gevoel het dat ek graag met hierdie man Ton Vosloo sou wou gesels, en hom as mens leer ken.

Die baie kritiese vrae wat Kriegler stel oor die rol van die groot Afrikaanse koerantgroep is ’n bonus, en dit verskaf die soort pitkos wat ’n koerant sekerlik aan sy lesers wil verskaf. ’n Mens moet onthou dat Kriegler met ’n resensie vir Rapport eintlik die vesting van die vors betree, wat die volgende paragrawe in sy resensie dan heel merkwaardig maak:

“Maar die skrywer is nou eenmaal te intelligent en polities deurwinter om die selfbegogeling in sy lofrede vir Naspers nie raak te sien nie. G’n denkende Afrikaner kan tog vandag – 2018, met die wrange vrugte van ons vertraagde rasseskikking oral te sien – werklik glo dat “die pad voorberei [is] vir ’n groot politieke verandering: Die aanvaarding van ons swart landgenote as deelgenote” nie (bl. 25). Wil die memoiris in alle eerlikheid vandag ontken dat Nasionale Pers reeds doer in die 1950’s sy roeping as gewete van die Nasionale Party versaak het? Kon die wyse manne van Keeromstraat werklik die Bantoestan-storie van “aparte vryhede” vir soetkoek opgeëet het? Het hulle regtig daarin “ ’n moontlike ontsnaphoek gesien, weg van die oorwig swart getalle in Suid-Afrika” (bl. 20) terwyl daar “denkende mense [was] wat verder as die naakte rassisme van die NP gekyk het” (bl. 19) – en daarvoor verguis is?
“Hoe verskoon ons hul klakkelose napraat van die NP se vervreemding (en in duisende gevalle konstruktiewe verbanning) van ons bruin taal-, kultuur-, gees- en meesal geloofsgenote? Bowenal, hoe verduidelik ons die onreg teenoor hierdie politieke bondgenote? Hoe verduidelik ons daarmee saam die grondwetlike geknoei en wettiese kunsgrepe waarmee die bruin mense ontkieser en ontheem moes word?”

Kriegler vra baie harde vrae, en ek sou wat wou gee om te weet wat Vosloo (en iemand soos Koos Bekker) se reaksie daarop is. Die laaste helfte van Kriegler se resensie is iets besonders. Dit lig die bespreking bokant die vlak van gewoon ’n reaksie op ’n boek. Dit word ’n reaksie op die waardes en geskiedenis wat verteenwoordig word deur die memoiris.

Oor net een ding verskil ek van Kriegler – ek vind die buiteblad nie innemend nie. Het die uitgewer nog nie gehoor van liggaamstaal nie?

Sekerlik het ek meer aandag aan hierdie drie resensies gegee omdat ek ’n akademiese belangstelling in die media het. Tog voel ek dat koerantlesers nie daaroor heen sou beweeg nie – aldrie is onderhoudend en dra by tot ons kennis van iemand wat ons eerbied verdien.