Profile photo of crito

by

Besoedelde geskiedenis

September 19, 2018 in Uncategorized

Ek wonder of dit nog ooit gebeur dat koerante resensies aan resensente teruggee met aanduidings van hoe daardie resensie beter of interessanter aangebied kan word? Die resensie wat hierdie vraag vir my opgewerp het, is Anna Kemp s’n oor ’n Skerfie glas, Erika Murray-Theron se familiegeskiedenis (Rapport Boeke).

Dis nie ’n swak resensie nie. Dit kon net veel beter aangepak gewees het – en ek sê dit nie uit wysneuserigheid nie. Ek sê dit omdat Anna Kemp aanduidings gee dat sy die belangrikste aspek van Murray-Theron se werk raakgesien het, en dit voorts staaf met verwysings wat aantoon hoe dit werk, en die skrywer se insigte, aansluit by ander internasionale publikasies.

Die kern daarvan is ’n verwysing na Eva Hoffman se After Such Knowledge: Memory, History and the Legacy of the Holocaust. Sentraal híér is die problematiek waarmee die kinders van mense wat Nazi’s was ná die uitspeel van die tweede groot wêreldoorlog te kampe had, en die verskriklike nagmerrie waarmee dit hulle laat: “I could imagine the dismay of learning you are the inheritor of a tainted, an abhorrent history”.

Uiteraard is dit presies hierdie gedagte waarmee baie jong, wit Suid-Afrikaners vandag worstel. En dit is hierdie vraagstuk wat sekerlik sorg dat Murray-Theron se boek baie aktueel is en, wat my betref, ’n baie belangrike publikasie is.

Maar Anna Kemp het daardie problematiek gelaat vir die baie lang voorlaaste paragraaf. Die aanloop daartoe is ’n uiteensetting van die inhoud, van die mense wat “klein staan in ’n wye landskap”. Dit is die verhaal van vroue se wedervaringe in Murray-Theron se familie. Dit noop Kemp dan ook uiteindelik om te sê dat ’n Skerfie glas veral tot vroue sal spreek.

Dit is darem ’n geweldige eng siening, so asof dit onmoontlik is om ’n situasie te bedink waar manlike lesers nie ook daardeur aangespreek sal word nie. Maar nou ja, as mens die boek net as ’n versameling sienings van die vroue in Murray-Theron se voorgeskiedenis wil sien, dan kan ek verstaan hoekom Kemp tot hierdie konklusie gekom het.

Kemp maak wel die punt dat die derde laaste hoofstuk in die boek, “Witbrood”, merkwaardig is, wat dan die aanknopingspunt met Eva Hoffman gee. Ek het, net vir interessantheid gaan kyk hoe resensente in die groot oorsese koerante destyds op Hoffman se boek gereageer het. Die besprekings in die Londense Observer en Independent gee albei dadelik ’n breë blik op die kernprobleem: hoe verwerk die huidige geslag die kollektiewe skuld van ’n besoedelde geskiedenis. Dié aanpak was ook by ‘n Skerfie glas nodig.

Om dan terug te kom na ’n reaksie op Murray-Theron se werk, en die saak op sy naam te noem, wat Kemp nie doen nie: Hoe moet ons, en ons kinders, rekenskap gee van ons ouers en voorouers se aandeel in die skep en afdwing van die apartheidstelsel?

As ek Kemp reg verstaan, is dít wat Murray-Theron in die derde laaste hoofstuk van ’n Skerfie glas doen. Binne die konteks van veral die Afrikaner se versplinterende groepsidentiteit, maak dit van hierdie werk van Murray-Theron een van die belangrike bydraes tot dit wat oorgebly het van die Afrikaner se kulturele bewussyn.

Dán is dit nie ’n boek wat net tot vroue spreek nie.

Kemp sluit af met die opmerking “En oor 100 jaar sal die dokumentêre waarde van hierdie pointillistiese skildery (bl. 203) ’n nóg groter reik­wydte hê.” Ek twyfel nie daaroor nie. Ek glo egter vas dat mens nie ’n honderd jaar daarvoor te wag nie, en dat Anna Kemp dit in die eerste paragraaf al moes gesê het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.