Profile photo of crito

by

Hoe dit gesê word

September 5, 2018 in Uncategorized

Alhoewel ek deesdae taamlik kieskeurig is oor die boekresensies wat ek end-uit lees (het vanoggend nog die NYRofB ongelees eenkant gesmyt om na Markus Jooste op TV te kyk), moet ek erken dat ek enigiets uit Jean Meiring se pen dadelik lees. Mens bou ’n gevoel op oor ’n resensent se smaak en insig.
Afgelope Sondag het hy vir Rapport Boeke geskryf oor ’n debuutwerk, Annie Klopper se roman, Die tragiese saak van Pamina Vermaak.
’n Ou aksioom van die joernalistiek is dat debuutwerke met sagte handskoene hanteer word. Hou die lang lem vir die tweede werk. Die opskrif van die resensie, “Dié boek klots van die clichés”, sou my normaalweg laat aanbeweeg het na ’n volgende resensie. Jean Meiring se naam het my dit wel laat lees.
Wat sal Annie Klopper uit hierdie resensie leer? Waarskynlik dat mens baie seker van jou aanslag moet wees as jy dit waag op die gebied van satire en pastiche.
Meiring se bespreking laat dadelik een ding blyk: Hy was gewillig om deur die boek oorrompel te word. Hy gee uit die staanspoor tekens dat hy die kodes van die omslag raaksien, en lus het vir die spel wat gespeel gaan word.
Sy precis van die inhoud is lekker baldadig geformuleer, genoeg so om my te laat wonder of die boek tog nie vir my bedoel is nie, die negatiewe implikasies van die opskrif ten spyt.
Maar dan begin hy met sy kritiese aantekeninge, en begin mens besef dat die dinge wat gaan volg, sal veroorsaak dat jou positiewe gevoel na negatief swaai. Die koerantleser is gewaarsku, die skrywer maak aantekeninge oor die dinge wat sy volgende keer moet vermy, en die uitgewer voel ongemaklik.
Dit is ’n boek wat meer substansie kort, suiwerder dialoog-hantering, en fyner redigering.
Maar aan die ander kant kondig Meiring tog ook die begin van ’n skrywersloopbaan aan. Hy het waardering vir baie aspekte van die boek – die feit dat daar wel soms ’n ironiese metastem is, en die deursurende humor.
Annie Klopper sal sekerlik baat kan vind by hierdie bespreking, en dit is uiteindelik wat die belangrikste is.
Kay-Ann van Rooyen se resensie van Tinus Horn se Wat het geword van Dinsdag? (Rapport Boeke) is toereikend, maar ook effens teleurstellend. Haar reaksie op Horn se boek is nie te fouteer nie, en ek is seker dat skrywer en uitgewer albei in hul skik sal wees daarmee.
Wat my kwel, is dat sy nalaat om aan te toon dat Horn aansluit by ’n baie gewilde tema in die internasionale letterkunde, dié van kunsvervalsing. Hoe vergelyk dit met die bekende werke van Donna Tart, Martin Suter, William Gaddis en Dominic Smith? Het sy dit genoem, het die resensie dadelik gewen aan gesaghebbendheid.
Schalk Schoombie het vir Boeke24 geskryf oor Jean-Pierre de Kock se Die daggaboer. Schoombie het ’n koel oog. Buiten die een opmerking oor die hoofkarakter wat homself moontlik aan sy eie produk vergryp het, vermy hy die soort humor wat ’n roman oor iemand wat met dagga boer naby Baarskeerdersbos amper noodwendig by mense uitlok. Hy lees die roman met ’n meer afstandelike benadering, sy waarneming oor die tematiek baie skerp en sy plasing van die werk binne ’n verwysingsraam baie nuttig: “In die trant van ’n man alleen teen die natuur, ’n Crusoe op sy eiland, Henry David Thoreau se ode aan Walden, Hemingway se ou man en die see, kies Lennet obsessief die donkergroen paadjies van alleenwees, wegkruip en oorleef.”
Daar straal ’n warmte jeens die boek uit die resensie, en ek is seker meeste lesers sal dit raaksien.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.