Profile photo of crito

by

Eerste reaksie, top-resensie

Augustus 20, 2018 in Uncategorized

Wanneer laas het soveel mense uitgesien na ’n boekresensie? Wie ookal die eerste resensie gepubliseer kry oor die opspraakwekkende boek Die seuns van Bird Island (deur Mark Minnie en Chris Steyn), het ’n kans om die openbare debate daaroor te beïnvloed. Omdat dit so ’n sensitiewe saak is, sal elke woord van die resensent net so deeglik geweeg word as die boek self.

Hermann Wesserman, hoof van die departement mediastudies aan UK, spreek toe die eerste oordeel uit in sy resensie in Rapport Boeke. Crito is nie geneig om te jubel oor resensies nie, maar hierdie is loshande een van die bestes wat daar in baie jare in ’n plaaslike koerant verskyn het.

Wasserman het die opdrag met soveel vernuf hanteer dat mens dit wil voorhou as toonbeeld van volwasse reaksie aan diegene wat die afgelope weke pro en contra in die sosiale en bedrukte media oor die boek gefulmineer het.

’n Mens kan seker van strategie praat wanneer jy ’n resensent se werkswyse met sulke resensies moet analiseer. Wasserman was bewus van die strominge van inligting en waninligting rondom die boek. Niemand kan só ’n resensie skryf sonder om uit die staanspoor te besluit dat jy nie die verlossende woord gaan spreek nie. Kan mens Steyn en Minnie se inligting vertrou? Wasserman het geweet dit is die kern van alle argumentasie oor die boek, en sê dan ook duidelik dat mens nie stawende getuienis moet verwag nie.

Dit dwing hom dan om as resensent ’n soort sydelingse sprong te maak. Dit gaan nie meer om die ou resensie-problematiek (Goeie/swak boek?) nie. Die vraag wat eerder gevra moet word, is: “Hoe lees ’n mens dus so ’n boek op ’n verantwoordelike manier?”

En hy identifiseer dadelik die moontlike reaksies: “Daar is waarskynlik minstens drie moontlike reaksies: woede, walging en ongeloof.”

Hy bespreek dié reaksies, en die redes daarvoor. Op hierdie punt in die resensie begin mens insien hoekom hy die bespreking ingelei het met die woorde: “Die pyn wat die Nasionale Party-regering al veroorsaak het, is reeds uitvoerig geboekstaaf, en tog blyk dit uit die bewerings in Die seuns van Bird Island dat aspekte van die regime se morele korrupsie dalk tog verhul gebly het.”

Wasserman behandel die aspek van ongeloof oor die boek se inhoud, en maak dan hierdie opmerking: “Daar is moontlik wel legitieme vrae oor die skrywers se metodes, die feitelikheid van hul aansprake en die gebrek aan konkrete bewysmateriaal, maar dit is iets heel anders as om die bewerings met ongeloof te begroet gewoon omdat die skokkende prentjie van molesterende ministers nie strook met ’n steeds diepgesetelde opvatting dat hul bewind eintlik tog ’n morele een was nie.”

As resensent sien hy die boek binne ’n groter prentjie, een waarin die debat oor die morele en etiese siel van die ou Nasionale Party en hul apartheidsregime nog nie afgehandel is nie. Sy argumentasie stuur hom na Hanna Arendt se opsomming van die “banaliteit van die bose”.

En dit bring hom by twee belangrike opmerkings.

Die eerste is dat ’n boek soos Die seuns van Bird Island sy leser dwing om na te dink oor sy eie aandadigheid aan “uitbuiting, verswyging en vergeet”.

Die tweede som hy as volg op: “As die verlede vir ons enigiets oor menslikheid geleer het, behoort ons snags wakker te lê oor die land se verlore geslagte.”

Terwyl Die seuns van Bird Island nog nie eens naastenby geregistreer het op die ANC en EFF se radar nie, bewonder ek Herman Wasserman  vir die besluit wat hy uiteindelik maak. Mens hoef maar net op Netwerk24 se webtuiste te gaan lees watse reaksies daar op die resensie was om te weet dat Wasserman in die finale instansie presies in die kol is:

“Indien niks anders nie, is dié boek ’n kragtige metafoor vir ’n hele stelsel wat ten diepste gegrond is op presies die verontmensliking, geweld en uitbuiting wat gruwelik manifesteer in hierdie verskriklike verhaal.”

Hoe meer ek oor hierdie resensie nadink, hoe meer besef ek hoe netjies Wasserman die gesprek oor die boek gelig het na ‘n volgende vlak. Interessant genoeg is die kommentare van lesers wat op Netwerk24 se webtuiste onderaan geplaas het, in min gevalle op daardie vlak.

As ‘n mens dan wil gesels oor die wyses waarop ‘n resensent deur sy reaksie op ‘n boek ‘n bydrae kan maak wat naas daardie boek verdien om lank die aandag van die leespubliek te geniet, is hier vir jou ‘n uitstekende voorbeeld. Nie alle boeke maak daarna nie – en nie alle resensente kry met sulke uitdagings te doen nie. Ek lig graag my hoed vir Rapport Boeke en Herman Wasserman.

1 antwoord op Eerste reaksie, top-resensie

  1. Ek stem volmondig saam, Crito. Dit was `n uitstekende resensie van die boek!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.