Jy blaai in die argief vir 2018 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Lewende geskiedenis

Augustus 14, 2018 in Uncategorized

Ek wens daar was proffies soos Bill Nasson in die dae toe ek nog Geskiedenis op universiteit geloop het. Dit sou die vak veel lewendiger gemaak het, en dalk sou daar ook ’n bietjie humor ingesluip het.

Dít is ook wat mens in sy boekresensies terugvind: Interessantheid, en humor. Pas afgelope naweek resenseer hy vir Rapport Boeke die Van Riebeeck-vereniging se Seleksies uit die briewe van president M.T. Steyn, waarmee dié vereniging sy eeufees vier.

In die huidige tydsgewrig is M.T. Steyn sekerlik nie besonder aktueel nie, maar Nasson maak hom ’n figuur wat ons aandag verdien. Enersyds as kampvegter vir die Afrikaneridentiteit, en andersyds as voorstander vir wit nasiebou. ‘n Man wat gesukkel het om daaraan gewoond te raak dat sy mense die oorlog verloor het, maar opgegaan het in die vestiging van ‘n nuwe staat.

Maar mens kan eintlik aan Nasson se stelswyse agterkom dat hy hom verkneukel aan die hebbelikhede van die Vrystaatse president van weleer. Hy was ‘n man wat ewe besorg was oor die pryse van hotelkamer in Parys, Frankryk, as wat hy was oor die verlies van ’n koei op  sy plaas.

Dit is dié aangename mengsel van politieke hoogdrama, die alledaagse en die banale – soos sy liefde vir die warmbronne op Brandfort – wat die wese van Steyn se karakter onthul en dié keur van korrespondensie so roerend maak,” skryf Nasson.

Hy staan ook stil by die humor, maar dit is Nasson se eie humorsin wat my getref het. Hy weet dat die inhoud van Steyn se briewe vir die leser van ons tyd naby aan nul op die register van politieke korrektheid sal wees. Tog deins hy terug as dit by hom opkom dat hy moontlik ’n waarskuwing moet uitspreek dat M.T. Steyn se idees en rasse-opvattings onaanvaarbaar is in ons tydsgewrig. Vir hom voel dit asof só ’n waarskuwing neelbuigend sal wees.

“Moet die geskiedenis, soos met soveel ander dinge, deesdae ’n gesondheidswaarskuwing hê?”

En dan laat knal hy die ware juweel in hierdie resensie: “Buitendien, watter lewende Suid-Afrikaner sal nie plesier hê aan pres. Steyn se profetiese opmerking aan Merriman in Januarie 1906 nie: ‘If you look at our S. African, public, municipal & private, you will find that we are nearly if not absolutely bankrupt’. Of soos sekere Marxiste dit sal stel: As die geskiedenis nie hom as tragedie herhaal nie, herhaal hy hom as ’n klug.”

Profile photo of crito

by crito

Twee misdaadboeke

Augustus 8, 2018 in Uncategorized

Interessant hoe die berigte oor Die seuns van Bird Island alle ander boekenuus op die oomblik oorskadu. Alles word gerelativeer. Niks anders is meer opsienbarend nie. Op ’n manier jammer ook, want twee gewikste resensies het te midde van die nuusvlaag verskyn.

Jonathan Amid s’n oor Beyers de Vos se debuutroman, Wrok (Boeke24) is ’n top-resensie oor ’n misdaadroman. Amid lees duidelik baie wyd en weet presies hoe om die resensie só te skryf dat hy die aficionados se aandag sal vang – asook diegene wat op soek is na nuwe groeipunte in die Afrikaanse skryfkuns.

Die probleem met só ’n resensie is uiteraard dat die resensent moet sê waaroor die roman handel sonder om die uiteinde te verklap. Amid gebruik verwysings na ander skrywers se romans en karakters in sulke werke, Afrikaans en Engels. Hy skets die literêre teelaarde, die speurverhale van die jare dertig (ek vermoed hy dink aan Chandler, Hammett, en waarskynlik ook Ross Macdonald in die vyftigs, met wie se werk Wrok volgens Amid se om- en beskrywing duidelik raakpunte sal hê as dit ’n “emosionele slagaar” kloof).

En uit hierdie raam van verwysings takel Amid die tekstuur van Wrok: taalgebruik, strategiese skryfwerk (“meesterlike spel tussen vertel en verswyg”), die skep van memorabele karakters, die skilder van ’n herkenbare eietydse stadsomgewing.

Ek het lanklaas só lekker gelees aan ’n resensie. Daar is nog ’n geneigdheid om terug te val op beskrywings wat mens té dikwels in die media lees (bv. “die krimineel onderskatte …”), maar in die algemeen raak die leser daarvan bewus dat hy dit hier te make het met ’n resensent wat moeite doen om die regte woorde te vind vir sy eie leesreaksie.

En daardie slotparagraaf! So knap ek haal dit graag aan: “Die oortreding van die misdaadroman se reëls is uiteindelik ’n mees gepaste literêre antwoord op ’n samelewing waar die padkaart vir die Reënboognasie iewers op ’n ashoop lê.”

Aan die ander kant van ons ervaring van misdaad in moderne Suid-Afrika is Izak du Plessis se Godfather van die Wes-Rand. Theunis Engelbrecht het dit vir Rapport Boeke geresenseer.

Die boek handel oor Ralph Haynes, ’n misdadiger van die Wes-Rand, wat in 2011 spoorloos verdwyn het.

Engelbrecht sit dus met presies die teenoorgestelde opdrag as Jonathan Amid: Die uiteinde is bekend, en wat hom te doen staan is om nie al Du Plessis se nuwe feite uit te lap nie.

Hy moet die leser herinner aan dit wat reeds algemene kennis is, en lei na die boek. Die boek gaan oor ’n raaiselagtige verdwyning. Izak du Plessis is die aanbieder van feite, maar jy, die leser, gaan jou eie gevolgtrekkings moet maak. Engelbrecht moet diegene wie se nuuskierigheid geprikkel het, laat besef dat hulle al lesende ook speurwerk gaan móét doen.

Dít doen Engelbrecht wel deeglik, met net genoeg noem van name en verklap van knutselgoed om jou te laat besluit, hel, ek wil die res van die storie ook weet!

Profile photo of crito

by crito

Klein jakkalse

Augustus 1, 2018 in Uncategorized

Twee irritasies hierdie week. Kortliks daaroor.

Erika de Beer resenseer Dubbelspiraal van André Jansen vir Boeke 24. ’n Bedrewe joernalis, en ’n baie goeie resensie. Een dowwe kol. Sy aanvaar die uitgewer se versekering dat André Jansen die skuilnaam is van ’n “ervare, bedrewe spanningsverhaalskrywer”. ’n Klein bietjie speurwerk in die koerantargiewe sou haar materiaal verskaf het vir ’n baie meer substansiële resensie.

Sy slaan Dubbelspiraal baie hoog aan. Jansen se vorige boeke, Die Jerigo-krisis en Die Simson-opsie, was volgens die besprekings daarvan van veel ligter, verstrooiingsaard. Te oordeel aan De Beer se reaksie op Dubbelspiraal het die skrywer baie groot vordering as skrywer gemaak, en het hy iemand geword wat iets oor ons geskiedenis geskep het wat ’n groot leserspubliek verdien.

En dan Ihette Jacobs se bespreking van Waar rats die ribbok gaan, Briewe van Elsabe Steenberg.

Sy spring weg met verwysings na die onlangse publikasies van briewe deur en aan Elize Botha (sonder om haar naam te noem), André P. Brink en Ingrid Jonker. Daarna volg ’n opgawe van wie die ontvanger was van die briewe, en wat die agtergrond was waarteen die briewe geskryf is.

Alles goed en wel. Die resensie hanteer Steenberg met respek. In baie opsigte ’n nederige, opregte resensie oor ’n buitengewone mens.
Wat hierdie leser geïrriteer het, is alles wat nié genoem is nie. Elsabe Steenberg was die suster van André P. Brink. Sy was getroud met D.H. Steenberg, ’n kollega van T.T. Cloete in die jare wat Cloete en Brink dikwels haaks was. Die briewe wat onder die loep kom, is uit die jare 1962 tot 1996. Ek kan kwalik glo dat Elsabe Steenberg haar nooit uitgelaat het nie oor haar broer se werk teenoor die ontvanger van die briewe, haar vriendin Elizabeth Venter. Of oor die moeilike posisie waarin sy en dr. Steenberg hulle daardeur bevind het nie.

En ewe belangrik: Wat was haar politieke oortuigings? Hoe het die Brink-gesin op die twee pole gereageer?

Natuurlik kan ’n mens nie agterna verwag dat korrespondensie tussen twee vriendinne  hierdie sake aan die groot klok sal hang nie. Jy kan wel weet dat ’n mens met ’n bietjie stiplees wel antwoorde sal vind, en dit is waar die rol van die resensent belangrik word.

En in hierdie geval is dit om aan studente van en belangstellendes in die Afrikaanse letterkunde (en natuurlik koerantlesers in die algemeen) te verduidelik hoe uiteenlopend die Brink-gesin was, en hoe mens die een party, die merkwaardige suster van die literêre reus, moet begryp en leer ken.

Om weg te spring met ’n verwysing na André P. Brink, en dan in gebreke te bly om te noem dat Elsabe Steenberg sy suster was, dít is onaanvaarbaar.