Jy blaai in die argief vir 2018 Julie.

Profile photo of crito

by crito

Die volle verhaal

Julie 24, 2018 in Uncategorized

Jou naam hoef nie Bob te wees om te weet dat koerante dwarsoor die wêreld sukkel nie. Sirkulasies daal, diepte van beriggewing neem af. Ook in Suid-Afrika: Min plaaslike publikasies kan byvoorbeeld op sakegebied die soort analise en verslaggewing doen wat die Financial Mail oorsee doen, om maar een te noem. Ons onvermoë om by die kern van die Steinhoff-saak te kom, kan herlei word na sakejoernaliste wat net so onverhoeds daardeur betrap is as die man op die straat.
Ons soek verklarings, maar die koerante sukkel om behoorlik agter die kap van die byl te kom.
Terwyl ek persoonlik in baie onaangename gesprekke met my makelaar daaroor gewikkel is, is Steinhoff en die Stellenbosse Boys (geskryf deur James-Brent Styan, en deur Nellie Brand-Jonker vir Rapport Boeke geresenseer) ’n boek wat nogal baie van my vrae help beantwoord het.
Of dit wel verduidelik, soos in die lokparagraaf by hierdie resensie beweer word, wat presies by Steinhoff gebeur het, en hoe dit so ongemerk kon plaasvind, is moeiliker om te konstateer.
Nellie Brand-Jonker het ’n baie interessante besluit geneem toe sy hierdie resensie geskryf het: Sy wou nie al die pêrels in die boek blootlê nie, maar wou wel oor die Steinhoff-fenomeen skryf aan die hand van James-Brent Styan se boek. Die fondse, die wetenswaardige geheime, na dié word verwys sonder om dit te identifiseer of by die naam te noem.
Mens sal oppervlakkig kan saamgesels oor die Steinhoff-dinge as jy haar resensie gelees het, want dit gee ’n baie deeglike voëlvlug oor die inhoud van die boek. Maar jy weet nie wie die Stellenbosse Boys is nie, jy weet nie aan watter koshuis Jooste ’n Jaguar gegee het nie, jy weet nie wie die bekende inwoners van Stellenbosch is met wie Jooste bevriend geraak het nie, jy weet nie wat Christo Wiese van Markus Jooste se stukkie skelm gesê het nie.
Hierdie dinge sal jy kry as jy die boek lees.
Vir my gevoel is dit ’n baie sterk resensie. Brand-Jonker staan uit die aard van haar beroep binne die stroom inligting wat sedert verlede Desember oor Steinhoff en Markkus Jooste in vloed gekom het. Sy weet wat om uit te lig, hoe om die koerantleser presies genoeg te gee om verder, soos sy dit stel, by daardie skindersessies langs die vleisbraaivuur te kan uithaal en saampraat.
Maar daarin lê ook haar kwesbaarheid. Dit is een ding om te kan sê dat James-Brent Styan sy inligting saamgestel het uit die honderde nuusberigte wat sedert Desember oor die maatskappy en Jooste verskyn het. Dit is ’n ander ding om te kan aandui of hy bronne oorgeslaan het, of weens tydsbeperking vir die publikasie nie in berekening kon bring nie.
Dit verg sekerlik heelwat insig en konsentrasie om uit die magdom inligting ’n boek te vorm wat alle beskikbare feite orden – en dan nog deur eie navorsing dinge by te voeg wat mense nie weet nie.
Wat Brand-Jonker nie sê nie, is of James-Brent Styan ook gaan delf het in daardie bodemlose put van wonderlike inligting, naamlik hofstukke van regsgedinge. Kyk byvoorbeeld wat het in die dae voor die veskyning van die resensie aan die lig gekom oor SARS en Christo Wiese (al was daar foute in die beriggewing). Natuurlik was daardie inligting te laat vir die boek, maar ’n goeie ondersoekende joernalis met tyd ophande sou wel in ’n verskeidenheid dokumentasie in die jare wat die Steinhoff-ineenstorting voorafgegaan het, ryke stof gevind het.
Christo Wiese het verlede week in ’n radio-onderhoud gesê dat joernaliste nie weet wat hulle doen nie. Dit is skerp taal – en ’n wonderlike uitdaging aan ondersoekende joernaliste. Maar in hierdie resensie se konteks dink ek moes Brand-Jonker vir ’n oomblik buite die stroom van sakeberiggewing getree het en ’n aanduiding gegee het van die beperkinge waarbinne die publikasie van Steinhoff en die Stellenbosse Boys geskied het, en wat die dinge is wat buite die loep val.
Sy is duidelik deeglik bewus van die vlietende aard van nuusberigte, en die feit dat mense vergeet wat hulle deur die jare in koerante gelees het. Haar waardering vir die boek spruit dan ook oor haar respek vir die ordenende vernuf van James-Brent Styan.
Intussen bly die verhouding tussen my en my makelaar gespanne, en wag ek, tesame met James-Brent Styan en die res van Suid-Afrika se seer getroffenes op die verlossende woord wat PWC einde van die jaar gaan spreek. Styan kan hom seker gereed maak, daar is nog boeke te skryf.

Profile photo of crito

by crito

Leesplesier

Julie 18, 2018 in Uncategorized

Dit bly altyd ’n ope vraag hoeveel skrywers afkyk by lewende persone wanneer hulle karakters skep. Meeste sal sê die karakters is die produkte van hul verbeelding – om lastersake te ontduik, sekerlik, maar ook om vriendskappe te behou. Maar ’n mens voel dit in jou gebeente, soms, dat ’n karakter uit die bladsy kan opstaan en sy loop kan neem, terug in die kontrei van die skrywer in.

In Fransi Phillips se nuwe roman, Liefde in die tyd van die internet gaan sy sover as om self as karakter in die verhaal in te beweeg. Francois Bekker verwys daarna in sy resensie vir Boeke24.

Dit is duidelik dat Bekker van hierdie skuif hou. Hy skryf ’n resensie waarin hy die boek se verhaal opsom – ’n besonder irriterende aanslag wanneer ’n resensent niks verder te sê het oor die boek nie. Bekker is duidelik nie van plan om die boek se plesier alles te verklap nie, en gebruik die verhaal as aanknopingspunt vir opmerkings wat bedoel is om mens nuuskierig te maak, en jou aandag te vestig op verdere dimensies in die verhaalstruktuur.

Só sê hy dat die hoofkarakter, Hanna, in Moskou ontvang word deur “niemand anders nie as die bekende skrywer (berug selfs), Fransi Phillips”. Sy vind Phillips aanvanklik hulpvaardig, “maar Hanna moet ligloop omdat dié skrywer haar as ’n karakter in ’n storie wil gebruik.”

Hy voer egter nie dié waarneming verder nie – die implikasie is duidelik, en die resensieleser se taak is nou om boekleser te word as hy die impuls het om sy nuuskierigheid te bevredig.

Bekker lig die dinge uit wat hom die boek “leesplesier uit die boonste rak” laat noem: stout romanse, humor, heerlike absuditeite, ’n teks gestroop van politieke korrektheid. Fransi Phillips gee selfs vir die Clintons hel.

Die vraag wat by mens opkom, is of daar dan geen fout te vind is met die roman nie. Is dit in alle opsigte voortreflik? As jy Francois Bekker se resensie stip lees, sal jy besef dat hy vreeslik baie oorlaat aan die dinge wat reeds by implikasie genoem is. Hy sê om mee te begin dat twee dinge hom opgeval het: Die roman het baie lekker gelees, en Fransi Phillips het baie slim te werk gegaan met die skep van haar teks.

Dit is seker al wat nodig is. As Fransi Phillips ’n tweede Karel Schoeman was, sou Bekker dit genoem het. Hy gee nêrens ’n aanduiding dat Phillips hoge letterkunde skep nie. Hy sê wel dat die boek hom besonder baie plesier verskaf het. Hy probeer nie ’n groter konteks skep met verwysings na ander skrywers van Phillips se era nie. Wat belangrik is, is dat haar nuwe boek slaag om te vermaak en te onderhou.

Profile photo of crito

by crito

Taalvernuf

Julie 11, 2018 in Uncategorized

Dis ’n relatiewe kalm tyd op die boekeblaaie – net een resensie wat werklik uitgestaan het: Jean Meiring s’n oor Steve Hofmeyr se nuwe roman, Die Lucky Strike (Rapport Boeke).

Meiring sê in die loop van die resensie dat die leser van die boek “jou kritiese vermoëns tydelik in die doofpot [moet] plaas”. Sekerlik soos mens gewoonlik met flieks oor superhelde en geheime agente en dinge doen: Die ou suspension of disbelief.

Dis in orde, sekerlik, want Meiring se samevatting van die inhoud is genoeg om mens te laat verstaan dat die roman baie aksie en verrassings het, en dat daar baie spanning opgewek word deur die hoofkarakter se lotgevalle.

Op hierdie vlak bevat die resensie genoeg inligting om dadelik diegene wat na sulke boeke neig te laat verstaan of hulle dit sal wil lees of nie.

Meiring neem egter sy resensie op ’n paar ander vlakke verder. Hy neem kennis van Hofmeyr as openbare figuur, “spreekbuis vir ’n bepaalde tipe Afro-pessimisme”, iets wat bes moontlik baie lesers sal afskrik, net soos dit ander sal aantrek.

Dan neem hy ook Hofmeyr se gebruik van Afrikaans onder die loep, en op grond  hiervan sal die uwe byvoorbeeld die boek wil lees. Dit is wat vir my belangrik is. Sidderende rillers is nie regtig my voorkeur-leesstof nie. Maar die dinge wat Meiring hier ophaal oor die taalvernuf, en reikwydte daarvan – dít is wat my moveer.