Profile photo of crito

by

Heeltemal anders

Junie 26, 2018 in Uncategorized

Valda Jansen se bespreking van Jeremy vannie Elsies in Rapport Boeke ’n verskeie reaksies – van positief tot negatief – by my uitgelok. Dit is lekker om die boekbesprekings so op die internet van dinge oop te rol, en rustig te lees. Maar dit is selde dat een resensie my na sulke uiterstes stuur. Dit is goed, op verskeie plekke, maar laat mens ook ‘n paar keer albei wenkbroue hoog lig.

Vir eers omdat ek met Jeremy Vearey op Facebook bevriend is en van sy optekeninge hou, en dan ook omdat Valda Jansen ’n resensie geskryf het wat so heeltemal anders is.

Anders as wat? Goed, die eerste stuk andersheid is omdat sy afwyk van ’n direkte verkenning van die boek, en wegval met die bekendstelling van die boek by ’n boekwinkel in die Kaap. Sy beskryf die geleentheid en die gehoor, en die reaksie wat dit by hulle ontketen.

Netjies – dit identifiseer die boek se teikenmark, maar spreek ook met ’n omweg tot die nuuskierige  leser, iemand wat nie noodwendig deel is van daardie teikenmark nie. Sy vertel daarna hoe ’n soort mens Vearey is en hoe sy lewe verloop het, en gee só eintlik ’n kort opgaaf van die inhoud.

Tot sover geen kritiese resensie nie. Valda Jansen neem die rol van ’n reklamemaker. Nie werklik wat mens van ’n kritiese resensent verwag nie. Gelukkig swaai sy dan weg van dié benadering, en sê vir haar is dié boek ’n boek oor Afrikaans.

Die taal word nou, sê sy, bevry. Vearey noem dit Afrikaaps. “En of dit jou nou teen die bors stuit of nie,” skryf sy, “dit is ’n opmars. Hierdie skrywers skryf so, want hulle praat so – in ’n taal wat nou kop omhoog sy stem laat geld.”

Sy verwys na ’n taal wat loskom van voorskriftelikheid, met voorbeelde, en dan maak sy ’n verdere wending wat my laat ophou om haar opmerkings te beaam, en vasskop. Die boek is vol taalfoute, en die redigering en proefleeswerk laat veel te wense oor. Wat?! Hoe weet mens dit? Is alles dan nou nie los van die voorskrifte nie, en in Afrikaaps praat mense soos hulle wil, dan nie?

Of is daar nou ’n nuwe stel voorskrifte? Afrikaapse voorskrifte?

Haar opmerking is waardeloos as dit nie met voorbeelde gestaaf word nie.

Gelukkig gee sy dan vir Vearey self kans, en die aanhalings wat sy gebruik, is die Vearey wat op Facebook te lese is – die man wat selfs in sy donkerste dae toe hy deur kollegas die rug toegekeer was, baie leesbaar gebly het. Baie politieke jargon, maar dis hoe mens hom leer ken het. Ek lees alles wat hy op Facebook plaas omdat ek hou van die manier waarop hy met idees omgaan, al stem ek nie altyd met hom saam nie, omdat ek wil weet hoe denkende mense die Kaapse sosiale omgewing verstaan.

Jansen volg dit op met ’n paragraaf wat my ’n ruk laat ophou lees het, net sodat ek daaroor kon nadink: “Terwyl ’n mens met hierdie boek en dié van Trantraal en kie op jou skoot sit, kan jy nie help om te dink dat hierdie publikasies ons ’n blik gee op hoe die Afrikaans van die toekoms gaan lyk nie.”

Dit sou ’n uitstekende manier gewees het om die resensie af te sluit. Die hele struktuur van die resensie is van so ’n aard dat ek (en ek glo meeste lesers daarvan) al op hierdie punt besluit het of hulle die boek self gaan aanskaf of nie.

Jansen voel egter skynbaar genoop om ’n slotformulering te gee waarin sy by implikasie die boek se leespubliek wil bepaal. Daarmee raak sy die pad byster: “Moenie dit lees as jy preuts is oor Afrikaans of pedanties oor taalreëls nie. Lees dit as jy oopkop is. As jy Afrikaans is, maar nooit geweet het presies hóé ’n struggletaal Afrikaans óók was nie. As jy lus is vir ’n lekker storie oor onlekker dinge uit ons verlede. As jy die struggle (die strýd, soos Vearey sê) in Afrikááns geveg het, is hierdie boek vir jóú.”

Die probleem daarmee is dat sy oorgaan van resensent na voorskrywer. Binne ons tydsgewrig, waarin die nodig is dat almal mekaar beter verstaan, sou ek dink dat diegene wat preuts is oor Afrikaans of pedanties oor taalreëls juis Jeremy Vearey se boek moet lees. Diegene wat toekop is, nè?

Dit bly altyd problematies wanneer ’n resensent die mantel van sosiale pedagoog wil dra. Ek aanvaar die goeie bedoeling met ’n opmerking soos “As jy lus het vir ’n lekker storie oor onlekker dinge uit ons verlede.” Maar ek vind dit verskralend en uiteindelik onaanvaarbaar waar sy afsluit met “As jy die struggle … in Afrikaans geveg het, is hierdie boek vir jóú.”

So, dit is nie die boek vir diegene wat nie deel was van die struggle nie? Is dit nie juis hulle wat dit móét lees nie? Boonop het sy mos nou pas gesê mense wat nie geweet Afrikaans was ook ’n struggletaal nie moet dit ook lees. Duck dêrra, sy praat van jou.

Of raak ek nou net so voorskriftelik soos Valda Jansen?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.