Jy blaai in die argief vir 2018 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Heeltemal anders

Junie 26, 2018 in Uncategorized

Valda Jansen se bespreking van Jeremy vannie Elsies in Rapport Boeke ’n verskeie reaksies – van positief tot negatief – by my uitgelok. Dit is lekker om die boekbesprekings so op die internet van dinge oop te rol, en rustig te lees. Maar dit is selde dat een resensie my na sulke uiterstes stuur. Dit is goed, op verskeie plekke, maar laat mens ook ‘n paar keer albei wenkbroue hoog lig.

Vir eers omdat ek met Jeremy Vearey op Facebook bevriend is en van sy optekeninge hou, en dan ook omdat Valda Jansen ’n resensie geskryf het wat so heeltemal anders is.

Anders as wat? Goed, die eerste stuk andersheid is omdat sy afwyk van ’n direkte verkenning van die boek, en wegval met die bekendstelling van die boek by ’n boekwinkel in die Kaap. Sy beskryf die geleentheid en die gehoor, en die reaksie wat dit by hulle ontketen.

Netjies – dit identifiseer die boek se teikenmark, maar spreek ook met ’n omweg tot die nuuskierige  leser, iemand wat nie noodwendig deel is van daardie teikenmark nie. Sy vertel daarna hoe ’n soort mens Vearey is en hoe sy lewe verloop het, en gee só eintlik ’n kort opgaaf van die inhoud.

Tot sover geen kritiese resensie nie. Valda Jansen neem die rol van ’n reklamemaker. Nie werklik wat mens van ’n kritiese resensent verwag nie. Gelukkig swaai sy dan weg van dié benadering, en sê vir haar is dié boek ’n boek oor Afrikaans.

Die taal word nou, sê sy, bevry. Vearey noem dit Afrikaaps. “En of dit jou nou teen die bors stuit of nie,” skryf sy, “dit is ’n opmars. Hierdie skrywers skryf so, want hulle praat so – in ’n taal wat nou kop omhoog sy stem laat geld.”

Sy verwys na ’n taal wat loskom van voorskriftelikheid, met voorbeelde, en dan maak sy ’n verdere wending wat my laat ophou om haar opmerkings te beaam, en vasskop. Die boek is vol taalfoute, en die redigering en proefleeswerk laat veel te wense oor. Wat?! Hoe weet mens dit? Is alles dan nou nie los van die voorskrifte nie, en in Afrikaaps praat mense soos hulle wil, dan nie?

Of is daar nou ’n nuwe stel voorskrifte? Afrikaapse voorskrifte?

Haar opmerking is waardeloos as dit nie met voorbeelde gestaaf word nie.

Gelukkig gee sy dan vir Vearey self kans, en die aanhalings wat sy gebruik, is die Vearey wat op Facebook te lese is – die man wat selfs in sy donkerste dae toe hy deur kollegas die rug toegekeer was, baie leesbaar gebly het. Baie politieke jargon, maar dis hoe mens hom leer ken het. Ek lees alles wat hy op Facebook plaas omdat ek hou van die manier waarop hy met idees omgaan, al stem ek nie altyd met hom saam nie, omdat ek wil weet hoe denkende mense die Kaapse sosiale omgewing verstaan.

Jansen volg dit op met ’n paragraaf wat my ’n ruk laat ophou lees het, net sodat ek daaroor kon nadink: “Terwyl ’n mens met hierdie boek en dié van Trantraal en kie op jou skoot sit, kan jy nie help om te dink dat hierdie publikasies ons ’n blik gee op hoe die Afrikaans van die toekoms gaan lyk nie.”

Dit sou ’n uitstekende manier gewees het om die resensie af te sluit. Die hele struktuur van die resensie is van so ’n aard dat ek (en ek glo meeste lesers daarvan) al op hierdie punt besluit het of hulle die boek self gaan aanskaf of nie.

Jansen voel egter skynbaar genoop om ’n slotformulering te gee waarin sy by implikasie die boek se leespubliek wil bepaal. Daarmee raak sy die pad byster: “Moenie dit lees as jy preuts is oor Afrikaans of pedanties oor taalreëls nie. Lees dit as jy oopkop is. As jy Afrikaans is, maar nooit geweet het presies hóé ’n struggletaal Afrikaans óók was nie. As jy lus is vir ’n lekker storie oor onlekker dinge uit ons verlede. As jy die struggle (die strýd, soos Vearey sê) in Afrikááns geveg het, is hierdie boek vir jóú.”

Die probleem daarmee is dat sy oorgaan van resensent na voorskrywer. Binne ons tydsgewrig, waarin die nodig is dat almal mekaar beter verstaan, sou ek dink dat diegene wat preuts is oor Afrikaans of pedanties oor taalreëls juis Jeremy Vearey se boek moet lees. Diegene wat toekop is, nè?

Dit bly altyd problematies wanneer ’n resensent die mantel van sosiale pedagoog wil dra. Ek aanvaar die goeie bedoeling met ’n opmerking soos “As jy lus het vir ’n lekker storie oor onlekker dinge uit ons verlede.” Maar ek vind dit verskralend en uiteindelik onaanvaarbaar waar sy afsluit met “As jy die struggle … in Afrikaans geveg het, is hierdie boek vir jóú.”

So, dit is nie die boek vir diegene wat nie deel was van die struggle nie? Is dit nie juis hulle wat dit móét lees nie? Boonop het sy mos nou pas gesê mense wat nie geweet Afrikaans was ook ’n struggletaal nie moet dit ook lees. Duck dêrra, sy praat van jou.

Of raak ek nou net so voorskriftelik soos Valda Jansen?

Profile photo of crito

by crito

Resensie as afskeid

Junie 19, 2018 in Uncategorized

Met die afsterwe van Cecile Cilliiers het LitNet op hul resensieblad ’n baie interessante ding gedoen – Martie Retief-Meiring se resensie van Cilliers se laaste publikasie weer na vore gebring.

Dié bespreking van Die ou vrou en die priester lees mens nou met ander oë. Jy weet dat dit die laaste keer was wat Cilliers, ’n boekeliefhebber van faam, met boeklesers praat.

Retief-Meiring verwys na die toonaard van die versameling verhale deur ’n 84-jarige outeur – “ontredderd, verslae en aangrypend”. Sy tipeer die tematiese reikwydte as dié van “verweer, verdriet, verslaenheid – kenmerke van die ouderdom”.

En só, met die herlees van die resensie, val die kritiek wat Retief-Meiring aanbied, vir jou weg, maak dit nie meer saak nie, en sien jy net die slotoordeel raak, amper ’n beskrywing van die einde self: “Pers, sag, versluierd, onverwags”.

Mens kan nog meer put uit die resensie, maar ek laat dit aan julle oor.

Profile photo of crito

by crito

Woorde wek

Junie 12, 2018 in Uncategorized

Laat ons waak teen die inflasie van woordgebruik. Sekere woorde moet nie in oormaat gebruik word nie, sodat hulle nie banaal word en hul uniekheidswaarde verloor nie.

Wanneer Jonathan Amid van Chanette Paul se navorsing oor Vreemde Vlieënde Voorwerpe sê dat dit skitterend by die weefsel van haar roman Uit die bloute se teks geïntegreer is (resensie in Boek24), is dit sulke tyd. Ek vermoed Amid self sal ligweg bloos oor die opmerking, wat die klimaks vorm van ’n lang aanlopende argument. Amid is só oorweldig deur hierdie feit dat hy terstond sy resensie tot einde bring met ’n opmerking oor ’n fliek waarmee Paul se roman syns insiens raakpunte het.

Hoe skitterend kan skitterend dan wees? Wanneer is dit minder skitterend, sodat dit afbeweeg in die indeks van lofbetuigings? Wanneer is skitterend wel briljant, of net effens minder glinsterend in uitnemendheid?

VVVs is nie iets wat mens hoegenaamd met ’n eksakte wetenskap in verband kan bring nie. Dit word gewoonlik geassosieer met pseudo-wetenskap en ligweg getikte mense en moontlike psigotiese episodes. Ek is seker Chanette Paul het baie daaroor gaan oplees, en al die regte flieks gekyk. Wat is die weefsel van fabulasie en hoe meet jy die vermenging daarvan met vertelkuns? Sien wat ek bedoel?

Miskien moes Amid liewer gesê het die navorsing is deeglik benut.

Pas die vorige dag het ek Herman Lategan se bespreking van Ingrid Jonker: ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp in Rapport Boeke gelees, en moes verneem dat dit ’n “meesterlike ‘laaste woord’ oor Ingrid” is.

Die resensie is net so ’n rara avis as die opskrif. Ek geniet Lategan tog erg baie, selfs wanneer sy skryfwerk ’n bietjie die pas markeer. Die man het meer lewe in sy formulering as meeste ander resensente. Sy taalregister is welig wanneer hy op iets neersien, maar wanneer sy bewondering oorgedra moet word, soos hier, sukkel hy. Hy verkies om ná agtergrondinligting oor die ontstaan van dié biografie ‘n soort voëlvlug te gee oor Ingrid Jonker se lewe, en dus die chronologiese lyn van die biografie.

Uiteindelik sluit hy af met ‘n aanduiding van die gewaarwordinge wat die biografie by hom gewek  het: “Dit is sekerlik van die mooiste en skrikwekkendste hoofstukke wat tot nog toe geskryf is oor een van die tragiesste figure in ons letterkunde.”

Maar nou sit die leser met ‘n probleem. Die opskrif sê die boek onder bespreking is die meesterlike finale woord oor Ingrid Jonker. In die inleidende paragraaf word ‘n mening aan Lategan toegeskryf, naamlik dat Petrovna Metelerkamp se biografie van Jonker meesterlik is en nie veronagsaam mag word nie. Die langtand sinici, word geïmpliseer, sal ’n fout maak as hierdie boek as oorbodig beskou word.

Wat ‘n mens dan verwag, is dat Lategan sal motiveer hoekom die biografie meesterlik is. Wat regverdig daardie loftuitende kwalifikasie? Het hy dit vergelyk met ander biografië oor Afrikaanse literêre figure? Het hy Metelerkamp se vernuf as biograaf gemeet aan dié van byvoorbeeld J.C. Kannemeyer of Jaap Steyn?

As ’n biografie beskryf word as meesterlik, slaan dit nie alleen op die inhoud nie, maar veral op die biograaf. Dit gaan oor Metelerkamp as biograaf, nes mens die biografië oor Leipoldt, Jan Rabie, Etienne Leroux en D.J. Opperman takseer in terme van Kannemeyer as biograaf.

Toe ek die opskrif van die resensie sien, het my hart begin bons. Uiteindelik is daar ‘n boek, het ek in my haas aangeneem, wat as verwysingspunt gebruik kan word om aan te toon dat Kannemeyer oorskat is as biograaf. Maar nee, die meesterlik maak net in die opskrif en die inleidende lokparagraaf ‘n verskyning.

Dit is werklik jammer dat die opskrif verkeerde verwagtinge skep. Lategan se bespreking lees heerlik en het my end-uit geboei. Hy het dinge in die boek raakgesien wat mens dadelik laat besluit dat jy die publikasie wil verslind. Miskien spoor die vars insigte hom selfs aan om ‘n artikel of rubriek af te staan aan die onderwerp van D.J. Opperman se oor- en onderskatting van vroulike digters. Dalk selfs oor Ingrid Jonker se oorskatte oeuvre. Of Kannemeyer as biograaf…

Ek glo graag dat Metelerkamp ‘n meesterlike biografie geskryf het. Dis net jammer dat in hierdie geval daar nie gesê is hoekom nie. Vir my gevoel verdien Metelerkamp hulde vir die manier waarop sy in die verlede Ingrid Jonker bevry het van die eng beeld wat daar van haar voorgehou is deur die jare, hoofsaaklik as André Brink se minnares en tragiese figuur. Lategan se resensie gee, Vader sy gedank, ‘n goeie beeld van die nuwe terrein wat sy oopskryf, en die feit dat sy ’n tragiese figuur genoem kan word nie alleen oor haar dood nie, maar oor alles wat in die lewelange aanloop daartoe dit noodwendig gemaak het.

Wat verwag mens van ‘n goeie biograaf, en wanneer is ‘n biografie meesterlik? Vir iemand soos Lategan, wat ingebed is in Kaapse joernalistieke kringe, sou dit maklik gewees het om die belemmerings en frustrasies waarmee Metelerkamp te make gehad het, te identifiseer en dan aan te dui hoe sy dit hanteer het. Hy gee wel inligting oor nuwe bronne, maar sê niks van Anna Jonker of die materiaal wat nou deel is van Gerrit Komrij se boedel nie. Ook nie of Metelerkamp toegang gehad het tot André Brink se dagboeke nie. Dít is die soort inligting wat nodig is om te weet as mens wil praat van “laaste woord” en “meesterlik”.

Die resensie van die week was egter Bill Nasson se skrywe in Rapport Boeke oor Verwoerd aan die woord II: Die laaste vier jaar – Toesprake 1963-1966.

Nasson vra baie ondubbelsinnig die vraag wat in hierdie jaar, 2018, oor só ’n publikasie gevra móét word: Hoekom?

Hy sê: “Aangesien dit ’n volkome eerbiedige, bewonderende boekstawing is, sal die boek waarskynlik geïgnoreer word deur almal wat Verwoerd en sy rasse-ideologie as ’n ander weergawe van Hitler en Nazisme beskou. In sulke kringe sal die publikasie van die boek in die jaar 2018 nie net vreemd opval nie, maar waarskynlik as ’n aanstootlike anachronisme beskou word.”

Maar, soos mens ook kan verwag in 2018, is daar ’n ander sy ook: “Terselfdertyd sal enige oorblywende Afrikanernasionalistiese dinosourusse wat Verwoerd in sy volle glorie geniet, hier veel vind om te waardeer. Dit is g’n verrassing nie dat die enigste illustrasie in die boek ’n klein foto’tjie is van die eerste minister waar hy ’n koppie tee geniet – die toonbeeld van wat sy aanhangers van hom sou verwag: ’n gewone, kalm, diepsinnige figuur.”

’n Mens het simpatie met Nasson, wat deur hierdie “baksteen van ’n boek” moes werk. Veral omdat die toesprake so swaartillend politiek gerig is. Ek wil sekerlik nie self deur daardie toesprake “waad” nie; Nasson se waarnemings daaroor is vir my genoeg. Hy skets Verwoerd as ’n intellektueel met min of geen humorsin, iemand wat net deur een ding beïndruk was, en dit was sy eie meerderwaardigheid.

Geen wonder dan dat die boek nie inhoudelik opgehemel kan word nie: “Die boek sal … vir die meeste lesers te onverteerbaar wees om van die begin tot die einde deur te lees.”

Nasson se resensie is self aan die lywige kant, maar dit is die moeite werd om jou daarin te verdiep. Dit was met ’n vreemde soort skok wat mens die ou apartheidsterminologie weer lees. En dit is net in die resensie! Ek kan my goed indink watse beklemming die toesprake self by ’n eietydse historikus soos Bill Nasson moet wek.

Goed, hy vind dinge in die toesprake wat hy as vakkundige kan uitlig as interessant, hoewel dit allermins vermaaklike leesstof is.

Uiteindelik, heel gepas myns insiens, sonder hy die uitgewer, Protea Boekhuis, uit vir lof: “dié uitgewer lewer ’n wesenlike bydrae om Suid-Afrikaners deur middel van die gedrukte woord in die mees nougesette Victoriaanse tradisie op te voed.”

Dit is belangrik om dit te noem. Terwyl ons ’n nuwe era nader waarin geskiedenis op skoolvlak ’n verpligte vak in sekere grade gaan word, dink ’n mens terug aan die soort geskiedskrywing en siening van die geskiedenis wat einste Hendrik Frensch Verwoerd en opvolgers in die jare vyftig tot tagtig aan skoliere voorgehou het.

Die herskrywing van die geskiedenis is al lank aan die gang, en sal post-Zuma sekerlik nog verdere verstellings ondergaan. En dan is dit noodsaaklik dat boeke soos hierdie bestaan, vir die volledige beeld.

Klip in die bos: Word soortgelyke publikasies oor Vorster, Botha en De Klerk oorweeg? Gooi sommer A.P. Treurnicht circa 1975 ook by. Vir die geheelbeeld, of, soos hulle destyds in Bog met Blou Maandag gesê het: die “gemors van ’n gemors”?

Profile photo of crito

by crito

Regstelling

Junie 12, 2018 in Uncategorized

Een van Crito se lotgenote en ou bewonderaars laat weet dat ek die pot verlede week lelik misgesit het, en dat ek sowel Maya Fowler en Fourie Botha ’n verskoning skuld.

En Maya Fowler het self op die blog gereageer, wat dit bevestig het.

Me. Fowler is nie ’n Engelse skrywer, soos ek geskryf het nie. Sy het Patagonië in Afrikaans geskryf en self in Engels vertaal. Me. Fowler is Afrikaans en het in Graaff-Reinet grootgeword. Sy het haar roman Detour self in Afrikaans vertaal.

Ek het, na aanleiding van inligting op NB-Uitgewers se webwerf, die afleiding gemaak dat Me. Fowler Engels is omdat haar eerste gepubliseerde werke in Engels was. Dis ’n verstaanbare afleiding, maar duidelik ongeldig.

Ek vra dus vir me. Fowler en haar uitgewer, Fourie Botha, opreg om verskoning vir my mistasting.

Wat dan van Marita van der Vyver, wat ek aangespreek het vir haar opmerking dat Maya Fowler ’n vars nuwe Afrikaanse stem is? Wel, sekerlik skuld ek haar ook ’n groot en duidelike verskoning.

Wat ek hiermee maak, eier stromend van my gesig.

Profile photo of crito

by crito

Vertalings

Junie 5, 2018 in Uncategorized

In ’n skraal week vir die lesers van Afrikaanse resensies, is dit miskien die moeite werd om ’n slag oor iets te skryf wat ek gewoonlik vermy: Afrikaanse vertalings van Engelse boeke. Nie omdat ek regtig wil nie, maar omdat dit soms gebeur dat ’n mens ’n rooi pen wil neem en begin korrigeer.

Vandeesweek plaas Boeke24 ’n resensie deur Francois Bekker van Maya Fowler se Patagonië. Op Netwerk24 se webwerf is daar ’n mooi foto van die omslag, met ’n wysheid deur Marita van der Vyver om die boek se ontvangs by die leespubliek te help vergemaklik: “’n Nuwe Afrikaanse stem, oorspronklik en selfversekerd, iets om oor opgewonde te word.”

Maya Fowler is ’n Engelse skrywer wat in 2009 met The Elephant in the Room gedebuteer het. Haar roman Detour is in Afrikaans vertaal en as As jy ’n ster sien verskiet gepubliseer. Jammer, me. Van der Vyver. Maya Fowler is nie ’n nuwe Afrikaanse stem nie.

Francois Bekker se resensie van Patagonië kom en gaan sonder dat hy dit vermeld dat die roman ’n Afrikaanse vertaling is van Fowler se roman Patagonia.

Dit is ’n baie neutraal-geskrewe resensie. Bekker dui aan waaroor dit handel, en besluit uiteindelik dat dit ’n ambisieuse roman van epiese omvang is. Hy weerhou hom daarvan om te sê of die ambisies verwesenlik is of nie.

Hy vind sekere van die karakters se gewaarwordinge ontroerend, maar sê nie of die verhaal self hom ontroer het nie. Hy reageer op die tematiek, en trek die lyne deur na die self. Mens weet nie of die karakters se handel en wandel hom verby verveling (“’n mens voel soms vasgevang in die sleur van die karakters se omswerwinge”) laat beweeg het nie.

Sulke soort resensies laat my uiters ongemaklik voel. Die resensent deins weg van die toeswaai van lof en dwing sy leser om tussen die lyne te moet lees. Jy soek na aanduidings van leesbevrediging en vind dit nie. Maar hy verdoem nie die roman nie – ’n goeie teken, sekerlik, maar hoe moet die arme skrywer nie voel nie? Louwarm is nie lekker nie.

Die resensie laat my terugdink aan opmerkings wat Crito in die begindae van hierdie rubriek gemaak het oor resensies en die noodsaak van Afrikaanse koerante en tydskrifte om oorspronklike Afrikaanse werke te resenseer. Sekerlik sal die redakteur van Boeke24 redes kan aanvoer vir die publikasie van resensies van vertaalde boeke, maar wat my betref is daar net een wat sal oortuig, en dit is in gevalle waar die vertaling briljant is.

Nou, Francois Bekker noem nie eens dat Patagonië ’n vertaling is nie, laat staan nog hom uitlaat oor die gehalte daarvan.

En wat van Engelse vertalings van Afrikaanse werke? Hoekom nie die Engelse vertalings van Karin Brynard, Deon Meyer, Marita van der Vyver en so meer se Afrikaanse boeke resenseer nie? Die uitgewers sal baie bly wees daaroor, maar tot dusver het die redakteurs van Afrikaanse boekeblaaie (dié wat nog bestaan!) hulle daarvan weerhou.