Profile photo of crito

by

“Sharknado” vir Afrikaanse harte

Mei 15, 2018 in Uncategorized

Doodkry is min. Jamie Uys sê ook só. Saal D was nie my laaste staning nie. Maar nou is my geduld ook effe minder met oninteressante resensies. Al daai reëls wat Crito merk 1 gemaak het, kry nou nog een by. Ek gaan nie tyd mors met sulke resensies nie. So daar.

Vandeesweek is daar net een wat my dit laat herlees het. Nie omdat dit so goed is nie. O nee. JB Roux het my voorgangers al die hel in gemaak, sommige van hulle het hom gewoon geïgnoreer. Sy nuutste poging, oor Susan Coetzer se Selma en Louise vir Boeke24, is ’n pragtige voorbeeld van hoe ’n resensent sy skrywe kan vul met Quatsch.

As ’n skrywer aansluit by ’n rolprent soos Thelma and Louise, en die resensent is skerp genoeg om die verband te trek, dan verwag ’n mens dat die resensent, gewoon uit hoflikheid teenoor die skrywer én leser, nie net sal gaan kyk hoe lyk die ooreenkomste nie, maar ook hoeveel die aansluiter van die aangeslotene verskil. En dit deeglik doen. Uitvoerig.

Enigiemand kan die boek se storie saamvat. Maar ’n knap resensent sal kan uitpluis, en in detail sê, wat die bydrae van dié aansluiting tot die Afrikaanse leeskultuur is. Thelma and Louise was, soos hulle deesdae so baie op KylNet se kanale sê, ikonies. Wat is Selma en Louise? Is dit ’n parodie, of pastiche – en is dit net so snaaks? En uiteindelik ontredderend? Mens hoef nie die slot te verklap nie, jy kan net skryf oor die implikasie van die slot.

Dit is ook, wat my betref, ’n bedenklike procédé om dit te bestempel as “chick-lit” en dan te sê dit hou nie lekker kers vas by skrywers soos Sophia Kapp en Kristel Loots nie – maar glad  nie te sê hoekom dit die geval is nie. Verf dit met die teerkwas en gaan voort met die lekker lewe.

En dan kom die groot knal: Selma en Louise is ’n “geslaagde en aangename leeservaring wat Coetzer se reputasie as skrywer gestand doen”.

Wat? Coetzer het ’n reputasie as skrywer? Alles wat ou JB tot dusver gesê het, dui dan daarop dat sy ’n goeie naam as skrywer het. Net swak skrywers het reputasies.

Miskien kon ’n skrander subredakteur Roux se bas gered het. Maar dit lyk nie asof daar een doenig was met die publikasie van hierdie resensie nie. Wie op Gods aarde het besluit “ ‘Eat, Pray, Love’ vir Afrikaanse harte” is ’n geskikte opskrif vir Roux se resensie? Het daardie persoon die resensie gelees en toe sy eerste en beste breinskommeling as opskrif gebruik?

Dit lyk so.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.