Jy blaai in die argief vir 2018 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Halwe en heel Kruger

Mei 29, 2018 in Uncategorized

Mens het nie duisende woorde nodig om ’n baie goeie resensie te skryf nie. Die resensent se oordeel kan bondig saamgevat word, en dan is ’n paar honderd woorde genoeg. Fransjohan Pretorius resenseer Skermutselings en skandale (van Heiniie Heydenrych) in 285 woorde (met inbegrip van die inligting oor die boek bo-aan) vir Boeke24.

As mens jou probeer indink in die problematiek waarmee Pretorius te make gehad het voordat hy begin skryf het, is sy keuse van struktuur vir die resensie die sleutel tot die gehalte van die produk wat hy uiteindelik lewer.

Pretorius het gedink dis ’n boek met beperkinge – ernstige beperkinge. Dit gee net een sy van ’n saak. Daarmee is uiteraard nie alles verkeerd nie, maar dit kom uiteindelik op dieselfde neer op dieselfde as wanneer mens ’n boek oor Beethoven skryf en niks sê oor die musiek nie.

Hy besluit dan op die volgende aanpak: Noem eers die vorige boeke waarin dieselfde onderwerp al aangeraak is, sê dan wat in die boek voor hande die alleraanbod is, verduidelik dan hoekom dit ’n publikasie met skrale waarde is, en gee ’n vooruitsig op ’n publikasie waarin al die inligting tot reg sal kom.

Wat het Pretorius sy besluit laat neem? Sekerlik die versugting dat geskiedskrywing ewewigtig en so volledig as moontlik moet wees. Dan ook die strewe om geregtigheid te laat geskied aan historiese figure.

Die tydsgewrig waarin Pretorius sy resensie skryf, is een waarin naarstigtelik gesoek word na korrektiewe op ongeregtighede van die verlede. Dit is ’n edele strewe, maar dit kan ook lei tot ’n situasie waarin eietydse maatstawwe toegepas word op ’n konteks waarin daardie maatstawwe onbekend was. Ons weet nou hoe verkeerd Paul Kruger se optrede was, maar wat was die menings van mense in die 360 grade rondom Kruger?

Ek glo nie dat Heinie Heydenrych se siening onsinnig is nie. Fransjohan Pretorius wys net dat dit nodig is om die totaliteit van reaksies op Kruger in ag te neem.

Die krediet wat Pretorius vir Heyndenrych laat toekom, is spesifiek: Dit openbaar die skadusy van Kruger se presidentskap. Hy gee ook krediet aan die pers van destyds as bronne vir Heyndenrych se onthullings.

Ingebed in die resensie is dan ook, vir die wakker leser, enersyds seine oor die vryheid van ons pers, en andersyds ’n implisiete teregwysing oor die publikasie van historiese publikasies waarin die analise nie volledig deurgetrek is in alle rigtings nie.

Profile photo of crito

by crito

Prysenswaardig

Mei 22, 2018 in Uncategorized

Die versoeking was sekerlik groot om te sê dat Die dao van Daan van der Walt net Doppers en filistyne in ’n vreemde gewaad is, maar Willie Burger se oog is meer suiwer as dít. Hy begin wel sy resensie van Lodewyk G. du Plessis (pseud.) se roman (Boeke24) met die flouste moontlike inleiding, maar daarna ontplooi hy ’n baie sterk taksering van die roman wat Afrikaanse lesers aan die gons het.

Die inleiding: Een of ander annonieme vriend se aksioom (dat hy binne die eerste 20 blaaie weet of ’n boek die moeite werd gaan wees) is darem net nie goed genoeg vir die lading diepgang wat Burger daarna vir die leser uitsprei nie. Dis soos om die Mona Lisa te bespreek en te begin deur te sê die muur daaragter laat die raam mooi vertoon.

Omdat Burger hom boonop nie aan die aksioom steur nie, hoekom dit hoegenaamd noem? Pap inleidings maak mens kriewelrig. Kyk maar hierbo.

Wat Burger daarna doen, is besonder knap gedoen. Op ’n manier hanteer hy dit soos ’n geleidelike leesverslag – die irritasie wat mens in die begin het, en dan die manier waarop die leser  stelselmatig onder die betowering van die roman kom.

Dit is uiteraard die toets van ’n goeie resensent – hoe hanteer hy/sy ’n roman wat buite alle gevestigde patrone val?

Burger se reaksie is, heel verstaanbaar, dié van ’n deurwinterde literator. Hy soek eers die raakpunte, die verwysingspunte met bestaande romanvorms, en vind dit in die werke waarin die plaas die agtergrond is.

Daarna dring Burger al hoe dieper in die wese van die roman in. Hy lê uit hoe Die dao van Daan van der Walt die verskuiwende visie van Daan verwoord, hoe hy die beklemmende elemente van ’n sekere soort Afrikanerskap (dié wat geanker is in tradisionele godsdiens) van hom afskud wanneer sy eie vaste patroon versteur word.

Burger noem al die verskillende fassette van die ontdoppering van Daan op, en hoe dit te bespeur is in die grein van die werk. Maar hy doen ook vir my iets vrek interessants – as jy hierdie resensie gelees het, sal jy kan volg wanneer mense oor die boek praat. Maar jy sal eers kan saampraat sodra jy die boek gelees het.

Dit is die ou storie van resensies lees van boeke wat mens reeds gelees het. Dit gaan nie vir my daaroor om te sien hoeveel ek met die resensent saamstem of van hom verskil nie. Dit gaan eerder oor die manier waarop hy dinge uitlig wat ek in die lees geabsorbeer het, maar nie werklik gesnap het in die groter konteks nie.

Om hierdie rede is Willie Burger se resensie vir my prysenswaardig. Dit openbaar soveel meer van die werk as wat ’n eerste lees daarvan self gedoen het, maar dit verklap nie die detail nie. ’n Resensie wat jou laat uitsien na die herlees is iets besonders.

Terwyl die identiteit van Lodewyk G. du Plessis nog sub rosa is, is dit ook heerlik om die resensie te lees, wagtend op enige opmerking of verheldering rondom die identiteit van Lodewyk G. du Plessis. Burger hou sy vermelding daarvan tot heel laaste, en dan is dit ook op ’n vlak waar sy opmerking terugbuig in die analise van die werk.

Profile photo of crito

by crito

“Sharknado” vir Afrikaanse harte

Mei 15, 2018 in Uncategorized

Doodkry is min. Jamie Uys sê ook só. Saal D was nie my laaste staning nie. Maar nou is my geduld ook effe minder met oninteressante resensies. Al daai reëls wat Crito merk 1 gemaak het, kry nou nog een by. Ek gaan nie tyd mors met sulke resensies nie. So daar.

Vandeesweek is daar net een wat my dit laat herlees het. Nie omdat dit so goed is nie. O nee. JB Roux het my voorgangers al die hel in gemaak, sommige van hulle het hom gewoon geïgnoreer. Sy nuutste poging, oor Susan Coetzer se Selma en Louise vir Boeke24, is ’n pragtige voorbeeld van hoe ’n resensent sy skrywe kan vul met Quatsch.

As ’n skrywer aansluit by ’n rolprent soos Thelma and Louise, en die resensent is skerp genoeg om die verband te trek, dan verwag ’n mens dat die resensent, gewoon uit hoflikheid teenoor die skrywer én leser, nie net sal gaan kyk hoe lyk die ooreenkomste nie, maar ook hoeveel die aansluiter van die aangeslotene verskil. En dit deeglik doen. Uitvoerig.

Enigiemand kan die boek se storie saamvat. Maar ’n knap resensent sal kan uitpluis, en in detail sê, wat die bydrae van dié aansluiting tot die Afrikaanse leeskultuur is. Thelma and Louise was, soos hulle deesdae so baie op KylNet se kanale sê, ikonies. Wat is Selma en Louise? Is dit ’n parodie, of pastiche – en is dit net so snaaks? En uiteindelik ontredderend? Mens hoef nie die slot te verklap nie, jy kan net skryf oor die implikasie van die slot.

Dit is ook, wat my betref, ’n bedenklike procédé om dit te bestempel as “chick-lit” en dan te sê dit hou nie lekker kers vas by skrywers soos Sophia Kapp en Kristel Loots nie – maar glad  nie te sê hoekom dit die geval is nie. Verf dit met die teerkwas en gaan voort met die lekker lewe.

En dan kom die groot knal: Selma en Louise is ’n “geslaagde en aangename leeservaring wat Coetzer se reputasie as skrywer gestand doen”.

Wat? Coetzer het ’n reputasie as skrywer? Alles wat ou JB tot dusver gesê het, dui dan daarop dat sy ’n goeie naam as skrywer het. Net swak skrywers het reputasies.

Miskien kon ’n skrander subredakteur Roux se bas gered het. Maar dit lyk nie asof daar een doenig was met die publikasie van hierdie resensie nie. Wie op Gods aarde het besluit “ ‘Eat, Pray, Love’ vir Afrikaanse harte” is ’n geskikte opskrif vir Roux se resensie? Het daardie persoon die resensie gelees en toe sy eerste en beste breinskommeling as opskrif gebruik?

Dit lyk so.