Jy blaai in die argief vir 2018 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Tweevuis

Maart 6, 2018 in Uncategorized

Kyk, mens kry goeie resensies en jy kry slegte resensies. Dan is daar ook positiewe resensies wat sleg geskryf is, en negatiewe resensies wat goed geskryf is. Nes daar, uiteraard, positiewe resensies is wat goed geskryf is, en negatiewe resensies wat vrot geskryf is.

Jean Meiring het pas twee daarvan geskryf: ’n positiewe resensie wat goed geskryf is (oor Riana Scheepers se Stormkind (Rapport Boeke), en ’n negatiewe resensie wat goed geskryf is (oor Irna van Zyl se Gifbeker in Boeke24).

Uit eersgenoemde straal ’n gloed van geesdrif, uit laasgenoemde nie. Albei is aangepak met dieselfde sekerheid van argumentasie en noukeurigheid van analise. In Scheepers se werk spreek die skepping van ’n verbeeldingswêreld tot hom; by Van Zyl word sy verbeelding nie geprikkel deur die opset van die speurverhaal nie.

Vir die noukeurige leser is die fleurigheid van Meiring se taalgebruik in sy reaksie op die Scheepers-roman opvallend. Ek beny hom daardie stilte wat oor die plaas neersif, en baie van die ander dinge waarby hy aanklank gevind het, en dan vir die resensie-leser deurgee via sy taalgebruik en formulering. En wanneer hy baie beïndruk is, gee hy groot aan: “meesterlike openingstoneel waar Scheepers haar kragte sinfonies inspan”, byvoorbeeld.

Vir die Van Zyl-roman kan hy hom nie aansluit by kleure en so meer nie. Hy moet hom wend tot ’n opsomming van die roman, die enigste rede hoekom ek soms gevoel het die resensie grens aan ’n vrot resensie. Hy toon ’n gevoeligheid vir die ratwerk van die speurroman, maar ek wonder of dit ’n geldige uitgangspunt van hom is om te verwag dat alle karakters in volheid geteken moet wees.

Om die aftel van die verhaal nog opvallender te maak, sluit dit in ’n slordige lesing van een van die verhaalelemente: Meiring sê dat Van Zyl die voorlaaste datum (Woensdag, volgens sy resensie) so te sê ten volle verswyg. Dit is nie waar nie. Ek het die boek gisteroggend by Amazon gekoop, en Woensdag is daar, in volle glorie.

Het hy té vinnig gelees? Ek glo nie so nie. Die resensie is daarvoor té deeglik. Die dinge wat Meiring teen die roman inbring, is boonop van só ’n aard dat die skrywer dit goed sal kan benut met haar volgende boek.

En dan is ek hom dankbaar vir ’n woord wat ek nog nie vantevore gehoor het nie, maar waaroor ek mal is: lokbokkems (vir red herrings).

Maar om terug te keer tot Meiring se bespreking van Scheepers se boek. Hy praat op ’n plek van die narratiewe karosvelle wat ruwerig aaneengewerk is – die volksverhale van die Boesman-mense wat deur Scheepers aangesny en vervleg word. Meiring voeg by dat sy dit met sinsitiwiteit doen, en dat die blote gebruik daarvan (as ek een van sy min vae sinne reg verstaan) dit blootlê aan besinning.

“Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.”

Ek meen ’n mens kan van ’n Afrikaanse resensent verwag om bewus te wees van die beskuldigings wat Stephen Watson omrent ’n dekade gelede teen Antjie Krog gemaak oor Die sterre sê Tsau. Dieselfde argumente sal dan sekerlik teen Stormkind gemaak kan word. Maak nie saak of ’n mens dink (soos ek) dat Watson ’n paar van sy varkies kwyt was met sy beskuldigings teen Krog nie, dit is die groter saak van toeëiening wat aangespreek moet word.

In hierdie geval dink ek moes Meiring meer tyd daarvan afgestaan het, en van ’n goeie resensie ’n skitterende ene gemaak het. As die resensent die problematiek identifiseer, moet hy nie op die draad bly sit nie.

Profile photo of crito

by crito

Skraal

Maart 1, 2018 in Uncategorized

Skraal oes van resensies oor nuwe Afrikaanse boeke by Boeke24, nè? Net twee wat ek wil noem.

Joan Hambidge s’n oor Cecile Cilliers se kortverhaalbundel, Die ou vrou en die priester. Soveel respek vir dié debuut, so in die herfsjare. Respek vir Cilliers se doen en late deur die jare. Respek vir die verhale, en lof.

Mooiskoot.

Dan Riette Rust se bespreking van Schalk Schoombie se Tot die dood ons skei. ‘n Boek oor mans wat hul vroue vermoor. Ek hou gewoonlik van Rust se aanpak. Nie hierdie keer nie. Sy het soms die manier om dawerende uitsprake te maak. Van die soort waaroor sy aanstaande jaar sal bloos.

Hierdie keer is daar heelparty. Luister: “Maar hoe kán mans só lank ná die begin van die vroueregtebeweging steeds hul vroue mishandel en vermoor?”

Is daar enigiemand op Gods aarde wat regtig dink dat die blote feit dat ‘n vroueregtebeweging begin het, sal veroorsaak dat mans ophou om hul vroue te mishandel en vermoor?

Rust verklaar ook dat omdat die werk niefiksie is, die hoofstukke dieselfde formaat moet hê. Ek sukkel ‘n bietjie om my kop om daai ene te kry. Dit sou seker gehelp het as sy verduidelik het wat sy eintlik bedoel.

En wat is ‘n “tussenkop” nou eintlik? ‘n Subopskrif, soos die konteks my laat aflei?

Nie mooiskoot nie.