Jy blaai in die argief vir 2018 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Onderweg

Februarie 13, 2018 in Uncategorized

In die week waarin president Zuma aangesê is om die speelveld te verlaat, seur dit in die Afrikaanse boekeblaaie steeds oor die kerk, geloof en seksuele oriëntasie. Jij in jouw klein hoekie, en ik in mijn.

Drie resensies neem deel aan hierdie “gesprek”. In Rapport skryf Jean Oosthuizen oor André Bartlett se Weerlose weerstand: Die gaydebat in die NG Kerk. Die symste André Bartlett resenseer in Boeke24 André Pretorius se Geloof alleen, ’n boek waarin ’n reis die aanknopingspunt word vir ’n besinning oor die Hervorming. En ten derde skryf Riette Rust oor Rian van Heerden se 16 Dinge wat ek nié moes sê nie.

Godsdiens is ’n onderwerp waaroor mense versigtig skryf. Tussen die fundamentalistiese trolle en die bliksemstrale moet mens fyn voetwerk doen.

Weerlose weerstand tree die NG Kerk aan vir hul kleinsiellige verwerping van gays. Dit beskryf vroomheid en verraad, met die hoogste gestoeltes van die moderamen as vertrekpunt.

Oosthuizen se beskrywing en taksering van die inhoud laat my vermoed dat baie Gatjieponners ná die lees van die boek nooit weer lawement nodig sal hê nie. Soos die mense op Facebook sê, Bartlett names and shames.

Oosthuizen is die boek goedgesind, as ek so ’n broederlike term mag gebruik. Hy neem die boek in fynste besonderhede onder die oog, en met die gesag van iemand wat self al ’n slag deur die kerk se mankolieke meul is. Sy simpatie en bewondering lê by André Bartlett, en die resensie is só aangebied dat ’n mens wonder of daar ooit ’n teenoorgestelde siening van die problematiek kan wees – en dan besef jy dat dit juis die huigelagtige ander siening is wat die moleste veroorsaak het.

Op sy beurt het Bartlett ’n makliker opdrag: André Pretorius se Geloof alleen het ’n baie diep indruk op hom gemaak, en Bartlett sonder dit om dié rede uit. In baie opsigte is dit ’n veilige resensie om te skryf. Die Hervorming is ’n gedane saak. Bartlett se enumerasie van die trefpunte in die boek is gemaklik en respekvol hanteer.

Nadat jy hierdie resensie gelees het, dwaal jou gedagtes terug na Jean Oosthuizen se resensie, en jy besef dat Bartlett se eie boek ook gaan oor kerklike dogmatiese hervorming, en hoe dit in die NG kerk se geval in die gay-opsig misluk het. Dit klink vir my dit sal nie ’n slegte idee wees om die twee boeke ná mekaar te lees nie.

Rian van Heerden is ’n “celebrity”. ’n Radio-omroeper wat dikwels op omstrede manier in die openbare oog was. Deel  van sy lewensbeskoulike probleme het gewentel om sy gay-wees. Dit het ons verlede week al geleer toe ’n uittreksel uit 16 Dinge in die koerant verskyn het.

Die rede hoekom hierdie resensie (bondig en direk aangebied deur Riette Rust) my aandag getrek het, is omdat Van Heerden iemand is wat bloot deur uit die kas te kom ’n hervorming beleef het wat vir die NG-moderator wars is. Rust sê tereg dat mens òf ’n bewonderaar is van Van Heerden, òf nie. Ek is nogal – hy herinner my baie aan Deon Maas, wat ook nie huiwer om sy opinie te lug nie.

Wat is die plek van drie sulke boeke in die groter Suid-Afrikaanse opset? Ek lees in die naweek ’n stukkie statistiek raak: Daar is tans in SA meer swart landsburgers onder die ouderdom van vyf as wat daar wittes van alle ouderdomme saam is. Besluite wat vandag deur instansies soos die NG Kerk oor gays geneem word, gaan binne tien jaar irrelevant wees.

Maar boeke soos hierdie markeer die tydsgewrig. Sodat ons nie kan vergeet nie.

Profile photo of crito

by crito

Van nagwaak tot die sending

Februarie 7, 2018 in Uncategorized

’n Vakansie kan ook nie vir ewig duur nie. Terug in die Kaap, en dis nie meer die plek waaroor Sonja Herholdt so sielsverheffend gesing het nie. Al wat nog in my tuin leef, is die sementkabouters.

Boonop is die resensie wat my vandeesweek die meeste plesier gegee het, een oor ’n boek wat uit die Engels vertaal is. Ja, ek weet Crito Merk I het die wet neergelê en gesê dat net resensies van boeke wat oorspronklik in Afrikaans gepubliseer is hier aandag kry. Maar ek is ’n kind van die Zuma-era. Wette schmette.

Jean Meiring skryf vir Rapport oor Hartbreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting.Die skrywer van die boek is James-Brent Styan. Die vertaler bly anoniem. Miskien is sy identiteit bekend. Moontlik verswyf Meiring dit net uit rankune.

Wat wel duidelik is, is dat hier ’n lekker storie aan die gang is. Meiring is geïnspireer deur die boek. Luister na hierdie paragraaf:

“In sy nabyheid kry vroue reëlmatig hartkloppings, wat die goeie dokter dikwels noop om agter ’n diggetrekte deur sy doepa aan hulle toe te dien. As Barnard by die Italiaanse rolprentdiva Gina Lollobrigida ’n nagwaak hou, is dit oraloor rugbaar – ook in Suid-Afrika, waar sy vrou, Louwtjie, en hul kinders op hom wag.”

Selfs wanneer Meiring in ’n mineurtoon die kwinte begin blootlê, is daar leesplesier: “Die oudjoernalis James-Brent Styan had dus ’n ryke oorvloed edelmetale tot sy beskikking waaruit hy in sy smidswinkel iets werklik glimmends kon smee. Maar ’n biografie oor iemand soos Barnard sal altyd besonder uitdagend wees, veral in ’n tyd waarin die biografiegenre wegbeweeg van ophemeling tot iets veel meer ewewigtigs. Styan teken wel ruim kritiese aspekte aan. Tog, al beskik die eindproduk – as ’n mens jou oë op skrefies trek – oor deug, is dit in die geheel en op die keper beskou ’n beduidende teleurstelling.”

Daarna spel hy die boek se foute duidelik uit. Onvermydelik stuur hy af op ’n baie sterk veroordeling: “Dis klinkklaar dat Hartebreker holderstebolder die rakke moes haal. ’n Streng redakteur en noukeurige proefleser sou die ergste bloeding kon gekeer het.”

Jean Meiring het al resensies van hoë gehalte geskryf, meestal in positiewe trant, en oor boeke wat tot hom gespreek het. Hartbreker het op ’n ander manier tot hom gespreek, dermate dat hy van sy beste skryfwerk nog met hierdie bespreking gelewer het. Veral daardie slotsin: “Ons eie gevalle hartensgod verdien beter.”

Irna van Zyl spring in haar resensie van Johanna (’n roman deur Cas Wepener) weg met ’n bekentenis: “Ek wou nie van Johanna hou nie. Hoe kan ’n man – ’n teoloog, boonop jonk – hom in ’n heelwat ouer vrou se gevoelswêreld tuismaak – ’n gay vrou s’n daarby?” Maar sy veg denkend en dapper teen dié vooroordeel, want sy is verstandig. As mens ’n geslagskeidslyn wil trek oor die geldigheid van ’n skrywer om hom/haar in die lewe van ’n ander geslag in te verbeel, dan soek jy groot moeilikheid. Die wêreldletterkunde sou dan grotendeels ongeldig wees …

Van Zyl kom haar voordeel te bowe, of liewer, die boek dwing haar om daarvan af te sien. Goeie skryfwerk, substansie, resonansie met ander romans: “Ek moes uiteindelik elke vooroordeel begrawe. Johanna het my diep ontroer en by tye selfs in trane gehad. ’n Man mag maar in sy vrouekarakters se kop klim.”

Irene van Staden het haar nie dieselfde vraag as Irna van Zyl afgevra toe sy oor Hans du Plessis se Drie vroue en ’n meisie vir Litnet geskryf het nie.

Ek is oorgehaal deur Van Staden se betoog, maar op nommer 99 maak ek my groottoon teen ’n klip seer. Sy sê hierdie roman is “’n hartseer en swaar uitbeelding van ’n harde en genadelose wêreld.”

Hê? Swaar? Soos in “moeilik” of soos in “swaartillend”. Of het die resensent traag aan die lees gebly?

Sal ons ooit die antwoorde op al die vrae kry?

’n Resensie wat ’n ander vraag by my laat opdoem het, in die verbygaan, is Deborah Steinmair s’n oor Sê my, is julle twee susters? Haar besluit, dat dit “eenvoudig ’n lieflike klein boek” is, spruit een van daardie bondige, netjies geformuleerde besprekings waarvoor Steinmair bekend is. Sy skryf met geneëntheid oor dié verslag van twee voormalige Doppervrouens se ervarings in Suid-Afrika, en het my uiteindelik te staan gebring voor ’n vraag: Wat het geword van al die sendelinge in Suid-Afrika?

Mens kan ’n gedig daaroor skryf, nè?