Jy blaai in die argief vir 2017 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Jaareind

Desember 13, 2017 in Uncategorized

Dis somervakansie vir baie mense, en Crito gaan ook ’n ruk uitspan. Geen vakansie nie – eerder ’n tydjie in die hospitaal vir ’n klein prosedure om my PK-spiere te versterk. Aanstaande jaar is dit weer klaptyd.

Net twee bydraes oor oorspronklike Afrikaanse publikasies vandeesweek, maar Joan Hambidge s’n in Rapport Boeke handel oor ’n viertal nuwe digbundels. Seker gepas dat die jaar afgesluit word met ’n groot bydrae oor digbundels – is dit my verbeelding of het daar in 2017 meer bundels as in 2016 verskyn?

Crito is bly dat Carel Anthonissen se Vuurvas uiteindelik deur ’n opgewasse resensent bespreek word. Lina Spies se poging onlangs in ’n rubriek om korte mette van Anthonissen te maak, word hierdeur ongedaan gemaak. Hambidge se bespreking is nie uitvoerig nie; ondersteunend en begrypend wel.

Begrip is ook iets wat sy vir René Bohnen se Op die vingerpunte van die heelal toon. Sy bring na aanleiding van Amanda Lourens se Versindaba-bespreking ’n ander oorweging as die suiwer kritiese een na vore, naamlik Lourens se opmerking oor die hartklop van ’n bundel. Dit sal interessant wees om te sien wat die literatore daarvan maak, want só ’n benadering maak dit uiteindelik moontlik om groter erkenning te gee aan die lirieke van pop-liedjies.

Haar hantering van Cas Vos se vertaling van Dante Alighieri se Die Goddelike komedie is genoeg om mens aan te verkneukel. Hambidge het meer agting vir Vos as vertaler/verwerker as wat sy vir sy digkuns het. Katterigheid is soms baie lekker om te lees, maar Vos sal seker nie saamstem nie.

Haar bespreking van De Waal Venter se Oop sirkel is ook baie interessant. Sy gee Venter baie ruimte, beskryf sy plek in die literêre sfeer, dui aan wie sy tydgenote was, en uiteindelik kom daar ’n baie skerp oordeel in een sin. Ek vermoed sy sou die resensie heelwat korter kon aangebied het, maar haar benadering toon respek en deernis met Venter.

Riette Rust se resensie in Boeke24 van Francois Bloemhof se Dieretuin is voortreflik. Kort, genoeg inhoud-inligting sonder om die storie oor te vertel, ’n netjiese samevatting van haar oordeel, en dwarsdeur met genoeg waarskuwings ingebou oor die moontlikheid dat die boek se inhoud sensitiewe lesers mag ontstel. Kan ’n mens ’n beter getuigskrif vir ’n spanningsverhaal gee?