Profile photo of crito

by

Twee aspekte van ouderdom

November 28, 2017 in Uncategorized

Wanneer daar oor mense van gevorderde jare geskryf of gepraat word, is dit gewoonlik in gedempte, bedaarde en angstige toon. Praat ons van bejaardes of van ouer mense? Of senior burgers? Wil nie aanstoot gee nie … maar sê my, het hulle nog al hul varkies bymekaar?

Johan van Zyl, die nuwe redakteur van Rapport Boeke, het ’n baie vindingryke en waagmoedige stap  geneem toe hy ’n resensent moes kies vir Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor – hy het Annelize van der Ryst gevra. Sy is natuurlik beter bekend as Matrone in 7de Laan. Om dan te lees wat sy van hierdie boek dink, verleen ’n heeltemal ander dimensie aan die resensie as wat die geval sou wees as ’n jonger, minder bekende persoon dit geskryf het.

Van der Ryst se resensie neem al die knelpunte rondom die tema van bejaardesorg in ag, maar dit is ook duidelik dat sy die lees van die roman plesierig gevind het. Sy noem selfs die moontlikheid dat die boek ’n goeie rolprent sou kon word – solank sy nie die rol van die matrone hoef te speel nie.

Nou wonder Crito dadelik – is dit net omdat sy genoeg gehad het van daardie soort karakter, of is dit omdat die matrone in die verhaal nie ’n lekker mens is nie? Dis nie die soort boek wat Crito normaalweg lees nie, maar het ek ná daardie opmerking van haar ’n ander keuse?

Boeke24 het weer vir Schalk Schoombie, dramaturg, romanskrywer en oud-joernalis gevra om dieselfde boek te bespreek. By hom is daar nie die openbare persona wat in die geestesoog opdoem, soos by Van der Ryst se bespreking nie, maar tog kry hy dit reg om dieselfde nuuskierigheid aan te wakker.

Sy kyk is ’n bietjie meer afstandelik, ’n taksering van die genre en daarna ’n nader kyk op Hans steek die Rubicon oor as voorbeeld van die genre. Hoewel hy met ’n teoretiese opmerking wegspring, draai sy openingsparagraaf reeds jou aandag na die boek.

Nes Van der Ryst staan hy kortliks by die verhaal stil, en dan sy reaksie daarop. Schoombie sorg dat ander verwysingspunte die leser ook help om die roman binne ’n groter raam te plaas, met verwysings na Hennie Aucamp en PG du Plessis.

Wat Crito ook opgeval het, is dat nie een van die twee resensente ’n ophef daarvan gemaak het dat Van Rensburg met hierdie roman die moeilike sprong van misdaad na humor gemaak het nie; Van der Ryst verwys net in die verbygaan daarna. Die koerantleser kan sekerlik hieruit aflei dat die verandering sonder sukkel deurgevoer is – Van der Ryst se lewendige beskrywings en vrolike beskrywings val op.

Crito het doelbewus by Van Rensburg se roman begin, want die ligte, humoristiese hantering van die onderwerp van hoë ouderdom, en die twee knap resensies waarmee daarop gereageer is, maak dit makliker om te begryp hoekom Crito dink dat die afgelope naweek se Rapport Boeke en Maandag se boekeblaaie van die oggendkoerante die beste leesstof in baie maande opgelewer het.

Die resensies oor Elsa Joubert se Spertyd (deur Louise Viljoen in Rapport, en Jean Meiring in Boeke24) is van hoogstaande gehalte. As mens onthou hoe skouspelagtig die eerste van Joubert se outobiografiese werke, ’n Wonderlike geweld (2005) vir André Brink as resensent laat struikel het, dan besef jy watse moeilike opdrag die resenseer van ’n boek soos Spertyd moet wees.

Hoe neem ’n resensent bestek van ’n bestekopname?

Daar is graadverskille in Louise Viljoen en Jean Meiring se benaderings. Viljoen kyk met die oog van ’n literator, en sy noem dan veral die dinge wat daarby aansluit: Joubert se gedagtes oor haar taal, oor sommige van haar romans, oor haar eie aard en haar band met boeke.

Meiring enumereer meer van die hoofmomente in die werk, en hier moet ek noem dat Meiring se formulerings en taalkeuses die blote lees van die resensie ’n uitsonderlike genot gemaak het. (My gunsteling is “kielsog”, die woord wat hy gebruik in die plek van “vaarwater”.)

Die vreemde gevoel wat ek gekry het, was dat Viljoen en Meiring se resensies tesame ’n amper volle beeld gee van wat Spertyd behels – hoewel hulle op hul eie elk meer as voldoende reaksie op die outobiografiese werk is. Dit is sekerlik wat mens van boekresensies moet verwag: Dat ongeag hoeveel resensies daar van ’n werk verskyn, die leser altyd gelaat sal word met die gevoel dat die boek self soveel meer te bied het as al die resensies tesame.

Ek dink nie Viljoen en Meiring kon hul hoë agting vir Elsa Joubert nie op ’n beter manier oorgedra het nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.