Profile photo of crito

by

Vir die uitknip

November 7, 2017 in Uncategorized

Wat is ’n goeie resensie, wonder Crito. Is dit een wat jou twee dae ná die lees steeds laat nadink? Is dit een wat jou die volgende dag boekwinkels laat stormloop? Of is dit een wat jy uitknip en invou in die boek waaroor dit handel?

Bietjie van aldrie, seker, maar die derde een is sekerlik die resensie wat nog jare later sal gewig dra.

Crito sou van die afgelope week se resensies net Deborah Steinmair s’n oor Koms van die motman deur Chris Karsten (Rapport Boeke) uitknip vir liaseer in die boek. Al is dit nie haar beste poging nie. Eintlik maak sy mens effe vies, deur te verwys na Karsten se taalgebruik (“lumineus en keurig”), wat haar die woorde in haar mond wil laat rol. Maar dink jy dat sy voorbeelde daarvan gee?

En daardie inleidende paragraaf! Goeiste ons, Deborah! Laat my dink aan daai outydse fietse met masjiene. Die resensie kom so help-my-trap aan die gang. Maar as dit eers aan die gang is, weet mens waarheen sy koers kry: Karsten skryf ’n literêr onderlegde soort misdaadsfiksie.

Wanneer sy aldus op dreef gekom het, ontwikkel die resensie tot die vlak waaraan mens van Steinmair gewoond geraak het.  Haar argumentering is sterk en die inligting wat sy oor die verhaal gee, net genoeg.

Joan Hambidge se bespreking van Die onaantasbares, die nuwe roman deur Steve Hofmeyr (Boeke24), is nie minder interessant nie. Sy benader die roman uit alle hoeke. As jy die resensie gelees het, sal jy ’n baie goeie teoretiese grondslag hê vir die evaluering van misdaadromans.

Die probleem vir Crito is net dat Hambidge se aanpak mens die gevoel gee dat sy nie baie oor die boek self wil skryf nie. Daar is té veel intellektuele afstand, en té min betrokkenheid by of reaksie op die roman self.

Riette Rust se hantering van Hoë hakke met hoogwater, ’n “verhoudingsroman met ’n liefdeselement” deur Jacolet van den Berg (Boeke24) is daarteenoor baie meer direk in haar reaksie op die boek en sy inhoud. Sy balanseer kritiek met lof, en gee duidelike aanduidings dat die roman onder bespreking méér is as ’n gewone liefdesverhaal.

As jy van sulke boeke hou, is hierdie die soort resensie wat die leser boekwinkels toe laat draf.

Crito voel nogal ambivalent oor resensente van digbundels wat hul bespreking begin by die buiteblad van die bundel. Heilna du Plooy het al self naam gemaak as digter, en sal sekerlik weet dat die omslag van die publikasie die heel laaste gedagte was  wat by die digter opgekom het. Dit is dikwels deel van die publikasieproses, en nie van die kreatiewe proses waardeur die gedigte tot stand gekom het nie.

Maar soms kry die omslag tog reg om ’n deur oop te maak na die tematiese bestek van die bundel, en dit lyk my dit is presies wat die geval is met René Bohnen se Op die vingerpunte van die heelal (Boeke24). Du Plooy maak ’n baie interessante opmerking oor die omslag – maar lê dan geen verdere verband nie.

Die resensie is geskryf in ’n taamlik akademiese trant en sal sekerlik vir die digter die gevoel gee  dat die resensent haar werk behoorlik getakseer het.

In die laaste vier paragrawe van die resensie is die sterkste kritiese lading gekonsentreer. Die liefhebber van Afrikaanse digkuns sal hierdie paragrawe die beste kan benut; Crito kan die slotsin voorhou as een van daardie opsommings wat tegelyk die aandag vestig op die krag van die bundel én die beperkte waarderingskring.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.