Jy blaai in die argief vir 2017 November.

Profile photo of crito

by crito

Omslag

November 22, 2017 in Uncategorized

Francois Bekker is nie regter Bennie Griesel nie – maar dit kan ook afgesaag raak as dieselfde resensent altyd gebruik word om ’n skrywer soos Deon Meyer se boeke te resenseer. Daarom het Crito ietwat verlig en baie nuuskierig gelees hoe Francois Bekker vir Boeke24 kyk na Meyer se jongste, ’n novelle getiteld Die vrou in die blou mantel.

Bekker meet die roman netjies, sonder om té veel van die intrige te verklap. Miskien té veel oor die inhoud en te min oor die manier waarop Meyer die kompakte raamwerk benut.

Sy sterkste kritiek handel oor die omslag, ’n treffende foto van, lyk dit my, die Theewaterskloofdam in sy huidige toestand. Crito het simpatie met Bekker se siening dat dit weinig met die inhoud te make het, maar is dit werklik wesentlike kritiek?  Moes Bekker nie eerder gesê het dat die uitgewer ’n eienaardige bemarkingsstrategie volg nie?

Charl-Pierre Naudé se bespreking van Die Goddelike komedie deur Dante Alighieri, vertaal en verwerk deur Cas Vos is vir Crito van akademiese belang. Dit is interessant om te sien hoe Naudé sy taksering voed deur sy wyer kennis van die beroemde werk.

Wat Crito bybly van die resensie is die opmerking wat Naudé maak oor die wenslikheid van ’n register van topredigeerders, na aanleiding van die groot aantal druk- en redigeerfoute in die publikasie. Dit is goed dat daar in dié rigting gedink word.

Profile photo of crito

by crito

Slordig

November 15, 2017 in Uncategorized

Crito sit in die vreemde en sukkel om sin te maak uit die worpelinge van die internet. Ek lees Cas van Rensburg se resensie (vir Boeke24) van Koms van die motman, die nuwe roman van Chris Karsten, op die webwerf van Netwerk24. Die inleiding wil net nie vir my lekker werk nie. Dan maar na die e-koerant, en a-ha! Tussen die papierkoerant en die webwerf, as mens dit so kan stel, het die eerste paragraaf weggeval. Weliswaar ’n eenwoord-paragraaf, maar dis nie die punt nie.

Die punt is dat sulke dinge nie moet gebeur nie. Dis slordig. En irriterend. En as Crito in die vreemde sit, maak so iets hom nie regtig lus om die resensie verder te lees nie. Al is dit geskryf deur Cas van Rensburg.

Volgende aan die beurt is Joan Hambidge, wat vir Boeke24 skryf oor De Waal Venter se digbundel Oop sirkel. Soos gebruiklik verskyn die inligting oor die boek waaroor dit gaan heelbo: “Oop sirkel. De Waal Venter. NALEDI, R175.” En dan die eerste paragraaf van die resensie: “De Waal Venter se bundel Oop sirkel het onlangs by Naledi verskyn.”

Sloridge begin. Tweede paragraaf: “Vorige tekste is Kiem, Pols en Klawer (saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert).”

Crito kry die boodskap. Hambidge is nie deur die bundel geïnspireer om ’n behoorlike inleiding vir die resensie te prakseer nie. Gaan dan maar verby.

Jan-Jan Joubert skryf in Rapport Boeke oor Karel Schoeman se Skepelinge: Aanloop tot ’n roman. Begin met ’n vervorming van ’n gedig van Jan F.E. Celliers, en dan val hy behoorlik weg met “Enigeen wat, soos ek, meen Karel Schoeman is die beste skrywer wat Afrikaans nog voortgebring het, sal saamstem dat Skepelinge sy meesterskap bevestig.”

Wat?! Hoe nou gemaak as jy onder die geledere tel van hulle wat dink dat N.P. van Wyk Louw of Breyten Breytenbach is die grootste skrywer wat Afrikaans nog voortgebring het?

Dit was ’n slegte week vir inleidende paragrawe.

Profile photo of crito

by crito

Vir die uitknip

November 7, 2017 in Uncategorized

Wat is ’n goeie resensie, wonder Crito. Is dit een wat jou twee dae ná die lees steeds laat nadink? Is dit een wat jou die volgende dag boekwinkels laat stormloop? Of is dit een wat jy uitknip en invou in die boek waaroor dit handel?

Bietjie van aldrie, seker, maar die derde een is sekerlik die resensie wat nog jare later sal gewig dra.

Crito sou van die afgelope week se resensies net Deborah Steinmair s’n oor Koms van die motman deur Chris Karsten (Rapport Boeke) uitknip vir liaseer in die boek. Al is dit nie haar beste poging nie. Eintlik maak sy mens effe vies, deur te verwys na Karsten se taalgebruik (“lumineus en keurig”), wat haar die woorde in haar mond wil laat rol. Maar dink jy dat sy voorbeelde daarvan gee?

En daardie inleidende paragraaf! Goeiste ons, Deborah! Laat my dink aan daai outydse fietse met masjiene. Die resensie kom so help-my-trap aan die gang. Maar as dit eers aan die gang is, weet mens waarheen sy koers kry: Karsten skryf ’n literêr onderlegde soort misdaadsfiksie.

Wanneer sy aldus op dreef gekom het, ontwikkel die resensie tot die vlak waaraan mens van Steinmair gewoond geraak het.  Haar argumentering is sterk en die inligting wat sy oor die verhaal gee, net genoeg.

Joan Hambidge se bespreking van Die onaantasbares, die nuwe roman deur Steve Hofmeyr (Boeke24), is nie minder interessant nie. Sy benader die roman uit alle hoeke. As jy die resensie gelees het, sal jy ’n baie goeie teoretiese grondslag hê vir die evaluering van misdaadromans.

Die probleem vir Crito is net dat Hambidge se aanpak mens die gevoel gee dat sy nie baie oor die boek self wil skryf nie. Daar is té veel intellektuele afstand, en té min betrokkenheid by of reaksie op die roman self.

Riette Rust se hantering van Hoë hakke met hoogwater, ’n “verhoudingsroman met ’n liefdeselement” deur Jacolet van den Berg (Boeke24) is daarteenoor baie meer direk in haar reaksie op die boek en sy inhoud. Sy balanseer kritiek met lof, en gee duidelike aanduidings dat die roman onder bespreking méér is as ’n gewone liefdesverhaal.

As jy van sulke boeke hou, is hierdie die soort resensie wat die leser boekwinkels toe laat draf.

Crito voel nogal ambivalent oor resensente van digbundels wat hul bespreking begin by die buiteblad van die bundel. Heilna du Plooy het al self naam gemaak as digter, en sal sekerlik weet dat die omslag van die publikasie die heel laaste gedagte was  wat by die digter opgekom het. Dit is dikwels deel van die publikasieproses, en nie van die kreatiewe proses waardeur die gedigte tot stand gekom het nie.

Maar soms kry die omslag tog reg om ’n deur oop te maak na die tematiese bestek van die bundel, en dit lyk my dit is presies wat die geval is met René Bohnen se Op die vingerpunte van die heelal (Boeke24). Du Plooy maak ’n baie interessante opmerking oor die omslag – maar lê dan geen verdere verband nie.

Die resensie is geskryf in ’n taamlik akademiese trant en sal sekerlik vir die digter die gevoel gee  dat die resensent haar werk behoorlik getakseer het.

In die laaste vier paragrawe van die resensie is die sterkste kritiese lading gekonsentreer. Die liefhebber van Afrikaanse digkuns sal hierdie paragrawe die beste kan benut; Crito kan die slotsin voorhou as een van daardie opsommings wat tegelyk die aandag vestig op die krag van die bundel én die beperkte waarderingskring.

Profile photo of crito

by crito

In ‘n tyd van moord

November 1, 2017 in Uncategorized

’n Week soos hierdie, waarin die aandag op moord en doodslag is (én op Jacques Pauw se boek), is ’n groot toets vir enige resensent. Koerantlesers se aandag is versplinter. Gaan die resensie wat jy ’n ruk terug al geskryf het, voordat plaasmoorde die land ernstig omgekrap het, nóú vir mense iets te sê hê?

Moontlik is dit Crito se literêre voorkeure wat saamgespeel het, maar Frederick Botha se resensie vir Boeke24 van Hartlam (saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair) was die enigste een wat my volle aandag gehou het. Nie dat dit foutloos was nie. ’n Resensent wat liefdesverhale takseer post Fifty Shades behoort darem meer te sê oor die grein van die verhale as wat Botha gedoen het. Hoeveel onskuld en ongetemde passie bly daar in moderne Afrikaanse liefde oor?

Carien Grobler se bespreking (eweneens vir Boeke24) van Sielsiek, Carla van der Spuy en Henk Swanepoel se boek oor die psiges van Suid-Afrika se koelbloedigste kriminele, is ’n moedige poging. Dit gee leiding vir die koerantleser oor die inhoud van die boek, maar dit kon interessanter aangebied gewees het.

In gevalle soos  hierdie neem mens altyd ’n les uit Time-tydskrif se stylboek: Begin met een van die gevalle wat bespreek word, en gebruik dít om die boek te meet.

Jacques Myburgh se inligtingstuk oor die bekroonde jeugboekskrywer Derrick van der Walt se roman vir volwassenes, Tussen vriende (Boeke24) het ek bolangs gelees.

Desmond Painter se bespreking, die vdag antevore in Rapport, van Die dood en die sin van die lewe, deur Anton van Niekerk, het my wel-end-uit laat lees. Painter se eie voorkeure en belangstellings (duidelik die musiek van Bob Dylan en Nick Cave) gee vir hom ’n ongewone invalshoek. Tog is sy hantering van die materiaal gemaklik en maak hy Van Niekerk se boek ’n proposisie.

Net jammer dat die resensie moes verskyn in ’n tyd waarin mense ander aspekte van die dood in hul gedagted gehad het. Crito het so in die terugdeins gelees.