Profile photo of crito

by

Substansie

Oktober 19, 2017 in Uncategorized

Hierdie Crito gaan nie die fout maak om ’n resensie te skryf in plaas van ’n ontleding van resensies te maak nie. Ek het Gespreksgenoot, Heilna du Plooy se versameling briewe deur en aan Elize Botha, pas neergesit ná twee weke van groot leesgenot. Jean Meiring (Rapport Boeke) en Louise Viljoen (Boeke24) se resensies het ek gelees nadat ek Gespreksgenoot afgehandel het.

Laat ek onmiddellik sê dat Du Plooy kwalik op beter resensente kon gehoop het. Uit haar briewe blyk Botha iemand te gewees het met die gawe van groot diplomasie; sowel Meiring as Viljoen staan nie tru in hierdie opsig nie.

Meiring se resensie maak vir my ’n paar baie interessante punte. Hy begin met ’n heerlike inleiding: “Nes die donkie is ’n brief ’n wonderlike ding.” Hy gaan dan aan om te wys op die verdwyning van die ou handgeskrewe brief, en by implikasie die dissiplines van formulering van sinne voordat hulle moeisaam uitgeskryf word – die dinge waarvan vandag se leser in die e-pos era nie altyd bewus is nie.

Hy beklemtoon dus konteks, merk op dat in die loop van die boek ook die buitelyne van ’n lewensloop getrek word. Die punt wat hy daarna maak, is dat daar uit haar reaksies ’n “ryker en dieper beeld van Botha na vore kom as wat die geval sou gewees het as slegs haar stem gehoor is”.

Wat hy dan heel diplomaties verswyg, en ek steun hierdie besluit, is dat die omgekeerde ook dikwels skrikwekkend waar is. Hy verwys in die breë na die voyeuristiese blik wat die leser kry op vriendskappe en mense, maar gaan nie in op die fyner detail nie. Ek ís nuuskierig om te weet wat sy siening van Hennie Aucamp en Lina Spies se karakteronthullende briewe is, maar fatsoenlikheid dikteer dat dit ’n onderwerp vir ’n ander tyd en plek is.

Meiring teken aan die verskillende sfere wat deur die briewe aangesny word en waardeur Botha haar groot kennis, gesag en oorredingsvermoë laat geld het. Hy sien die neerslag van ’n lewende literêre lewe en tradisieveranderings raak, en verwys uiteindelik ook na die leemtes van die publikasie.

Louise Viljoen se resensie begin by die breë beginselbesluit wat Heilna du Plooy by die samestelling geneem het: Die briewe hou verband met die letterkunde en sluit nie persoonlike briewe in nie. Dit is moontlik een van die redes hoekom daar meer briewe aan haar opgeneem is as wat daar briewe van haar aan ander is; Viljoen vermeld wel dat heelwat persoonlike sake wel aan die beurt kom.

Viljoen skets die problematiek wat ontstaan wanneer briefwisselings gepubliseer word, en hoe dit Gespreksgenoot raak. Een van die redes vir my jarelange bewondering vir Viljoen as resensent lê in haar manier om midde-in ’n beskrywing van kenmerke, eienskappe en feite rakende ’n boek ’n sin of frase te gebruik wat jou tot stilstand ruk omdat dit ’n buidel van ’n klomp subtekste is. Hier is dit die oënskynlik onskadelike “… hierdie briewe [is] sowel ’n opvoeding as ’n vreugde.”

Die opmerking volg op die stelling dat Botha se korrespondensie met Audrey Blignault, Hennie Aucamp en Lina Spies die boeiendste is, waaruit Botha se emosionele intelligensie naas haar literêre intelligensie duidelik blyk.

Vervolgens volg Viljoen dieselfde strategie as Jean Meiring, naamlik om ook in die resensie aan die leser ’n idee te gee van welke sfere alles aangeraak word deur Botha se aktiwiteite, soos in die briewe gereflekteer. Die wek uiteraard ’n vraag: Hoekom skryf iemand nie ’n behoorlike biografie van hierdie literêre reus nie?

Ek is bly dat Viljoen wys op die probleme wat daar met die transkribering van die briewe ingesluip het. Baie mense sal ook die fout met die naam van Jean-Luc Godard raaksien – dit is werklik onvergeeflik in die era van Google.

Dit is nie elke week dat ’n mens twee resensies met soveel substansie te lese kry oor ’n belangrike publikasie nie. Dank aan die resensente en boekeredakteurs!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.