Profile photo of crito

by

Daardie bloemlesing

September 20, 2017 in Uncategorized

Crito se orgaan vir die metafisika is nie so goed ontwikkel nie. ’n Bloemlesing soos Cas Vos se Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte laat nie my asem jaag nie. ’n Resensie daaroor sal ongelees bly.  Maar nou is dit ook so dat hierdie bloemlesing die afgelope ruk nogal kritiek moes verduur uit verskeie oorde. Die reaksies het op Facebook en in blogs uitgekring. Crito kon dus nie sy natuurlike instink volg en Charl-Pierre Naudé se resensie op Boeke24 ignoreer nie.

Ek was verras om by hom te verneem dat daar twee voorgangers vir Vos se poging is – een deur M. Nienaber-Luitingh (Die braambos brand)  en die ander deur F.I.J. van Rensburg (Jubilate! Loofgedigte in Afrikaans).

Naudé steur hom nie aan die polemiek nie, en gee ’n besonder interessante uiteensetting van die hoedanighede van Vos se bloemlesing. Dis vir Crito veelseggend dat ek die hele resensie gelees het sonder om verveeld te raak.

Nêrens gee Naudé ’n aanduiding dat die polemiek hom bereik het nie, trouens, hy wend ’n baie beliste poging aan om aan te dui watse raamwerk die leser kan gebruik om die bloemlesing na waarde te kan skat.

In hierdie opsig skep Naudé vir die leser die moontlikheid om die bundel met ’n neutrale gemoed te benader, bewus van die plek van religie in die moderne samelewing. Dat hy dit ten besluite “’n baie mooi, prikkelende en eietydse publikasie” vind, vloei uit sy hele betoog.

Theunis Engelbrecht resenseer in Rapport ’n boek wat wel tot Crito se verbeelding spreek: Boereverneukers van Izak du Plessis. Engelbrecht gee ’n interessante oorsig van die skarmunkels oor wie Du Plessis skryf.

Sy aanpak is nie krities nie – dit is veel minder van ’n resensie as wat dit ‘n goedkeurende artikel is.

Ek vermoed Du Plessis sou opbouende kritiek waardeer het, sodat hy kon weet op watter punte hy kan verbeter wanneer hy sy volgende boek oor hierdie onderwerp skryf. Hopelik sal hy by daardie geleentheid ook die Suid-Afrikaanse Rugby-Unie onder die loep neem – ’n hele organisasie van boereverneukers wat die ganse land laat glo dat ons rugbyspelers nie tweederangs is nie.

Uit ’n tegniese oogpunt is Riette Rust se bespreking van Juliana Coetzer se Oorkant jou: ’n Verhaal uit die binnekamer (Boeke24) vir my veel meer geslaagd as Engelbrecht se skrywe.

Dit trek sommer met die eerste paragraaf jou aandag, ontwikkel ’n puntsgewyse blootlegging van die inhoud van die boek, en hoewel dit nie ’n sterk slot het nie, dink ek die opmerking “jy kan verander as jy regtig wil” sal deug as samevatting van dít wat die leser sal beleef by die lees van die boek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.