Profile photo of crito

by

Die ewige raaisel

September 6, 2017 in Uncategorized

Dis ’n ongemaklike gevoel van ironie wat mens ervaar wanneer jy Johann Rossouw se bespreking van Karel Schoeman se Slot van die dag en Afskeid van Europa lees (Boeke24).

Rossouw het op die oog af groot waardering vir Schoeman. Hy sien dinge in hierdie twee boeke raak wat die moeite werd is om van kennis te neem, en skryf dan ook daaroor in hierdie resensie.  Schoeman is, alles in ag genome, ’n reus onder Afrikaanse skrywers.

Tog kan ’n mens nie dié resensie lees sonder om bewus te word van die dinge wat Rossouw oordra sonder om dit in woorde neer te pen nie. Tussen die reëls, as ’t ware. En dit is dat Karel Schoeman waarskynlik nie ’n gawe mens was nie – ’n vereensaamde figuur wat nooit opgegaan het in sosiale verkeer nie.

En dan die ironie: Schoeman ag sy eie lewe belangrik genoeg om daaroor te skryf, maar hy self keer sy rug op die Afrikaanse gemeenskap wat hierdie boeke gaan lees. En die Nederlandse gemeenskap by wie hy homself skaar, sal waarskynlik nooit bewus genoeg van Schoeman word om te weet hoe geseënd hulle kan voel om Schoeman in hul geledere te kan tel nie.

Johann Rossouw verwys na die irriterende kontraste in Schoeman se lewe, veral na aanleiding van dinge wat Schoeman oor die Afrikaanse letterkunde en literatore sê: Dit doen afbreek aan die boek, en dit verdien nie ernstige aandag nie.

Dit is ’n belangrike ding om te sê, want daardeur gee Rossouw te kenne dat hy Schoeman nie kritiekloos lees nie. Teen die einde van die resensie sien mens dan ook dat hy nie vir lief neem met alles nie, en soek vir redes hoekom Schoeman hierdie twee boeke op ’n spesifieke wyse aangepak het. Hy soek verklarings vir Schoeman se gedrag, en redes vir sy skryfstrategië.

Hierin lê be moontlik die kern van Karel Schoeman se bekoring, en die rede hoekom ons sy boeke bly lees en resensies soos hierdie verslind: ons is betower deur die raaisel van ’n geniale skrywer wat nooit as mens volledig deel geword het van enige gemeenskap waarin hy hom bevind het nie.

Johann Rossouw werk met hierdie raaisel, en gelukkig is sy agting vir Schoeman onaangetas. Dit stel hom in staat om ’n redelike mate van objektiwiteit te handhaaf. Hy ontbloot die verwende kind in sy skemerjare, maar sê dit nooit nie.

Ná Jean Meiring se bespreking van Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo, het ek Frederick J. Botha se bespreking daarvan in Rapport Boeke met huiwering benader. Kon hy Meiring se geesdrif ewenaar?

Nee, maar hy kry iets anders reg. En daarmee bewys hy net weer dat dit die leserspubliek is wat die meeste baat by verskeie resensies van een boek.

Meiring se reaksie en mening is nie ongeldig nie, en Botha staan ook nie tru van Venter se boek nie, is trouens besonder positief; Crito sien wel in sommige van sy formulerings dinge raak waardeur hy ’n wyer kritiese afstand bewerkstellig.

Wat beteken dit byvoorbeeld as hy sê: Groen soos die hemel daarbo gaan nie vir Eben Venter nuwe Afrikaanse lesers wen nie? Jy moet dit saamlees met “aanhangers van Venter se skryfwerk sal egter nie teleurgestel word nie” asook met sy opmerking dat Venter nie behoorlik na waarde geskat word nie.

Kan dit wees dat Venter die plafon van moontlike lesers in Afrikaans bereik het; hy het ’n kring van lojaliste het, maar kans om sy leespubliek te laat groei, is skraal?

Botha sê dat oorsese lesers minder benepe sal wees oor Venter se beskrywings van gay seks – maar die implikasie van al hierdie dinge is dat dit jammer is dat die gehalte van Venter se skryfwerk nie na na behore hoog aangeslaan word nie.

As ons besef wat ons aan Venter het, in die breë, sou hy nie ’n “onderwaardeerde posisie in die Afrikaanse literatuur” gehad het nie. Sou hy nie net tot hoofsaaklik ’n gay leespubliek gespreek het nie.

Oor die gehalte van Venter se skryfwerk twyfel Crito nie. Jean Meiring het dit reeds bevestig. Boha beskryf die harde werklikheid.

1 antwoord op Die ewige raaisel

  1. Ek kan bevestig dat KS in die omgang oor die algemeen nie ‘n aangename mens was nie., Ek is einde 1980 as hoof van die SABiblioteek in Kaapstad aangstel. Om dat ek geweet het dat hy graag na Kaapstad wou gaan het ons hom ‘n pos aangebied en het hy in Junie 1981 as bibliotekaris by ons persooneel aangesluit. Tot 1998 het ek daarna byna daagliks met hom te doen gehad. Hy het daarop aangedring om altyd in Nederlands met my te kommunkeer. Hy het uitstekende werk vir vir die SAB gedoen en soos te vewagte was hy baie produktief. maar sy omgang met ander personeellede het dikwels tot veel onenigheid en vrywing gelei.
    Aan die anderkant was hy altyd bereid om sy enorme kennis met gebruikers van die biblioteek te deel. Meeste van hulle was vol lof oor hom in hierdie verband. Hy het ook dikwels groepe studente en ander belangstellendes te woord gestaan en die biblioteek het talle briewe van waardering hieroor ontvang.
    Na my aanstelling was ek ook ex-officio redakteur van die Kwartaalblad van die SABilioteek, destyds ‘n belangike tydskrif op bibliofiele en kultuurhistoriese terrein. Schoeman was daarna vir byna 15 jaar my assistent-redakteur en ook hier het hy uitstekende presteer. Hy het met my saangestem dat ons gereeld ook artikels in Afrikaans opneem, wat voorheen selde gebeur het. Hy het hy oor die jare tientalle uitstekende artikels bygedra, oor ‘n wye veld van onderwerpe, met as bron meestal die versamelings van die biblioteek.
    Helaas het ons verhouding vanaf omtrent 1995 ook skeef geloop. Dit het uiteindelik bygedra tot my vervroegde aftrede in 1998. ‘n Paar maande daarna het hy self weer na die Vrystaat treggekeer..

    Ja, ek bevestig: hy was ‘n uiters ambivalent persoonlikheid en ‘n vat vol tegenstrijdigheden. Sy miskenning van en gebrek aan belangstelling in sy Afrikaanse medeskrywers en hulle werk is deel van hierdie ambivalensie en bykans onverklaarbaar.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.