Profile photo of crito

by

Van Smuts tot Scholtz

Augustus 23, 2017 in Uncategorized

Nou goed, terug op Afrika-bodem. En die eerste resensie wat Crito lees, is een oor Jan Smuts: Van  boerseun tot wêreldverhoog (Rapport Boeke). Dié boek onder redaksie van Kobus du Pisani kom uit  ’n universiteitsomgewing wat voorheen een van die bastions van Afrikaner-nasionalisme was, Potchefstroom.

Daar is soveel subtekste en vreemde gewaarwordinge wat by mens opkom terwyl jy die resensie lees, dat ek dit aan lesers sal oorlaat om hulle self te gaan verkneukel daaroor.

Wat wel gesê moet word, is dat dit ’n boek is, te oordeel na die bespreking, wat getuig van groot geloof in die onderwerp. Dit kos ’n spesiale soort vasberadenheid om in hierdie dae van Black First Land First en Wit Monopolie-kapitaal ’n navorsingsprojek oor die groot Sap saam te stel. Nooit weer sal Crito die term Dopper-hemel ydelik gebruik nie.

Presies hoeveel verander het sedert een van PU vir CHO se beroemdste allumni op 2 Februarie 1990 die groot ommekeer aangekondig het, besef ’n mens as jy Chris Burgess se resensie van hierdie boek lees en jouself afvra of enigiemand tussen 1948 en 1990 dit ooit sou gewaag het om aldaar ’n navorsingsprojek van hierdie omvang aan te pak oor Jan Smuts.

Wat my veral posiitief stem van Burgess se bespreking, is dat hy nie skroom  nie om aan te dui dat Smuts ’n sleutelrol in ons geskiedenis gespeel het, en sy internasionale aansien verdien het. Die maklike uitweg sou wees om vir lief te neem met die modieuse opvatting dat ons geskiedenis eintlik in 1974 begin.

Jan Taljaard skryf vir Rapport Boeke oor Kleinboer se Hierdie huis. Soveel goeie dinge is al oor hierdie boek geskryf, weke gelede. Wat kan Taljaard skryf wat nuut is? Dit is sekerlik ook die vraag waarmee hy self geworstel het.

Die antwoord wat hy uiteindelik gevind het, is vir Crito veelseggend. Taljaard het alles oorweeg en uiteindelik besluit “Kleinboer se ongelooflike vermoë om die een perfekte Afrikaanse sin na die ander perfekte Afrikaanse sin op papier neer te pen wat van Hierdie huis ’n besondere roman maak.”

’n Mens hoef eintlik nie eens verder te lees aan die resensie nie. Taljaard het die een aaspek van die roman geïdentifiseer wat só belangrik is dat Crito dadelik die boek sal koop. As ’n resensent dit van enige boek sê, sit Crito regop. As Jan Taljaard, wat koerantlesers as woordsmid ken en hoog ag, dit aldus beskryf, is dit die beste stempel van goedkeuring wat ’n boek kan kry.

Abel Esterhuyse se bespreking van Leopold Scholtz se Ratels aan die Lomba (ook Rapport Boeke) het Crito in meeste opsigte geboei. Dit is nou as mens sy flou aanloop ignoreer – kan die akademici nooit leer dat koerantlesers se aandag geboei word deur sterk inleidings nie? Wie wil nou werklik ’n resensie lees wat begin met ’n opmerking soos “Leopold Scholtz het al verskeie boeke en akademiese artikels oor Suid-Afrika se militêre betrokkenheid in Namibië en Angola die lig laat sien”? Hy kon eerder sy slot aangepas het vir ’n sterk inleidende paragraaf: “Scholtz slaag uitmuntend daarin om die gebeure waaraan die Charlie-Eskadron in Oktober 1987 blootgestel was, te kontekstualiseer en te beskryf. Sy werklike bydrae is egter in die menslike element van oorlog wat belig word – die rou emosies en harde individuele werklikhede waarmee soldate gekonfronteer word.”

Die resensie self is deeglik in sy omvattendheid – maar ek mis een stukkie inligting. Dít is of Scholtz enigsins die sluier lig oor die beriggewing van die koerant waaraan hy destyds verbonde was, Die Burger, oor die menslike sy van die grensoorlog, en of Scholtz dit goed gevind het.

Daar was ook resensies oor ’n digbundel van Corné Coetzee en Dan Snyman se jongste, maar later meer daaroor.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.