Profile photo of crito

by

Die mens agter die boek

Augustus 2, 2017 in Uncategorized

Al reisende probeer Crito tred hou met Afrikaanse resensies. Hier langs die Seine is dit eerder die lang, eensame skaduwees wat boei as die webblaaie wat wisselende hotspots my help om op die tablet oop te blaai.

Dan kom daar ’n resensie verby soos Koos Kombuis s’n van Kleinboer se Hierdie huis, en Crito se hart verlang met ’n punt na René Wellek en Austin Warren en al die snare van die New Criticism. Vader sy gedank die semiote en pomo’s het ons van hulle verlos, dink ek altyd – totdat ’n resensie soos hierdie aankom.

Kombuis se resensie verskil heelwat van dié van Johann Rossouw en Riaan Grobler, maar is ook positief ingestel jeens die roman. Kombuis het ’n baie kenmerkende styl – sal eintlik ’n podcast hiervan waardeer, gelees deur Kombuis self in daai pragtige, verleidelik onskuldige stem van hom – en hy benader die roman in vrede en vriendskap.

Vriendskap is natuurlik die sleutel. Hy ken die skrywer goed genoeg om sy vorige twee romans te gelees het en te besef het dat die narratiewe kurwe ’n draai moet maak na ’n afsluitingspunt. Hierdie huis lewer vir hom verrassings, vervul sy verwagtings nie volledig nie (ten goede, bygesê, want Kleinboer ken die waarde van verwagtinge dwarsboom) en tog besef hy die sluiting is goed.

Sy kritiese gedagtegang verlei hom na die lewe van die skrywer self. Toegegee, Kleinboer se drie romans is outobiografies en daarom is daar ’n mate van regverdiging vir dié benadering. Wat hy oor die roman se konstruksie en komponente sê, is besonder interessant om te weet.

Die vraag kan wel gevra word of Kleinboer nie in sy skryfproses die outobiografiese feite oorgehewel het na die sfeer van fiksie nie. Die seleksie van inligting geskied toeg om ’n breër ideë-konstruk te skep. ’n Mens hoef maar net Rossouw se analise te lees om te besef hoe substansieel daardie ideë-konstruk is.

Neil Cochrane skryf oor S.J. Naudé se Die derde spoel. Ek kon nie op die tablet bepaal of dit by Boeke24 of Rapport Boeke verskyn het nie, want Netwerk24 se e-koerant-funksie werk nie op die tablet nie. Maar mens kan danksy die webwerf aflei dit was in ’n koerant, wat die opvallende akademiese aanpak ietwat steurend sou maak. Maar op die tablet steur dit nie, trouens, Crito het dit met groot aandag gelees, en tesame met Dewald Koen se bespreking van hierdie boek meen ek dat Naudé baie tevrede kan voel.

Wat Cochrane betref, onthou Crito dat daar al in die verlede verwys is na sy akademiese benadering. Hierdie keer egter kan mens met die uitsondering van ’n taamlike dor inleidende paragraaf, nie fout vind met die resensie nie. Ek sal selfs sover gaan as die resensie voor te hou van presies hóé deeglik ’n resensent binne ’n klein bestek kan wees. Die kritiek wat hy uitspreek, sal sekerlik met erns ontvang word deur die skrywer self.

Dan, ten slotte, blyk Cochrane se eie woordvernuf baie duidelik wanneer hy ’n slotparagraaf formuleer wat vir my ’n skitterende voorbeeld is van hóé goed ’n resensent alles kan saamtrek in ’n sterk evaluering. Daarvoor verdien Cochrane alle lof.

Ander resensies waaraan ek met waardering gelees het, is Jonathan Amid s’n oor Madelein Rust se Moordhuis en Dewald Koen s’n oor Rooi haring van Schalk Schoombie. Dit is interessant dat nie alleen die getal Afrikaanse speurboeke jaarlike toeneem nie, maar ook val dit op dat die resesente wat dié deel van die gepubliseerde lektuur ernstig opneem en onthullend daaroor skryf, ’n gevestigde teenwoordigheid op Afrikaanse boekeblaaie word.

Tot sover dan. My koffie raak koud.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.