Profile photo of crito

by

Rykdom

Julie 19, 2017 in Uncategorized

LitNet het die afgelope week gesorg vir ’n “embarrassment of riches” op hul resensie-uithoekie. Die soort oorvloed wat Crito ’n paar vakansiedae gekos het. Gewoond aan die lengte van resensies soos deur Boeke24 en Rapport Boeke op die mensdom losgelaat word, selde meer as ’n duisend woorde, het daar skielik ’n stroom uitstekende langer resensies oor die groot publikasies van die oomblik op LitNet verskyn.

Die belangrikste daarvan is sekerlik ook die omvangrykste. Johan Rossouw se LitNet Akademies-resensie-essay oor Kleinboer se jongste roman, Hierdie huis.

Rossouw gebruik die ruimte tot sy beskikking en lewer ’n bespreking wat ongetwyfeld in die jare wat kom beskou sal word as dié beginpunt vir die kritiese analise van nie alleen hierdie roman nie, maar ook van Kleinboer se eerste drie romans.

Rossouw werk baie deeglik. Sekerlik het die essay ’n akademiese inslag wat dit swaartillend sou maak op ’n koerantbladsy. Maar hier, binne die LitNet-konteks, is Rossouw se aanslag perfek. Hy loop aan vanaf Kleinboer se eerste publikasie, en teen die tyd dat mens by Hierdie huis se analise kom, weet jy alles wat nodig is om Rossouw se bespreking van Hierdie huis na waarde te kan skat.

Crito het nie veel sinnigheid aan die illustrasies wat by die resensie geplaas is nie. Nick Cave en Ivan Vladislavic is gewoon verwysingspunte, maar nie noodsaaklik vir die begryp van Hierdie huis nie.

Maar in sy geheel is dit ’n bespreking wat eervolle vermelding verdien in enige taksering van die huidige stand van Afrikaanse literêre kritiek.

(Crito moet ook byvoeg dat ek dadelik met meegevoel gevul was vir Riaan Grobler, wat dieselfde boek vir Boeke24 geresenseer het, en wie se resensie verskyn het enkele dae ná Rossouw s’n die kuberruim binnegevaar het. Grobler het, gegee die koerant-konteks en die ruimtebeperkings wat hy had, self besonder goed gevaar. Sy analise is knap, en hy bring ’n element na vore wat Rossouw glad nie het nie. Dit is naamlik die leser, Grobler, se emosionele reaksie op dit wat hy gelees het.)

Terug na LitNet.

Een van die hardebaarde van die Afrikaanse literêre toneel, Hennie van Coller, skryf oor Die wêreld van Charlie Oeng, deur Etienne van Heerden. Uiteraard het dit nie dieselfde omvang as Rossouw se bespreking van Hierdie huis nie, maar mens het die gevoel dat hierdie roman ook sal kan baat by die soort hantering wat ’n literator aan ’n roman kan gee binne die konteks van ’n LitNet Akademies-resensie-essay.

Van Coller skryf in redelike detail oor baie aspekte van Van Heerden se roman. Crito het Van Coller se hantering daarvan veel nuttiger gevind as dit wat reeds in koerantresensies oor die boek verskyn het – en daardie resensies was nie liggewig-werk nie.

Daar is tekens dat hy nie heeltemal oorrompel is deur die roman nie, maar uiteindelik gee hy tog toe dat Van Heerden met Die wêreld van Charlie Oeng weer die peil van sy beste werk bereik.

Agterna voorsien hy die niksvermoedende leser van ’n glossarium van terme wat hy graag vir ons wil verhelder. Crito glo nie dit is nodig nie – die soort leser wat in hierdie besprekings belang stel, sal dié dinge nie vreemd vind nie. Wat is die woord wat Ernst Lindenberg vir sulke dinge gebruik het? Skoolvossigheid. Vir Crito se gevoel is Van Coller se opmerkings oor taalfoute in Die wêreld van Charlie Oeng ook verwant daaraan.

Ten laaste Dewald Koen se resensie oor Marita van der Vyver se Misverstand. Crito het al resensies van Van der Vyver se boeke sien kom en gaan. Sy het baie gely onder die vitterigheid van resensente wat hoge letterkunde verwag en voel daar is nie genoeg daarvan nie, asook resensente wat verstrooiingslektuur verwag het en voel die onderbou is té literêr of ernstig.

Koen besweer in baie opsigte hierdie wanbalans deur Van der Vyver se skrywerskap ernstig te benader, die humor raak te sien, die slim afsplitsings, en die ernstige tematiek te aanvaar.

Sy positiewe taksering (dat Misverstand een van die drie beste romans is wat Van der Vyver geskryf het), en uiteindelike samevatting van die inhoud het ’n ander aspek na vore gebring wat ’n mens nie altyd van alle resensies opval nie: Hierdie resensent het waaragtig in die boek en skrywer belang gestel.

1 antwoord op Rykdom

  1. Hete jy kan kwaai wees, maar ek like dit sterk as jy interessante woorde gebruik. Skoolvossigheid. Wonderlik, dankie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.