Profile photo of crito

by

So reguit as kan kom

Julie 12, 2017 in Uncategorized

Na maande van redelik voorspelbare resensies, kom daar skielik ‘n paar wat nadere ondersoek verdien. Die belangrikste is sekerlik Tom Gouws se bespreking van Ruan Fourie se digbundel ‘n Ope brief aan Dorian Gray.

Wat hierdie resensie belangrik maak, is nie die hoeveelheid aandag wat Gouws aan die inhoud van die bundel afstaan nie. Hy hanteer dié in die bestek van een sin:

“Die tyd en geduld ontbreek my om oor die menigvuldige mankemente van die bundel te begin uitwei: die skrynende gebrek aan die mag van die metafoor, wat die teks­te so terloops en studentikoos praterig en triviaal maak; ’n verliteratuurdheid wat die eie stem totaal verswelg; onoortuigende teenkonvensietruuks; gebrekkige versifikasie, en veel, veel meer.”

Wat wel vir Crito van die uiterste belang is, is Gouws se groter argument. Iemand moet, soos prof. A.P. Grové vanouds, brutaal eerlik wees met jong digters, sou die gedigte dit noodsaaklik maak.

Hy verduidelik presies wie almal dit ten opsigte van Ruan Fourie kon gewees het: professore, uitgewer, keurders, redigeerders.

Die manier waarop Gouws sy argument opstel, en die gebruik van ‘n wonderlike anekdote oor genoemde Grové, lig die hele resensie na ‘n volgende vlak. Hy resenseer in wese die bedryf, en die pligte van uitgewers.

Daarom ook is die opskrif by die resensie so verdoemend: “Digter nie teen homself beskerm”. Dit gaan nie om Ruan Fourie en sy brandende begeerte om sy verse aan die groot klok te hang nie. Dit gaan oor al die mense wat die verse moes gelees het en aan die digter moes verduidelik het dat die verse nog nie gereed is vir publikasie nie.

Is daar ‘n kans dat Gouws die pot misgesit het? Ander resensies, in blogs en elders, laat my vermoed dat hy in die kol is. Hy is net die enigste wat besluit het om nie doekies om te draai nie.

Etienne van Heerden se nuwe roman, Die wêreld van Charlie Oeng, het pas twee groot resensies uitgelok: Willie Burger s’n in Boeke24, en Frederick J. Botha s’n in Rapport Boeke.

Albei allemintige resensies wat probeer om sowel verhaal as tematiese onderbou vir die koerantleser toeganklik en verstaanbaar te maak. Die feit dat albei hierdie benadering gekies het, laat mens dadelik besef dat die boek nie deur ’n luttele resensie getem kan word nie. Crito onthou nog tye toe resensente sommer vroeg al tekens gegee het dat die boek groter is as wat ’n enkele bespreking kan vasvang, Destyds het hulle graag gesê die resensie is net ’n voorlopige rapport of iets soortgelyks.

In effek is dit wat Burger en Botha hier doen. Botha waag dit nog met ’n baie besliste evaluasie, “grootopgesette en meesleurende roman waarmee Van Heerden voortbou op bekende temas uit sy oeuvre en bewys waarom hy een van die bedrewenste prosaïste in Afrikaans is.”

Burger se reaksie is ook baie reguit en indringend, maar sy evalusie is in enkele formulering ingebed. Die lees van Die wêreld van Charlie Oeng het ’n transformerende effek, skryf Bruger.

Crito sien juis een leser het op Netwerk24 se webblad vir Burger aangevat met die opmerking dat hy steeds nie weet of dit ’n lekker boek is om te lees nie.

Maar Burger sê dan hy is getransformeer deur die roman. Kan ’n mens groter lof aan ’n roman bring?

Albei resensies is aanbevelenswaardig. Ek vermoed al resensente sou dubbel die ruimte waardeer het, maar vir voorlopige beoordelings is albei resensies heeltemal aanvaarbaar.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.